Die geskiedenis van Afrikaanse radio – mylpale en prestasies


Die wêreld lyk en klink deesdae beduidend anders as in 1937, toe Afrikaanse radio onstaan het. Tóé was kommunikasiemedia beperk. Die koms van radio in Afrikaans het luisteraars se interaksie met die wêreld verander. Nou is die keuse van media wat inlig, vermaak, kwaad maak, bly maak en bemagtig sonder grense.

Maar radio… dié staan nog sterk te midde van alle veranderinge, veral Afrikaanse radio met seker dié lojaalste luisteraars.

Jy hoef egter nie meer soos in die vroeër jare voor die transistor te sit nie, jy kan rondbeweeg, letterlik die wêreld vol en RSG luister op jou radio, op jou selfoon, op die rekenaar, op toepassings, op die TV, potgooi en stroming. Jy kan ook RSG twiet, op facebook en instagram sit of potgooie aflaai en bêre vir wanneer jy tyd het om behoorlik te luister na van jou gunsteling inhoud.

Maar terug na die nimlike transistor en 1937 waar Afrikaanse radio begin het. Verskeie klein en private uitsaaiers het reeds vanaf Julie 1924 in Kaapstad, Durban en Johannesburg in Engels en Afrikaans uitgesaai. Dié klein stasies het egter geldelik noustrop getrek en in 1927 het ene IW Schlesinger almal in die African Broadcasting Company saamgesnoer. Hy was Afrikaans besonder goedgesind en Afrikaanse programme is toe reeds saans uitgesaai.

Anna Neethling-Pohl

CM van den Heever

Groot name in die Afrikaanse leefwêreld, onder wie ME Rothman, Anna Neethling-Pohl en WA de Klerk het toenemend oor die radio opgetree en Afrikaanse skrywers soos CM van den Heever, Eitemal en Boerneef het spesiaal vir dié medium begin skryf.

Op 1 Augustus 1936 het die SAUK, wat die African Broadcasting Services oorgeneem het, begin uitsaai met ‘n diens in Engels.

Net meer as ‘n jaar later, op 27 Oktober 1937 is die Afrikaanse Diens van die SAUK bekendgestel.

In dié tyd het die oorlogswolke in Europa begin saampak en Suid-Afrika het nie onaangeraak gebly deur die politieke woelinge nie.

Die SAUK was gedurende die oorlog, van 1939 tot 1945, uiters versigtig oor wat uitgesaai is en versoekprogramme is ondermeer gestaak omdat die gevaar bestaan het dat gekodeerde boodskappe aan die vyand kon deurglip! Die SAUK was egter ook ‘n baanbreker tydens die oorlog, aangesien hy een van die eerste radiodienste was wat met ‘n mobiele eenheid nuus van die oorlogsfront uitgesaai het.

Nét ná die oorlog, op 24 Oktober 1945, het die Afrikaanse Diens met ‘n versoekprogram “U eie keuse” begin, wat vandag nog uitgesaai word en die oudste program op Suid-Afrikaanse radio is.

Op 1 Januarie 1986 word die Afrikaanse en Engelse dienste vervang met twee nuwe dienste Radio Suid-Afrika en Radio South Africa. In dié tyd word die eerste advertensies ook tot talle luisteraars se ontsteltenis, op Afrikaanse radio uitgesaai.

Vandag lewer advertensies op RSG ‘n beduidende bydrae tot die SAUK se voortbestaan.

Die laaste deel van die 20ste eeu word gekenmerk deur verstommende ontwikkelings op die gebied van die tegnologie en in 1992 verander die stasie se naam na Afrikaans Stereo om die veranderde uitsaaiwyse te weerspieël.

Die trefreël “radiosondergrense” kry nou ook vastrapplek en in Oktober 1996 begin Afrikaans Stereo uitsaai onder die naam “radiosondergrense”, kortweg RSG, ná ‘n herstrukturering van die SAUK se radiodienste.

Die tegnologie het vir Afrikaanse radio, RSG, verdere grensloosheid gebring.  Luisteraars kan enige plek in die wêreld wees en luister.  Afrikaanse radio bied steeds vir skrywers en musici ‘n uitstalvenster vir hulle talent en hulle werk en bevorder so steeds die groeiende ontwikkeling van Afrikaanse kuns, wetenskap en kultuur.

Lank, lank gelede het iemand gesê radio is die teater van die verbeelding.  RSG verseker ‘n totale ervaring in Afrikaans en sonder grense!

So paar interessante feite oor die geskiedenis van Afrikaanse radio:

  • Die eerste radio uitsendings in Afrikaans het reeds so vroeg as 1924 gebeur met die uitsaai van markverslae gemik op boere. Die inligting was slegs toeganklik in daardie jare tot gehore in die Johannesburg omgewing.
  • Een van die oudste radio uitsendings in Afrikaans uit die Kaap was op kinders gerig met programme soos KINDERUUR en LENTEPRAATJIES. Dit was in die jare 20 van die vorige eeu.
  • Gedurende die eerste jare van radio uitsaai in Suid-Afrika is die luggolwe uit verskillende streke deur Engels oorheers, behalwe vir die voorlees van gedigte, en lesse om Afrikaans te praat.
  • Philip Burger was seker een van die eerste twee-talige aanbieders op SA Radio. Die nuusbulletins was hoofsaaklik in Engels geskryf en hy moes letterlik op lug n Afrikaanse weergawe saamstel. Hy het in ‘n geskrif genoem dat hy die uitdaging later heel gemaklik ervaar het.
  • Nuusberigte is destyds, in die beginjare van uitsaai in Suid-Afrika, uit inligting wat deur Reuters verskaf is, saamgestel. Die Afrikaanse bulletins moes direk op lug vertaal word – eintlik dus, getolk word.
  • Boerneef

    Die digter, Boerneef was destyds ook by radio uitsendings betrokke. Hy het daar onder sy eie naam, IW van der Merwe, diens gedoen. Boerneef en die latere regter Kowie Marais was op hulle dag nogal geliefd by die luisteraars. Marais het veral gewildheid verwerf met sy spookstories.

  • In die beginjare van radio is alles regstreeks aangebied. Bekende programme op die B diens destyds, soos DIE MIELIEBLAARKLUB, moes sonder fout of flater aangebied word.
  • Daar word vertel dat die Afrikaanse diens destyds soggens om kwart voor 7 geopen het met ‘n stel liggaamsoefeninge, gevolg deur die 7-uur nuus.
  • Een van die eerste groot buite-uitsendings in Afrikaans was die simboliese Ossewatrek van 1938. Al was die uitsendings tegnies nie baie goed nie, het dit groot byval by luisteraars gevind. Die bekende omroeper van destyds, Pieter de Waal was die anker aanbieder en baie meen sy bydrae het ook gemaak dat die uitsending een van die grootstes was in daardie jare.
  • Gedurende die Tweede Wêreldoorlogjare is verskeie programme op die B diens, die Afrikaanse diens van die SAUK, programme soos UIT EIE KRAG, uitgesaai wat oor die konflik in Europa en elders verslag gedoen het. Die aanbieder van UIT EIE KRAG was Gideon Roos wat later direkteur-generaal van die SAUK sou word.
  • Dr Gideon Roos

  • Een van die gewilde programme tydens die Tweede Wêreldoorlog op die Afrikaanse diens van die SABC was SOLDATE KONSERTE. ‘n Verskeidenheid musiek was in die program voorgespeel.
  • Die oudste program op Suid-Afrikaanse radio tot op hede, is U EIE KEUSE wat vir die eerste keer op 24 Oktober 1945 uitgesaai is. Gedurende die oorlogjare is Duitse musiek verbied op die luggolwe van die SAUK maar een van die eerste snitte van Duitse musiek wat weer op lug gehoor kon word, was in die einste U EIE KEUSE: SCHENK MANN SICH ROSEN.

  • Die uitsaai van krieket in Afrikaans strek baie jare ver. Dana Niehaus was die eerste krieketkommentator wat die spel in Afrikaans regstreeks uitgesaai het. Die eerste wedstryd wat uitgesaai was, was tydens ‘n toer van Suid-Afrika se span in 1947 na Brittanje.
  • Esmé Euvrard

    Planne is in 1949 beraam om n kommersiële radiodiens in Suid- Afrika te begin. Die antwoord was Springbok Radio en bekende Afrikaanse radiostemme het gehelp om die diens in 1950 op die been te kry, soos Pierre Louw en Con Lamprecht wat gehelp het met die bestuur van sake. Alhoewel die destydse Springbok Radio hoofsaaklik in Engels uitgesaai het, was daar heelwat inhoud in Afrikaans. Dit was veral die vervolgverhale wat groot byval gevind het. Dit was ook die eerste tree van borgskappe waar adverteerders rondom gewilde programme begin adverteer het. Die Afrikaanse vervolgverhale was een so ‘n genre wat heelwat inkomste gegenereer het. Springbok radio het op 1 Mei 1950 begin uitsaai. Dit is daardie oggend geopen met die die klanke van VAT JOU GOED EN TREK FERREIRA, van Con Lamprecht en dit het later ook die kenwysie van die stasie geword.

  • Alhoewel n groot deel van die Afrikaanssprekende bevolking in die land bruin mense was en steeds is, was die stemme van aanbieders eers baie jare later vir die eerste keer op lug gehoor. Een van die baanbrekers op die gebied was Tannie Maud Balie. Sy het kinderprogramme aangebied en was baie gewild onder die bruin gehoor.
  • Een van die programme wat destyds uitsluitlik op bruinmense gefokus het, was die Protea program. Dit het later ook as Proteaklub bekendgestaan. Onderhoude met bekendes uit die bruin gemeeenskap, soos die digter, PJ Philander is daar gehoor.
  • Mohammed Shaikh was die eerste bruin stasiebestuurder van die Afrikaanse diens by die SAUK. Hy was voorheen een van die span omroepers wat in Kaapstad gestasioneer was.
  • Mimi Coertse

    ‘n Naam wat baie bekend was in musiekkringe destyds, dr Anton Hartman, het op ‘n stadium as hoof van die diskoteek van die SAUK diens gedoen. Hy het ook as dirigent van die SAUK se orkes opgetree wat heelwat opnames van plaaslike komponiste se werke gemaak het en ook saam met voorste kunstenaars soos Mimi Coertse opgetree het.

  • Die geliefde skrywer en joernalis, Audrey Blignaut het op ‘n stadium ook vir die Afrikaanse diens van die SAUK gewerk. Sy was een van die eerste aanbieders van Vrouerubriek.

    Audrey Blignault

  • Roelf Jacobs was seker een van die skeppendste omroepers by die Afrikaanse diens van die SAUK. Hy het as aanbieder op lug diens gedoen, dramas opgevoer en die geliefde OTTERJASIE geskep en daarin gespeel. Roelf se dogter, Renske Jacobs is al 20 jaar betrokke by RSG as omroeper, programmaker en dramaregisseur.
  • Verna Vels is sinoniem met die LIEWE HEKSIE-reeks op die Afrikaanse radiodiens. Hierdie kinderprogramreeks met sy nimlike Livinia, die vriendelike heksie met haar Kaatjie, Blommie, die kabouter en ook Koning Rosedoring, het in baie luisteraars, oud en jonk se harte gekruip. Dit het later op TV en in talle boeke en op cd’s voortgeleef.

    Verna Vels

  • SKOTE PETOORS was een van die gewilde radioprogramme op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK. Die vermaaklikheidsprogram het gespog met gaste soos Madeleine van Biljon en andere en Cobus Robinson het met sy spitsvondighede geskitter tot die vermaak van ‘n gehoor voor wie die program aangebied is.
  • Leon Schuster

    Die rolprentmaker en poetsbakker, Leon Schuster het sy loopbaan begin as ‘n omroeper by die Afrikaanse Diens van die SAUK. Hy het soos talle, nuus gelees en aankondigings van programme gedoen. Maar hy kon darem sy passsie vir die komiese uitleef met sy VRYPOSTIGE MIKROFOON waarna luisteraars gereeld uitgesien het.

  • ‘n Spotprent van Fanus Rautenbach

    Daar was talle omroepers en programmakers wat legendes geword het met hulle bydrae tot Afrikaanse radio. Een so ‘n figuur, is Fanus Rautenbach. Hy het FLINK UIT DIE VERE vroegoggend aangebied. Hy het allerlei fiktiewe konsepte en figure geskep, soos die President van die Republiek van Flinkveria en die sjarmante speurder, Staal Burger.

  • Robert Young was een van die eerste dramaregisseurs by die Afrikaanse Diens wat vollegte dramas regstreeks voor ‘n gehoor opgevoer het. Hy het dit RADIOTEATER genoem. Alhoewel die uitdaging van regstreekse uitsendings al voorheen by vervolgverhale beproef is, was dit vir die eerste keer die geval met ‘n vollengte werk wat tot 90 minute kon duur.

    Robert Young

  • Een van die programme wat vanuit die buiteland uitgesaai was, was UITSPAN OP DIE HOLLANDSE WERF. Die program is in samewerking met die Nederlandse Wêreldomroep gedoen en ‘n lid van die Afrikaanse Diens het gereeld diens gedoen in Hilversum, waar die hoofkwartier van die Nederlandse diens detyds gesetel was.