Luister weer: Die geskiedenis van die Royal Skou in KZN


Luister op 20 Julie net na die nuus om 20:00 na die dokumentêr oor die Royal Skou in KZN.

Derrich Gardner kyk terug na die begindae van die skou, hoe die naam “Royal” deur Engeland se Koning Edward VII in ‘n dekreet aan hulle toegeken is, die drie oorloë wat die skou beleef het, Covid, konserte, en die toekoms nadat die gronde in Pietermaritzburg verkoop is.

Die Royal-skou is in 1851 begin. Later het dit uitgebrei en Afrika se grootste gemengde skou geword, betekende beide lewende hawe en ander plaasprodukte en met uitstallers oor ‘n wye spektrum se deelname.

Die geskiedenis is ryk en wyd met die naam-deel “Royal” wat in 1905 deur Koning Eduard VII bygevoeg is met erkenning aan die skou as ‘n leier in die kommersiele en landbou sektore in Natal (nou KZN). Tydens die koloniale era was baie van die Britse elite op besoek aan die skou. Hulle betrokkenheid by die teel van perde en beeste het sekerlik die deurslag gegee vir ‘n heerlike besoek aan die mooie Suid-Afrika en die groen land van Natal.

Alhoewel die skou in Pietermaritzburg gesetel was in wat bekend was as “The Last (British) Outpost”, sou mens aanneem dis baie Engels maar die boeregemeenskap het deur die jare opgeruk en verby oorlog, taal en Khakis gekyk om te fokus op boerdery. Hier was een plek waar die voertaal net Boerdery was.

Van ‘n klein begin het die skougronde ontplof tot waar dit vandag 8 000 vkm onderdak se uitstal ruimtes het en 10 000 vkm oop uitstallings. Die plaaslike bevolking is ook betrek met ondersteuning van die Zulu- en groot Indierbevolking en vir inwoners van naburige dorpe en streke was dit een van die jaarlikse hoogtepunte.

Ongelukkig kom die skou in sy huidige vorm tot ‘n einde en was RSG deel van die finale en laaste pop konsert asook ‘n uitsending van Brêkfis met Derrich op die perseel. Ontwikkelaars het die eiendom opgeraap nadat die dag-tot-dag kostes en belasting heffings net nie meer ekonomiese sin gemaak het nie. Die personeel is opgewonde oor die nuwe gronde wat bekom is, bult-op van Pietermaritzburg, met die fokus op kleiner spesialis uitstallings.

Die nuwe gronde word tans ontwikkel en aangepas om in die toekoms deel van ‘n nuwe dinamiese en moderne boerderygemeenskap te wees. Daar is struikelblokke maar gelukkig het die bestuurspan amper twee eeue se geskiedenis en dekades se ondervinding om op te leun om die nuwe uitdagings die hoof te bied.