Die Kompetisie – ‘n lekkerlag drama


Wat doen jy as jy ‘n daaglikse sukkelende bestaan in ‘n klein saai ou dorpie voer?

As jy die Pastoor van die fiktiewe dorpie Putfontein is, organiseer jy ‘n kompetisie wat rondom Paasfees gesentreerd is met ongelooflike pryse wat R10 000 kontant, ‘n trollie kruideniersware en ‘n skaap insluit.  En voor jy kan sê bliksemstraal gons die hele dorpie oor DIE Paaskompetisie … en dit maak ook die geldgod in sommige persone wakker en hulle sal selfs nie eers skroom om afpersing te gebruik om hul hande op die prysgeld te kry nie met soms skreeusnaakse gevolge.

Kom ontmoet die kleurvolle inwoners van die fiktiewe dorpie Putfontein in Joe Kleynhans se lekkerlag drama, Die Kompetisie, Donderdagaand 15 Junie om 20h00 in Radioteater.

Die bekende skrywer van radiodramas en -vervolgverhale, Joe Kleinhans is die skrywer van vandeesweek se radiodrama op RSG. Die drama, Die Kompetisie, was verlede jaar ‘n finalis in die radiodramaskryfkompetisie.

Die komiese drama vertel die verhaal van die gemeenskap van Putfontein wat tydens die Paastyd aan ‘n kompetisie deelneem. Die pastoor wil hê die gemeenskap moet iets uitbeeld oor die ware gees van Paasfees. Die aanloklike pryse wat op die spel is, spoor die gemeenskap aan om alles in die stryd te werp. Die planmaker, Jurie Bruinders besluit om die Kotze-gesin af te rig vir ‘n toneelopvoering. Hy onderhandel dan ook dat ‘n deel van die prys aan hom betaal sal word vir die dienste gelewer. Die tema van die opvoering is die Pasga wat gevier is voor die Israeliete uit Egipte getrek het. Dit gaan maar swaar met die woorde-leerdery in die Kotze-gesin wat uit die pa, Thomas, die ma Martha en die tienerdogter Tracy bestaan. Dan is Thomas ook nie te gelukkig oor Tracy se kêrel, Mike Galant nie. Daar is ook nog die gemeenskap se voorste melktertbakker, June Booysen, wat stilweg haar eie planne het vir die kompetisie. Sy is ook die een wat meer weet van Tracy en Mike se gekuier as Tracy se eie ouers. Uiteindelik is die wenner van die kompetisie juis die inskrywing wat die gees van die Paastyd, die beste uitbeeld en uitleef….

Program inligting

Titel: Die Kompetisie

Skrywer: Joe Kleynhans

Uitsending: Donderdagaand 20h00, 15 Junie 2023

Spelers: Johny Klein, Shermane Harris, Denver Vraagom,  Ilse Klink, Mari Molefe van Heerden, Solomon Cupido en Bradley Olivier.

Regisseur: Duncan Johnson