Die Lingerfelders is terug


Die Lingerfelders is terug. Donderdagmiddag 30 Maart begin RSG se nuwe middagvervolgverhaal, Disnisgedraai.

Bekende en beminde spelers vertolk weer hulle rolle –  Amanda Strydom (Janet), Elma Potgieter (Elvera), Rina Nienaber (Aletta), Heidi Mollentze (Bets), Anton Dekker (Dieter), Anton Schmidt (Chris), Eloise Cupido (Pearl), Pietie Beyers (Danny), Paul Lückhoff (Roelf), Donovan Pietersen (Shaun), Ilse Klink (Alice), David Louw (Drickus) en Christine Voorendyk (Saartjie).

Nuwe spelers is Charlie Bouguenon, Deon Coetzee en Louise Eksteen.

Die storie

Sommer uit die staanspoor verloop dinge nie glad vir die familie nie. Daar is heelwat nuwe verwikkelings in hulle lewens.

Chris se droom om af te tree, en ‘n wêreldreis saam met Bets te onderneem, is van die baan af nog voordat hy en Bets dit behoorlik kan beplan.

Danny is rusteloos, en dit beïnvloed sy en Drikus se verhouding. Hy wil konsentreer op sy skilderkuns, en dit veroorsaak spanning tussen hulle. Saartjie, wat nog steeds verlief is op Drikus en maar net nie kan aanvaar dat hy nie in haar belang stel nie, besef haar huwelik met Jos is ‘n klug. Sy tree onvoorspelbaar op en dit bekommer Drikus. Danny hou al minder van haar en Drikus se vriendskap met haar frustreer hom eindeloos.

Pearl is, ten spyte van haar nuwe werk, wat sy geniet, nie gelukkig nie. Die saaiheid van ‘n dag-tot-dag-roetine laat haar haar huwelik met Shaun bevraagteken. En wanneer sy Aletta se nuwe vriend ontmoet, spat die vonke. Shaun, wat besef hy mag Pearl dalk verloor, probeer ‘n beter toekoms vir sy gesin skep, en hy betrek ‘n vennoot by sy planne. Hy soek soms vertroosting by ‘n werknemer van Chris se maatskappy.

Roelf het nie ooghare vir Matt, ‘n akteur wat saam met Aletta in die TV-sepie speel nie. Volgens hom is Matt ‘n kansvatter, wat hy inderdaad is, maar nie almal sien deur die sjarmante vleier nie – veral nie Aletta, Pearl en Alice nie.

By Chris se maatskappy is daar ook heelwat probleme. Die hiërargie word versteur, en die werknemers stamp koppe. Elvera maak dit duidelik dat sy nie onprofessionele gedrag duld nie. Dieter is, nadat Elvera uiteindelik ingestem het om met hom te trou, heelwat kalmer as in die verlede. Hy verloor nie meer sommer sy humeur nie, en doen alles in sy vermoë om Elvera te ondersteun en gelukkig te hou.

Chris is bekommerd oor sy ma, Janet se demensie. Sy het goeie en slegte dae. Hy probeer haar ten alle koste beskerm teen iemand uit haar verlede. Bets bevraagteken sy optrede, en dit skep spanning tussen hulle.

 

Die Lingerfelders, hulle vriende, familie en kollegas voel dikwels disnisgedraai – vandaar die titel van die vervolgverhaal. Hulle verloor soms moed, sit vas, baklei – maar as dinge wil handuit ruk, ondersteun hulle mekaar.

Disnisgedraai is geskryf en word in Johannesburg opgevoer deur Mari Snyman.

Charlie Bouguenon, Donovan Pietersen, Amanda Strydom, Eloise Cupido en Elma Potgieter.

Agter: Rina Nienaber, Heidi Mollentze, Elma Potgieter, Anton Dekker, Amanda Strydom, Anton Schmidt. Voor: Eloise Cupido, Paul Luckhoff.

Anton Dekker, Rina Nienaber.