Donderdagaand: “Rooi Papawer”


Afrodite se rots

Luister Donderdagaand 29 Mei om 8 uur na Rooi Papawer deur SD Fourie.

Die Storie

Thea en haar suster Anna se verhouding is problematies. Thea verstaan nie hoekom Anna oor-beskermend teenoor haar optree nie en sy kom in opstand daarteen.

Wanneer sy uitvind hoekom, val dinge vir haar in plek. Sy en Anna gaan Ciprus toe vir ‘n vakansie – ‘n broodnodige een.

Sy glo Anna het haar te jonk in ‘n huwelik ingedwing. Thea ervaar trauma en sy beland in ‘n senu-kliniek. Om haar te help herstel vat Anna haar Ciprus toe vir ‘n vakansie.

Thea het nog haar lewe lank aanklank gevind by die Griekse mitologie, en veral by Afrodite, godin van liefde en skoonheid, en Galatea, geskep uit ivoor deur Pygmalion, wat haar wil besit en oorheers. Dis hoe Thea voel oor Anna se besitlikheid, en ook die man met wie Anna haar dwing om te trou.

In Ciprus sien sy die geboorteplek van Afrodite.

In Ciprus ontmoet sy iemand wat uiteindelik verstaan hoe sy voel. Sy sien ook wat volgens die Griekse mitologie die geboorteplek van Afrodite, godin van skoonheid en liefde is. Sy het nog altyd gevoel asof sy ‘n spirituele band met Afrodite het. Wanneer sy vier maal om die godin se rots in die see by Pafos probeer swem, het dit verreikende gevolge – beide groot hartseer en ook verligting.

Die akteurs en rolverdeling

Elma Potgieter, Anton Dekker, Charlie Bouguenon, Louise Eksteen en, vir haar eerste radio-rol, die bekende aktrise Stephanie Baartman is die akteurs en die drama is opgevoer deur Mari Snyman.

Anna, vertolk deur Elma Potgieter, en Thea, vertolk deur Stephanie Baartman, is susters.

Sy ontmoet ook vir Petros, vertolk deur Anton Dekker, wat haar verstaan en liefkry.

Thea droom dikwels van Pygmalion, vertolk deur Charlie Bouguenon, en Galatea, vertolk deur Louise Eksteen. En die drome lei haar.

Vlnr: Charlie Bouguenon, Stephanie Baartman, Louise Eksteen, Anton Dekker en Elma Potgieter

Anton Dekker

Van die skrywer – SD Fourie

Ek het in Ciprus vakansie gehou en by vriende oorgebly.

Die huisbaas, Adreas, het soos alle Grieke met die Griekse mitologie grootgeword en ek het geweet op die eiland met sy wit lig, blou see en byna duiselingwekkende kleure van rooi papawers, geel magrietjie en die magiese windblomme teen die wit kalksteenmure, is daar meer as net Pafos se ou stadsmure, Pygmalion, Galatea en Afrodite. Andreas was ʼn goeie bron, ek het die eiland en sy mense geniet en drie denkbeeldige karakters is gebore.

Die spreekwoord, “Dis Grieks vir my”, het werklik betekenis na my  besoek aan Ciprus, een van die eilande in die Middellandse See.  Het altyd gewonder.  Hoekom nie “dis Frans, Xhosa of enige ander vreemde taal” nie?

Charlie Bouguenon en Louise Eksteen

In Ciprus verdwaal jy hopeloos – padkaart ten spyt, want vir ʼn leek soos ek was die straatname onleesbaar.  Het soms tot vas teen die rigtingwyser geloop, maar kon nog steeds nie die naam ontsyfer nie.  Dit was letterlik Grieks vir my!

Ek kan darem een ding van die Griekse mans sê: Hulle is baie galant en laat enige vrou  weer mooi en jonk voel.  In die begin van die kort vakansie het ek my gruwelik vervies vir die voorbarige jong mannetjies wat met ʼn lang wolwefluit jou aandag probeer trek om net later te besef dat hulle jou eintlik net komplimenteer en jou welkom heet op hul eiland.  Dit was die enigste manier om te kommunikeer, want Grieks bly Grieks vir die meeste toeriste.

Ciprus is ʼn pragtige eiland met plate goudgeel magrietjies tot teenaan die   see.  Teen die ou stadsmure van Pafos blom die papawers in oordadige bloedrooi oorvloed en op die uitgestrekte groen grasvlaktes gloei die bloupers anemone of windblomme.  Die klein plasies teen die hange van die berge herinner nogal sterk aan die ou Strandveld van weleer.  Granaatheinings, peerbome en selfs ons eie waaisandbome vol in die blom.  Die kersiebome was vol bloeisels, want die eiland lê in die noordelike halfrond en ons het hul lente beleef.  Vanjaar is ‘n besondere geil seisoen, want hulle het die beste reënval in sewe jaar beleef.

Daar het ek weer besef dat ons eintlik laf is met ons uitheemse name vir besighede onder die dekmantel dat die buitelandse toeris dit beter verstaan.  Ons het verskeie klein dorpies besoek met ou kalksteengeboue, straatkafeetjies en gryskop tantes wat op hul voorstoepe sit en hekel.  Ek het nêrens vertaalde aanwysings gelees nie en op die dorpsplein het  die toerbusse soos sardiens ingeryg gestaan om juis die ouwêreldse Griekse sjarme te besigtig.  Selfs die museumkaartjies was in Grieks gedruk – met net ʼn enkele aanwysing in Engels.

Plaaslik is ons brosjure in Engels en dit hoort seker so, maar waarom een enkele paragraaf in Afrikaans vertaal as die skrywer nie die vaagste benul het hoe om dit te doen nie?  Ek en Jan het ons destyds verkneukel in die stelling dat hy en sy konsertina “wild bekend is”.  Kan my voorstel hoe hy, gryskop knikkende op die maat van een of ander byderwetse deuntjie, wilde swaaie met sy konsertina bokant sy kop maak. Maar die kersie op die koek is die feit dat die plaaslike museum op die “hoofland” geleë is.  Ook Grieks vir my en baie ander.

Ons het een Sondagmiddag ʼn klein dorpie in die berge besoek, en daar op die skoolstoep was die hele dorp bymekaar besig om dorpsake te bespreek.  Die vorige en die huidige burgemeester was besig om koppe bymekaar te sit oor een of ander dorpsprobleem. Net daar word die wildvreemdes vir koffie genooi terwyl die dorpsbewoners uit alle oorde nader stroom en ons in duidelike terme laat verstaan dat die twee manne beslis die gewildste en belangrikste manne in hul dorp is.

Die Griekse Cipriote het ʼn tragiese geskiedenis.  Die Turkse inval van Julie 1974 het die eiland en selfs die hoofstad, Nicosia, in twee geskeur.  ʼn  Griekse gids het ons eendag op ʼn toer deur die stad geneem en ʼn passievolle toespraak gelewer.  Sy  neem nie die Turke kwalik dat hulle haar en haar familie uit hul huis verjaag het nie. Dat hulle die stad afgebaken het  en dat sy selfs daardie nag moes vlug vir haar lewe, kan sy ook aanvaar, maar dat hul haar van haar verlede beroof het, sal sy hulle nooit vergewe nie.

Ek wou saam met haar huil, want hier by ons gebeur dit daagliks.

 

Luister Donderdagaand 29 Mei om 8 uur op RSG of rsg.co.za asook op potgooi na afloop van die uitsending en op Spotify.