Luister weer: Springbokke met flair en die vergete vlugvoetiges


Luister weer na hierdie dokumentêr oor Bokke met flair, en vergete vlugvoetige rugbyspelers met ‘n fokus op die onbesonge helde uit die bruin gemeenskappe, deur Heinrich Wyngaard.

Die fokus van hierdie dokumentêr is rugbyspelers wat oor die X-faktor beskik is. Wat onderskei spelers met vlugvoetigheid of flair, en wie was hulle voorgangers?

Die potgooi word binnekort hier gelaai.

Heinrich skryf:

Cheslin Kolbe

‘n Mens kan hulle seker die “Fantastiese 5” noem; dis nou Damian Willemse, Cheslin Kolbe, Manie Libbok, Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie.

Hulle name duik outomaties op wanneer daar gepraat word oor die vlugvoetige agterspelers wat die Springbokke in September en Oktober verlede jaar gehelp het om die Rugbywêreldbeker vir ‘n vierde keer te wen.

Natuurlik is daar ander ook, soos Willie le Roux en Grant Williams – en selfs die losvoorspeler Kwagga Smith. Maar ek moes vir die doel van hierdie dokumentêr ‘n keuse maak en het besluit op die vyf wat my die meeste beïndruk.

Damian Willemse

Die program se oorsprong is ‘n onderhoud wat ek in Februarie verlede jaar met Deon Davids, ‘n assistent-afrigter van die Bokke, op my kykNet&kie-geselsprogram KLOP! gevoer het. In seker die voorlaaste vraag, pols ek hom toe oor of daar nog plek vir flair in die Bokspan is: “Defintief!” was sy antwoord.

Kurt-Lee Arendse

En in Frankryk het die span dit gewys én bewys: Willemse, Arendse en Moodie se aftrappe na links en regs, systappe óm teenstanders. En dan daardie ongelooflike oomblikke toe Libbok in die eerste WB2024-kragmeting teen Skotland met sy oë gerig op ‘n aankomende opponent die bal hoek toe geskop het vir ‘n wagtende Arendse om te gaan druk – die sogenaamde “no look”-skop. En ook toe Kolbe, in die kwarteindstryd, ‘n Fransman se doelskop afstorm om die Bokke se oorwinning te seël.

Soos dr. Wilbur Kraak, sportwetenskaplike aan die Universiteit van Wes-Kaapland, in die dokumentêr sê, het die spelers se agtergrond baie te doen met hul vlugvoetigheid.

Nie net dit nie. Hulle volg ook in die voetspore van ander wat in vroeëre eras met dieselfde vaardighede teenstanders dronk gehardloop het en toeskouers in vervoering gehad het.

Errol Tobias

Daniel Spetember

Dié spelers het destyds aan twee verskillende kante van die rugbyfoutlyn in bruin gemeenskappe gespeel.

Sterre soos Anwa Majiedt en Daniel “Spoekie” September het vir die Sacos-geaffilieerde Saru uitgedraf en John Stubbs en Errol Tobias vir die Federasie, wat ‘n filiaal van die SA Rugbyraad van dr. Danie Craven was.

Naas Kraak, word die stemme van onder andere Peter de Villiers (eerste bruin Bokafrigter), Breyton Paulse (voormalige stervleuel en nou kommentator) en die sportsielkundige dr. Henning Gericke gehoor.

Dit was vir my ‘n voorreg om die dokumentêr te kon doen as ‘n nuutste stap om erkenning aan onbesonge helde uit bruin gemeenskappe te gee.

Wat opvallend is, is dat daar geen klankopnames bestaan van wedstryde waarin spesifiek die ou Saru-sterre hul talente ten toon gestel het nie. Die dokumentêr vergoed op ‘n minuskule manier daarvoor.

Lees ook: https://showme.co.za/lifestyle/rugbys-freedom-fighters/