Luister weer na ‘Verraad’


Luister Donderdagaand net na agtuur na Verraad, ‘n menslike drama oor emosies, liefde, verraad en geheime in ‘n verbrokkelende verhouding, deur Anneli du Preez, die naaswenner in die 2023 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met de ATKV.

Die storie

Hierdie debuutdrama handel oor ‘n gay getroude paar wat na sewe jaar ‘n slaggat in hul huwelik tref. Geheime is net goed tot dit ontbloot word. Die storie handel oor Jaco en Phillip, ʼn getroude paartjie, wat voor ‘n uitdaging te staan kom as een van die partye erken hulle voel nie meer dieselfde nie. Jaco wil skei, want hy reken hy is nie gay nie. Of altans, hy was nooit gay nie. Soos wat die middag verloop en die twee koppe stamp en mekaar konfronteer, leer ons beide die karakters beter ken. Beide van hulle het geheime wat hul ronddra en ontknoop. Die een se geheim het dalk goeie bedoelings, en die ander een sʼn saai verwoesting.

Regisseursvisie deur Luan Jacobs

Verraad het my gegryp soos ‘n koue Kaapse wind wat deur gevlarde klere loei. Die storie het my baie aangegryp en ‘n visie het gekom wat ver bó seksualiteit en identiteit gestrek het. Dus het my fokus verskuif na die emosionele berge en dale van ‘n verhouding wat onstuimigheid ontmoet. In die aanloop tot die storie het die seksuele identiteit vir my vervaag. Mens kan enige voorkeure en lewenskeuses aan die hart van die storie koppel.

Die teks het elemente van moderne realisme wat ‘n sekere aanslag verg van die akteurs en byklanke. Die reis het begin deur die akteurs op dieselfde bladsy te kry. “Sterk-opgeleide akteurs” het weergalm in my kop gedurende die soektog. My kop was vol ou referente en skrywers soos Tennessee Williams, Arthur Muller, en David Mamet; wie stories geskryf het in hul tyd wat die ideologie van die fisiese wêreld vasvang en die karakters se emosionele struikelblokke balanseer.

Verraad is, vir my persoonlik, skryfwerk wat genres en mediums kan oorskry, en dit is gewoonlik vir my ‘n baie goeie teken van ‘n goeie skrywer wat nie bang is om ‘n spieël op te lig vir haar gehoor nie. Op tye is Verraad brutaal eerlik wat ontmoet word deur asemskep sessies hier en daar. Kontekstueel het my analise my gelei na die krag van inligting; om dit te weerhou en hoe die mensdom dit kan gebruik as ‘n wapen. Plaas hierdie inligting in ‘n storie van ‘n verhouding wat letterlik in een nag verbrokkel en die karakters se wêrelde op sy kop draai, dan kry jy ‘n emosionele landskap wat eindig in ‘n metaforiese donderstorm.

Dit is ‘n eer om hierdie storie met almal te kan deel en ek wil graag weereens my span akteurs, vervaardigers, en tegniese personeel bedank. Almal het die storie met die nodige sensitiwiteit ontmoet en ek glo vas dat Verraad nodige genesing sal kan bring, al speel alles af in die oog van die storm.

Die spelers en rolverdeling

Die rolverdeling is vertolk deur Philru van Achterberg, Botha Enslin, Christo Campion en Mandi Baard.

Selfie met Luan Jacobs (voor). Agter vlnr is Mandi Baard, Botha Enslin en Philru van Achterberg.

Botha Enslin, wie een van Suid-Afrika se klugkonings is, het vir die rol van Jaco vlerke gegee, met sy dramatiese spel. Dit is ongehoord dat akteurs op hierdie vlak dramatiese en komiese spel so gemaklik en moeiteloos kan vertolk.

Philru van Achterberg se aanslag as Phill is gegrond en sy sjarme val heerlik op die oor. Philru was te siene as Benjamin Komoetie in Fiela se Kind, wat Suid-Afrika platgetoer het. Die hoeveelheid hart, siel en gravitas wat hierdie akteur tot elke rol bring, is van ikoniese standaard.

Philru van Achterberg en Botha Enslin

Dit was belangrik om akteurs te kry wat mekaar ken en wat al ‘n lang pad saam gestap het. Mens kon nie vir ‘n beter kombinasie akteurs gevra het nie. Selfs in die lang pouses kon hulle die lug vul met sensitiwiteit en emosionele welstand. Dis asof hul spel rondgedans het op Annelie du Preez se wonderlike teks.

Christo Compion is ‘n legende in eie reg. Interessante feit: Die regisseur, Luan Jacobs, het sy radioteater debuut gemaak in 2010 teenoor Compion in die verwerkte tekste van Roald Dahl se “Vel” en “Boelie”. Leon van Nierop het Jacobs en Compion se spelleiding behartig asook die vertaling van die teks. 14 jaar later het Jacobs die eer om vir Compion te gebruik vir die karakter Dawid. Luan Jacobs wou uit sy vel uitspring van opgewondenheid toe die geleentheid oor sy pad kom.

Mandi Baard, wie die rol van Lente vertolk het, was so goed voorbereid dat sy in 8 minute al haar dialoog op eenslag kon opneem. Haar toewyding en respek tot die kuns van toneel- en radiospel is ‘n meestersklas vir enige akteur. Sy ontmoet ‘n mens op ‘n so ‘n hoë gehalte van professionaliteit wat mens inspireer om jou beste ook te gee, kom enige geleentheid.

Die skrywer

Anneli du Preez is (35), ‘n voltydse skrywer van Johannesburg.

Die tegniese versorging

Vir die byklanke het JD Labuschagne ver uit sy pad gegaan om houtvloere en voetstappe op te neem. Hy het die einde se byklanke meesterlik georkestreer dat die span ‘n ander aanslag aangeneem het. Vanweë die chronologiese en sensitiewe natuur van die laaste toneel se byklanke wat baie vinnig op mekaar gevolg het, was dit belangrik om die ritme perfek vas te vang. Labuschagne het die hoogs gekompliseerde byklanke aanmekaar gestik soos ’n simfonie-orkes-dirigent. Dit was ontmoet deur elke akteur wie se invalle soos ballet gechoreografeer was. Die span het die toneel oor en oor geoefen en toe die tyd kom om dit op te neem was daar net een rondte nodig om dit perfek te kry.

Die regisseur en tegniese span is tevrede. Dipalesa Motau is links voor en Luan Jacobs in die middel.

Dipalesa Motau se vlugtige verstaan van die gevoel en toon van die hele storie het in post-produksie geseëvier. Haar redigeringstegnieke is van onskatbare waarde. Toe Jacobs en Motau in die ateljee saamgewerk het, het alles perfek in plek geval sonder skroom of enige stres.