Donker drama oor menslike swakheid in radioteater


Die drama, Die vlek van menswees, deur Adele van Wyk, het die derde prys verower in die 2022 Radiodramaskryfkompetisie.  Dit word op 20 April om 20:00 op RSG uitgesaai.

Jada (Mandi Baard) kom toenemend agter dat alles nie pluis is in hulle dorp, Sonkrans nie.  Sy werk saam met Sophia (Shemane Harris) in Oom Hans se winkel.  Lank terug het Nicky (Sue Pyler-Slabbert) ook daar kom werk, tot sy drie jaar gelede verdwyn het.  Jada hou vol dat Nicky nog leef, maar almal anders probeer haar oortuig om vrede te maak daarmee dat Nicky dood is.  Haar gesin het selfs onlangs ‘n begrafnis vir haar gehou nadat sy dood verklaar is.  Jada se Ma, Tilda(Karin Retief), probeer keer dat Jada te veel vrae vra, en is baie vaag oor waar die vleis en groente vandaan kom wat sy voorsit.  Jos Visser (Anton Dekker) is die bekendste en magtigste mens op die dorp.  Hy het ‘n tweelingsuster Sampie (Rina Nienaber), wat ‘n groot voorliefde vir wapens het.  En dan is daar Ragel (Sulette Thompson), Jos se gewese vrou wat verkies om weg te kyk – maar tog ook vir Jada wil help.

Dis ‘n donker drama, en soos een van die karakters sê “elke mense het ‘n price tag, en dit is die vlek op ons siel..” As ‘n mens iets graag genoeg wil hê, is geen prys te hoog nie.  Die regisseur, Johny Klein sê  “ …Hierdie karakters is vreemde mense, maar daar is van hulle in ons  samelewing.   Mense wat aan niemand anders as hulleself dink nie; wat gierig en selfsugtig is en tot enigiets in staat is as hulle iets wil hê.  En die mense wat die regte dinge wil doen, betaal dikwels die prys omdat hulle in ander se pad is. ”

‘n Radiodrama wat luisteraars vasgenael en op die punte van hulle stoele voor die radio sal hou!

Agter. Shemaine Harris, Karin Retief, Rina Nienaber, Johny Klein (regisseur) en Sue Pyler-Slabbert. Voor: Anton Dekker en Mandi Baard.

Karin Retief & Mandi Baard

Sulette Thompson en Mandi Baard