Eendag was daar….die Sprokies van Grimm


Op 30 Junie begin ‘n sprokiesreeks op RSG.

Cintaine Schutte gaan dan weeksoggende in Alhoebekker voorlees uit Die Mooiste Sprokies van Grimm, ‘n Keur deur Marita van der Vyver en illustrasies deur Piet Grobler.

Vir eeue lank al word mense – jonk en oud – betower deur die woorde “eendag was daar…”.  Dit skep verwagtings oor ‘n wonderwêreld wat wag; die wonderwêreld van ‘n storie, die wonderwêreld wat deur die verbeelding geskep word.

Die legendariese filosoof, Johan Degenaar het by geleentheid gesê die storie stimuleer die verbeelding, en verbeelding integreer gevoel, intellek en wil; maw dat die storie – en spesifiek die  sprokie – die menslike gees in al sy aspekte aanspreek.

Binnekort kan RSG se luisteraars hulle verlustig in die klassieke sprokies van Grimm, soos voorgelees deur Cintaine Schutte.  Die sprokies is in Afrikaans vertaal deur Marita van der Vyver.

Cintaine Schutte is ‘n veelbekroonde aktrise, en bekend vir haar rolle in onder meer die televisiereekse Fynskrif en Ekstra Medium, en vir haar vertolking van Masha in die drama Die Seemeeu, van Anton Tsjechof. Sy is onder meer met ‘n Kannatoekenning bekroon vir haar vertolking van Katrinn in Bertolt Brecht se Moeder Moed en haar kinders en vir die rol van Masha in Die Seemeeu. Vir laasgenoemde is sy ook met ‘n Fleur de Cap-toekenning bekroon. Haar produksie, Die Dinge van ‘n Kind van Marita van der Vyver is by Aardklop aangewys as die beste soloproduksie. Sy het onlangs ook die 2021 Sinjatuur toekenning ontvang by die Fiësta-toekennings. Sy is ook ‘n vervaardiger en produksiebestuurder.

Cintaine vertel waarom sy so graag die sprokies van Grimm wou voorlees:

Cintaine Schutte

“Ek bevind myself in die biblioteek in die middestad van Kaapstad op ‘n Donderdagoggend. Ek besluit om ‘n draai te maak in die kinderafdeling, want daar voel ek veilig, sorgeloos en gelukkig. My oog vang dadelik Marita van der Vyver se ”Mooiste sprokies van Grimm”.

Ek hou die boek vas asof ek ‘n nuwe maatjie gemaak het. En so lees ek elke aand voordat ek gaan slaap ‘n sprokie en verkyk my aan Piet Grobler se wonderlike illustrasies. Soos wat die prente en die woorde in my kop ronddwaal elke dag, besef ek meteens hierdie sprokies beteken iets vir my en kan dieselfde doen vir ander mense.

Ek vat die kans en vra vir Marita of ek haar wonderlike boek met die Grimm sprokies mag wakker maak en opneem. En my eerste keuse as spanmaat en regisseuse is die briljante Frieda van den Heever. Toe ek weer sien het RSG saam met ons hande geneem en ek sit in die ateljee en neem op, lag, speel betowerende karakters en doen waarvoor ek lief is – vertel stories vir oud en jonk. Sprokies – die kosbaarste kultuurbesit van die Westerse beskawing.”

Die regisseur, Frieda van den Heever is geen onbekende op RSG nie.  Sy behartig onder meer Vers en Klank en Kortom op RSG. Sy het ook reeds regie gedoen vir verskeie radiodramas en middagvervolgverhale, en die boekvoorlesings van Katriena vertel in 2020.  Frieda is bekroon vir die produksie “Die poet – wie’s hy?” wat in 2020 die toekennings vir beste musiekproduksie asook die beste algehele produksie by die  Woordfees gekry het, sowel as by die Kyknet Fiëstas in 2021. Sy is ook by die 2021 Fiëstas bekroon as beste regisseur en medeskepper van nuwe teks. Sy behartig al vir sewe jaar die opleiding en musikale regie van Agri’s Got Talent, ‘n projek wat sangtalent onder landbouwerkers gaan soek, ontgin en verhoog toe bring.

 

Frieda vertel waarom die projek oor die Grimm sprokies haar na aan die hart lê:

Frieda van den Heever

“Ek wou al lank meer intensief met Cintaine saamwerk. Sy het soveel rou talent en haar oorgawe en inisiatief asook merkwaardige werksetiek is anderkant haar jare. En daar is min dinge wat ‘n akteur of storieverteller se ambag so slyp soos om dag na dag in ‘n ateljee te sit en ‘n boek of stories voor te lees.

Dis ‘n dissipline van ‘n ander aard en mens moet fiks raak daarvoor. Dit sit nie in almal se pype nie, maar ek het geweet Cintaine het al die regte gereedskap bymekaargemaak hiervoor. Sy kan ‘n karakter lewe gee.

Die Cintaine Schutte – Marita van der Vyver kombinasie is natuurlik ook formidabel, soos teatergangers al gesien het in die produksie Dinge van ‘n kind, ‘n eenvrouvertoning gebaseer op die gelyknamige boek.

Om hierdie projek te kon aanpak met Marita se seën is natuurlik ‘n bonus en om Cintaine se oppe en affe en klein kort-van-duur-valle en vinnige opstane agter die mikrofoon te kan meemaak is ‘n hoogtepunt. Ons gril soms saam vir die karakters in die sprokies en ander kere lê ons soos ons lag. Sprokies is magical, aardig en komies. Soos die lewe self. “

Professor Degenaar het ook gesê: kuns stimuleer die verbeelding om nie net by die “tweede wêreld” van die kuns betrokke te raak nie, maar ook om die “eerste wêreld” van die daaglikse ervaring opnuut te ontdek.  Die voorlesings van die beroemde sprokies van Grimm, sal derhalwe byval vind by oud en jonk, van 2 tot 102!  Marita van der Vyver se vertaling van Die mooiste sprokies van Grimm is herdruk, en volgens NB Uitgewers sal dit teen die einde van Junie landwyd in boekwinkels beskikbaar wees.

Die voorlesings begin op  30 Junie, weeksoggende in Alhoebekker.