Eloïse bring ’n tikkie kosbaarheid


Eloïse Cupido

“Hallo julle kosbare mense” is hoe Eloïse Cupido haar kollegas groet.

Wanneer kykers van Kyknet se Ontbytsake-program, wat sy saam met Dawie Roodt aanbied, haar raakloop, stop sy eers vir ’n geselsie, want haar kykers en luisteraars is vir haar kosbaar. Sy is lief vir mense en die gemeenskap, al van kindsbeen af waar sy in Montagu grootgeword het.

Alhoewel Eloïse al jare verskeie rolle in RSG se radiodramas vertolk het, het sy amptelik in 2022 deel van die op-lug-aanbieders geword as nuusleser in Alhoebekker asook kontinuïteitsaanbieder saans. Net nóg ’n veertjie in hierdie veelsydige  aanbieder en aktrise se hoed.

Sy spog met talle aanbieders- en toneelspelrolle op haar kerstok nadat sy haar dramagraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het.  Kykers het haar aanvanklik leer ken in gewilde programme soos Vetkoekpaleis, Die Vierde Kabinet, Arsenaal, Generations en nou ook as Rose in Diepe Water. Haar aanbieding van Belboks gedurende 2002 en 2003 het haar ’n geliefde onder Afrikaanse kykers gemaak en daarna het die Geraas musiektoekennings, Lyfkuns, Athletics Alive en Kwêla op Kyknet gevolg om maar enkeles te noem.

Nou wink ’n spliternuwe rol vir haar. Hierdie keer op radio. Intussen sal vir die eerste keer op 8 Mei, 9:00 – 12:00 op RSG uitsaai met Eloise as die ankeraanbieder. Dié radioprogram sal ’n verlengstuk van Eloise se persoonlikheid wees en haar kosbare ingesteldheid teenoor luisteraars weerspieël. Luisteraars kan steeds verwag om ’n reis na binne te ervaar wat Alhoebekker sedert 2019 gebring het, maar nou word die stokkie aan Eloise oorgegee om ’n tikkie kosbaarheid by te voeg.

Eloise se professionele loopbaan strek oor 26 jaar.

Chris Wilkinson en Eloïse Cupido op hul troudag

Daar was groot uitdagings wat sy in haar loopbaan trotseer het maar die dapperste ding wat sy ooit kon doen is om ’n kind te kry. Sy beskryf dit as ’n ware uitdaging wat mens aanpak sonder dat jy voorbereid is daarop.  Maar sy geniet haar kosbare 6-jarige seuntjie terdeë en hou veral daarvan om ’n maaltyd met liefde vir haar seun en man Chris Wilkinson, oorspronklik van Nieu Seeland, te berei.

Haar troudag, haar seuntjie, haar werk.

Chris en Eloïse op hul troudag

As stemkunstenaar, aktrise, seremoniemeester, televisie-aanbieder wat Afrikaans-, Engels-, Duits- en Frans magtig is kan luisteraars daarma uitsien om Eloïse voortaan daagliks te leer ken as radio-omroeper. ’n Rol wat ’n bymekaarkomplek is van al die vorige rolle wat sy op televisie en die verhoog vertolk het.

*Intussen begin op 8 Mei 2023 en sal weeksdae tussen 9:00 en 12:00 op RSG uitgesaai word.