Floreer of krepeer: die keuse is joune


As jy op die oomblik ‘n bietjie moedeloos voel oor Suid-Afrika, wil ons jou verseker: jy is nie alleen nie. Ons voel almal by tye so.  Maar al het ons dikwels nie ‘n keuse in wat met ons gebeur nie, het ons altyd ‘n keuse as dit kom by ons reaksie op wat ons ook al tref. Dit is die tema van ons  nuwe Sondagaand-reeks FLOREER OF KREPEER,  vervaardig en aangebied deur Ilse Salzwedel, waarin sy gaan gesels met dertien mense wat al groot uitdagings moes te bowe kom.

Die idee vir die reeks is gebore uit Ilse se boek FLOREER (uitgegee deur Lux Verbi). “In Mei 2020, tydens die streng inperkings, het die tydskrif waar ek vir 15 jaar gewerk het, onverwags gesluit. Die wêreld was in chaos gedompel weens Covid, en vooruitsigte vir ‘n nuwe werk maar skraal. Ek het besluit om die tyd te gebruik om ‘n boek te skryf om mense te inspireer,  nuwe moed gee en op ‘n praktiese manier te help om hul eie vermoë om vas te byt en wéér te probeer, te herontdek en te slyp,” vertel sy.

Na byna drie dekades as joernalis was dit nie die stories van bekendes se glanslewens wat haar bygebly het nie, maar gewone mense se verhale van moed en dapperheid. “Om sulke stories te hoor en te skryf, het my gehelp om my eie innerlike krag te ontdek, en nuwe inspirasie gegee vir die uitdagings van my eie lewe. Niemand van ons spring trauma en seerkry vry nie, maar daar is mense . wat byna onmoontlike uitdagings omskakel in iets positief. Met hierdie radioreeks wil ek ‘n paar van hulle se stories vertel en so ook help om RSG-luisteraars nuwe hoop te gee.”

In FLOREER OF KREPEER gesels Ilse met gaste oor lewensveranderende krisisse en hoe hulle dit hanteer het.  “Elke gas se storie raak my hart. Nie net omdat hulle so eerlik gesels oor hul seerkry en swaarkry nie, maar ook omdat hulle praktiese raad gee wat hulle gehelp het om nie net te oorleef nie, maar op ‘n nuwe manier selfs te floreer. Hul verhale is ‘n herinnering dat ons almal oor die vermoë beskik om weer regop te kom nadat die lewe ons platgeslaan het.”

In elkeen van die 13 episodes, wat op Sondagaande net na die nuus om 19h00 begin, gee ‘n kenner  ook ‘n paar wenke wat luisteraars kan help om hul eie veerkragtigheid te versterk. Jy kan ook uitsien na waardevolle raad uit Ilse se boek.

Gaste met wie daar reeds onderhoude opgeneem is, sluit in: Yolande Korkie (wat 558 dae deur die terreurgroep Al Qaeda aangehou is), die sanger  André Schwartz (wat in 2019 met motorneuronsiekte gediagnoseer is) en Ivor Swartz, deesdae ‘n gewilde skrywer en predikant in Pretoria, maar iemand wat in haglike armoede grootgeword het en as tiener in die tronk was vir die moord op sy broer, ‘n dwelmverslaafde.

Ander se verhale oor oorlewing tydens ‘n oorlog, hoe dit voel om finansieel oor te begin wanneer jou vriende begin aftree en hoe om weer jou pad te vind uit die donkerte van ‘n geliefde se dood, sal jou nuwe moed gee vir jou daaglikse uitdagings.

FLOREER OF KREPEER, Sondagaande net na 19h00, vanaf 2 Julie 2023.