Fritz Klaaste deur DAK Netwerk vereer


Ons ken hom as ‘n petrolkop met ‘n uitstekende kennis van motorsport, en vir sy goue oue-musiek wat hy elke Sondagmiddag op RSG speel. Die DAK Netwerk het die naweek hierdie kollega van ons vereer met ‘n eretoekenning vir sy werk as uitsaaier. Ons praat natuurlik van Fritz Klaaste.

Luister hier na die potgooi van die gesprek met Fritz Klaaste op Op en Wakker:

Fritz Klaaste het ‘n eretoekenning vir lewensbydrae tot die bevordering van Afrikaanse Media (Radio) in Suid-Afrika van die DAK Netwerk ontvang.

Die Hoof Uitvoerende Voorsitter van die DAK Netwerk Danie van Wyk sê die volgende oor Fritz Klaaste: “Fritz Klaaste ‘n pionier in uitsaaiwese en daarvoor het DAK Netwerk aan hom erkenning gegee. Ons is trots op wat hy bereik het in sy loopbaan en is ‘n dienende voorbeeld wat bereik kan word indien jy ‘n droom het om te verwerklik. Dit was nie moeilik om hom te benoem as ontvanger van die DAK Netwerk eretoekenning nie. Behalwe dat hy ‘n puik omroeper is met ‘n passie vir sy dagtaak, is hy ook ‘n navolgenswaardige voorbeeld, ‘n rolmodel en mentor  – en daarvoor gee ons aan hom die erkenning wat hy verdien.”

 Sedert Fritz as nietige vryskutjoernalis by Upington se plaaslike Gemsbok koerant enkele stories geskryf het, asook die Oos-Kaapse gemeenskappe vermaak het op amateurtoneelverhoë, het hy vasgebyt in ‘n uiters kompeterende omgewing in wat hy geglo het ‘n lewensroeping is.

Onder kennisse staan hy vandag nog bekend as Periandros van Korinthe. Die destydse ikoniese Babs Laker se aanmoediging het sy lewe verander toe sy in ‘n volgepakte Joseph Stone Teater gesê het, “as Afrikaans Stereo (RSG) nie hierdie talentvolle man aanstel nie, eet ek my strooihoed op”.

Saterdag 20 Mei 2023 sal altyd onthou word vir die wyse waarop hy – in alle nederigheid – ons toekenning aan hom ontvang het. Sy teenwoordigheid het ons vereer en was dit baie aangenaam vir gaste om hom in lewende lywe te ontmoet – almal RSG – luisteraars. Ons glo dat hy waarde toevoeg tot RSG en daarom  wens ons hom alle voorspoed toe vir die toekoms. DAK Netwerk is soveel ryker met die toevoeging van ‘n persoon van sy kaliber tot ons lys van prominente mense wat ontvangers van ons prestige eretoekennings is. Ons beste wense vergesel hom”, skryf Danie van Wyk.

Die geleentheid was verryk met toekennings aan ander reuse in sport, kultuur, poësie en politiek, wat ook insluit lede van die pop-en rockgroep Restless Children, ikoniese Springbok rugbyspeler Errol Tobias, Basil Kivedo (Rochelle met postuumontvangs vir Bevordering van Demokrasie), Jeff Lakay (vir Gemeenskapsdiens), Ria Olivier (Bevordering en Beskerming van Afrikaans) en Floris Brown (Literatuur en Musiek).

Dr Brain Wilson en Christo van der Rheede van Agri SA was geleentheidsprekers.

(Agter vlnr): Charles Beukes (DAK), Fritz Klaaste, Deon Kleynhans, Danie van Wyk (DAK UV), Greg Smith, Errol Tobias en Willem Fransman Jr (DAK). (Voor): Matthew Apollis, Jeff Lakay, Floris Brown, Rochelle Kivedo en Ria Olivier.

En wat sê Fritz?
“Omroepers is in ‘n besondere bevoorregte posissie agter ‘n mikrofoon en ons besef nie die impak wat ons het op andere se lewens het nie, in ‘n negatiewe of positiewe lig. Ek het weereens besef hoe geseënd ek is waar ‘n geleentheid soos die DAK Netwerk toekennings my in kontak met mense bring wat jou net wil ontmoet en sê ‘Dankie vir wat jy vir my en my familie beteken, veral vir mammie en pappie’. Dis so bemagtigend.

Fritz Klaaste, Danie van Wyk, Errol Tobias.