Gewilde “Die Midas van Musiek” van Julie terug op lug


Die derde reeks van die gewilde Die Midas van Musiek begin op Sondag 3 Julie net na 10:00 op RSG. In hierdie reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos Nat King Cole, Doris Day, Sade, Kenny Rogers, Dean Martin, Rita Coolidge, Cher, Neil Diamond, Dolly Parton en The Mamas & The Papas gehoor word.

Die aanbieder en samesteller is Kobus Burger, RSG se senior regisseur: mandaat.

In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.

Die maatstaf vir sukses in die popmusiekbedryf is dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle noodwendig daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.

Hierdie reeks stel nóg van hierdie Midas-musikante bekend en is die opvolg van die eerste, gewilde reeks wat in 2018, asook die tweede reeks wat in 2021 uitgesaai is.

Dolly Parton

Volgens Kobus Burger sal daar suiwer nostalgie, verfrissende feite asook ‘n paar verrassings wees.

“Die samestelling van Die Midas van Musiek is gewoonlik ‘n opwindende snuffeltog. Buiten die musiek – waarvan daar gewoonlik hopeloos te veel is om van te kies – is dit soos om vir ‘n paar dae in die voetspore van ‘n besonderse kunstenaar te loop en dan ietsie van daardie ontdekkingstog in klank te deel. Ek sien daarna uit om weer Sondae saam met die luisteraars te reis.”

Doris Day

Die Midas van Musiek word vanaf Sondag 3 Julie – elke Sondagoggend om 10:05 – uitgesaai en sal tot einde September op lug wees.

Sade

Nat King Cole

 

WAT LUISTERAARS VAN DIE REEKS Sê 

Baie dankie dat jy die afgelope paar maande my Sondagoggende so spesiaal gemaak het. Elke Midas-program was spesiaal op sy eie manier want elke kunstenaar was net eenvoudig uitsoekgehalte. Baie dankie vir jou harde werk om hierdie spesiale programme saam te stel. – Kleintjie Cilliers, Alberton

Beste program ooit. Ek geniet dit vreeslik baie – Marlene Oosthuizen 

Ek is verlief op jou kennis oor van musikante en mooi MUSIEK. Ek is baie lief vir MUSIEK en die ontspanne aanbieding is absoluut wonderbaar! Baie dankie vir programme wat ons kan neem om te  ontspan op ‘n musiekeiland! – Amelia de Lange, Tzaneen

Maak asseblief die “Die Midas van Musiek” en Kobus Burger ‘n  gereelde en baie dikwels deel van RSG se programme. Bravo!!! Dit was dié beste manier om vanoggend die dag te begin! – Adri Visagie 

 Baie dankie, Kobus, weer eens vir die woes lekker luisterprogram. – Rita de Clercq