Ignatius: Regisseur, fotograaf, sakeman, gesinsman


Jy hoor sy stem baie kortliks op Driesestig, want eintlik is Ignatius Vlok die man agter die skerms wat sorg vir Driesestig se inhoud en dat alles vlot verloop. Wie is Ignatius as hy nie regisseur van Driesestig is nie en hoe het hy by radio beland?

Ignatius het op ‘n vrugteplaas op Riebeek-Kasteel grootgeword.

“As jy egter so na die familie op hul plase kyk, dan besef jy ek is meer van ‘n boer se seun as ‘n boerseun,” vertel hy. Maar hy het wel ‘n bestuurslisensie vir ‘n swaarvoertuig met ‘n sleepwa, dra ‘n kortbroek en het ‘n knipmes in die sak.

Sy pa is een van 9 kinders, so met die jaarlikse familiesaamtrek bekend as Vlok-Kersfees, is gewoonlik om en by ‘n honderd van die Vlokke by mekaar.

Leesgierig

“As kind het ek verskriklik baie gelees. Deesdae moet ek wag vir vakansie voor ek tot stilstand kom, stories soek en met ‘n regte boek kan ontspan. Gelukkig sorg Deon Meyer darem dat daar gewoonlik ‘n nuwe boek op die rak is wat ek vir Kersfees of my verjaarsdag kan kry.” Hy verjaar op 23 Desember, so as die boekgeskenk nie vir sy verjaarsdag opdaag nie, is dit gewoonlik darem twee dae later ‘n Kersgeskenk.

Van kleins-af wil hy ‘sake doen’

Buiten radio-man, is ‘sake doen’ ook in sy bloed. En sommer van kleins-af.  “Van standerd 4 af het ek vir nege jaar ‘n winkel-op-wiele bedryf.”

Ek het in 1997 by Radio Matie begin

Hy was in Hoërskool Paarl Gimnasium en is toe Universiteit van Stellenbosch toe, waar hy media en besigheid bymekaar gebring het. Hy het B.Comm studeer en by die kampusradio begin uitsaai. En getrou in sy aard van sake doen, het hy begin om die radio se advertensies te verkoop en te skep. Hy het ook die studentekoerant se advertensies verkoop en het vir lank Boslife! eposadvertensies na die studente versprei.

Die SA Fruit Journal bedryfstydskrif het bygekom, waar hy steeds die advertensiebestuurder is.

Met die radio as basis was hy ook platejoggie in die dorp se klubs en het boon-op die ander platejoggies vir die klubs organiseer. In dié jare het hy ook as ‘n fotograaf gewerk. Aan die einde van ‘n seisoen se troufoto’s neem, het hy met die ‘trougeld’ graag gaan toer en het 18 lande se stempels in sy paspoort.

Besig om foto’s te neem op Gifberg

Baie van die oorsese uitstappies was meer onder die see. “Ek het baie gescuba en het veral daarvan gehou om saam met haaie te duik.”

“Ek hou van mooi goed en het taamlik kuns versamel vir my mure.

RSG

In 2015 sluit hy by RSG aan as regisseur van Oggend op RSG  met Johan Rademan en Martelize Brink. “Martelize het voorheen  gesê ek en Johan maak dieselfde tipe grappies. Dis seker hoekom ek so lekker by die span kon inskakel. Haidee, Jacqui en Mariska maak die span vol wat van die oggend-gleuf na DrieSestig smiddae geskuif het. Hulle sorg dat mense se stories klank met kleur en geur is.”

Sy gesin

Maar dit is 2016 wat uistaan, want hy is toe getroud met sy groot liefde, Celeste, ‘n kerngeneeskundige.

Ignatius, Celeste, Luella en klein Celeste op die skoot

“Ons het twee dogtertjies, ‘n 6 -jarige dame en ‘n 3-jarige rabbedoe of in haar woorde, rabbedoeda! Siende dat my werksure meer buigsaam is as dié van my vrou, ry ek skoolkar en hanteer heelwat afdelings van die huishouding.”

Hy hou van rock-musiek. Celeste het op haar dag tjello gespeel vir die nasionale jeugorkes. “Tussen my rock- en haar klassieke musieksmaak is die musiek waarna ons wel by die huis luister dié van Frank Sinatra en Michael Bublé. In my kar is Collective Soul, Maroon 5, Fokofpolisiekar, Greenday, maar in my huis is kiste en kiste cd’s uit my platejoggiedae. Ek luister egter min my musiek. Ek leef met die radio aan en het vir jare al nie TV nie”.

“Ek maak rerig lekker Thaise groenkerrie. Net jammer my gesin eet nie kos met ‘n bietjie brand nie. Ek hou van braai en as daar Paul Slagter-wors van Riebeek-Wes op my kole is, is ek tevrede met die lewe. Ek hou van tyd in ons tuin en is veral passievol oor my clivias.”

Martelize skryf as volg oor haar kollega Ignatius:

“Ons loop al ‘n lank pad saam, maar die pad strek nog verder terug as 2015 en RSG. Ons was saam op skool by Paarl Gimnasium. Jare later het ons paaie weer gekruis by Radio Matie.”

“Daar is nie ‘n bron of spreker wat hy nie kan opspoor nie.”