Jaap Lourens, ons sender-man, groet


Jaap Lourens was vir jare ‘n beskermengel vir RSG.

As die draadloosstemme stil word, het ‘n oproep na Jaap gesorg dat die Sentech sender probleem so gou as moontlik opgelos word.

Luister hier na die onderhoud met Jaap Lourens op Driesestig:

Jaap Lourens wat al jare ‘n oog hou oor die senders wat RSG na die luisteraars bring.

Die tegniese ondersoek beampte by Sentech het sy roeping al kleindag gevind. As kind het hy in 1976 sy eie radio gebou na hy in die Patrys tydskrif ‘n diagram vir ‘n Kristal radiostel gesien het. Toe sy handewerk die Radio 5 – sein opvang,  was die koeël deur die kerk.

Op skool het hy saam met ‘n vriend ‘n elektronikaklub begin.  Beide aanleg en belangstelling het gesorg dat sy pad na die senders gelei het. In sy weermagdae was hy ‘n infanterie radio operateur. Daarna het hy ‘n draai in die koerantwêreld gemaak voor hy sy heil in 1988 by die SAUK gevind het. By Radiokop, Honeydew, was hy betrokke by die tegniese versorging waar hul onder meer kortgolf internasionale uitsendings gemonitor het vir internasionale nuus.

Jaap vertel hoe die nuus onder andere deur Radio RSA, ná die roep van die bokmakierie, oor die eter die wêreld in gestuur is.

Radiotegnologie is al van jongs-af in Jaap Lourens se bloed.

In 1994 het Jaap begin in die rol soos wat ons hom vandag ken. Die man wat ontvangsprobleme ondersoek. Dit was in die sender ingenieurwese afdeling van die SAUK, vóór Sentech ‘n aparte eenheid buite die SAUK geword het. Sentech hanteer steeds die SAUK se seinverspreiding vir beide radio en TV, maar bied ook dié diens aan ander media platforms.

Deur die jare het Jaap die verandering in uitsaaitegnologie beleef. Van analoog en kortgolf, na satelliet, digitale tegnologie en nou grootliks internet stroming. Vir hom kom daar egter nou ook verandering.

Jaap besig om senderprobleme uit te sorteer

Jaap se dae om radio- en TV-seinklagtes vir Sentech in die veld te ondersoek en probleme in die sendernetwerk te verifieer, kom nou tot ‘n einde.  Dit gaan egter nie net ‘n geval wees van tyd met sy honde spandeer en met RSG resepte eksperimenteer nie. Die tegniese kant van radio bly in sy bloed. Hy sal voortaan in ‘n privaat hoedanigheid beskibaar wees om die radiogemeenskap te dien.

Hy moedig RSG luisteraars aan om flink voort te gaan om sender uitdagings te rapporteer en te sorg die radio stemme is gou weer terug op lug.

( Ignatius Vlok, Regisseur Driesestig op RSG)