Jong liefde in Jeugwenner se radiodrama besing


In Radioteater van 13 April word die wendrama in die afdeling vir Jong Skrywers van die 2022 RSG Radiodramaskryfkompetisie gehoor: Mot, deur Almé Swart.

Mot, of Mathilda soos sy genoem word as sy in die moeilikheid is, woon by haar Pa en sy jongste vriendin.  Haar Ouma, wat die belangrikste mens in haar lewe was, is onlangs oorlede en Mot is verpletter.  Haar vriend Liam is darem altyd daar om haar by te staan, maar daar is dinge wat Mot nie eers met hom deel nie.  Dan ontdek Mot ‘n geroeste koekblik in die perskeboom wat in die agterplaas was, se gat.  In die blik is sleutels, en ‘n adres.  Mot oorreed vir Liam om haar te help en hulle vat die langpad Kalkbaai toe.  Dáár ontdek Mot dinge wat haar lewe verander.

Die regisseur, Anrich Herbst sê “ liefdesverhale in ons gebroke wêreld gee hoop. Hoop dat daar iewers iemand is wat jou spesiale maat kan wees, by wie jy jouself kan wees. Iemand wat aan jou kant is. Mot is uiteindelik ‘n liefdesverhaal, van jong liefde. Vol energie, soos dit hoort. Dit herinner ons dat liefde enige plek kan oorleef en kan seëvier.”

Hy vertel verder: “Ek het my akteurspan rondom Hannah Borthwick gebou (wat die hoofkarakter – MOT – vertolk). Vandaar moes ek ‘n manlike akteur kry wat by haar sou kon hou (die fantastiese Wessel Pretorius) en natuurlik ‘n sterk OUPA karakter (Nic de Jager). In my beroep is Nic seker die manlike stemkunstenaar na wie ek die meeste opkyk. Hy kan enigiets doen. Die talentvolle Ira Blanckenberg is een van daardie akteurs wat altyd haar alles en beste gee. Sy’t die lieflike rol van die slordige “girlfriend” uitmuntend vertolk. Dis baie maal die lekkerste karakters om die lewe aan te skenk. En dan is Lee-Ann van Rooy  ‘n briljante akteur wat soveel energie na haar tonele gebring het en perfek gewerk het as die verrassende GERTIE-karakter wat slegs vir ‘n paar uur deel van ons hoofkarakters se reis is. Die musiek het eintlik homself gekies (as daar so iets is). Ek wou aanvanklik in ‘n heel ander rigting daarmee, maar die energie van Queen se deuntjies het onmiddelik ingeglip om die trant van die produksie te skep.”

 

Ira Blanckenberg, Lee-Ann van Rooy, Hanna Borthwick  en Anrich Herbst (regisseur).

Anrich Herbst (regisseur), Nic de Jager, Wessel Pretorius en Hanna Borthwick