Ons indrukwekkendste kampioenbome


Oggend op RSG: Maandag 7 Aug 2017

Die Kampioenboomprojek van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ten doel om individuele bome en groepe bome van nasionale bewaringsbelang te identifiseer en te verklaar as beskerm. Sodanige bome word verklaar onder die Nasionale Boswet van 1998, en mag nie gekap of beskadig word sonder lisensie nie. Sulke lisensies word egter slegs oorweeg indien bome ‘n wesenlike gevaar vir lewe of eiendom inhou, maar dit het egter nog nie in die projek se bestaan gebeur nie.

Hierdie projek het sy oorsprong in 2004 toe die sogenaamde Sophiatown eikeboom tot so ‘n mate deur ‘n huiseienaar verniel is dat dit later doodgegaan het. Hierdie reuse eikeboom in Johannesburg se ou woonbuurt Sophiatown, het die gedwonge verskuiwing van ‘n gemeenskap in 1955 oorleef en was die dramatiese middelpunt van die vergeefse protesaksies wat die sloping van die karaktervolle multi-kulturele buurt voorafgegaan het. Dit was juis om ‘n herhaling van so ‘n tragiese verlies aan boomerfenis te voorkom, dat die Kampioenboomprojek geloods is.

Wêreldwyd is daar verskeie kampioenboomprojekte, maar Suid Afrika s’n is die enigste in die hele Afrika. Dit is al deur die Verenigde Nasies bestempel as ‘n beste praktyk wat deur ander Afrikalande nagestreef behoort te word. Streng kriteria word toegepas om bome te selekteer, en in die afgelope dertien jaar is slegs 81 bome verklaar, met ‘n verdere vier nuwe bome wat onlangs tot die lys toegevoeg is. Hierdie kriteria sluit in die grootte van bome, ouderdom, landskapwaarde en historiese waarde. ‘n Paneel van kundiges beoordeel nominasies wat elke jaar aan die Departement gestuur word, en doen dit volgens ‘n puntestelsel wat aan die kriteria gekoppel is. Die publiek kan sodanige nominasievorms op die Departementele webwerf www.daff.gov.za kry, of by die koordineerder van die kampioenboomprojek by izakvdm@daff.gov.za .

Uitsonderlike boom-erfernis

Boomklimmer in Outeniekwa geelhout Dalene Matthee Groot Boom

Ons land het ‘n uitsonderlike boomerfenis. Dink maar aan die manjifieke Outeniekwa-geelhoute in die Knysna en Tsitsikamma woude wat bo die woudkroon uitsprei, en wat tot duisend jaar oud kan word.

Een van hierdie bome – die Tsitsikamma Groot Boom – ontvang jaarliks meer as negentigduisend besoekers.

Outenikwa geelhout in die Knysnawoud – die Kind Edward boom

Die hoogste bome in Afrika – ‘n vierling Saligna bloekombome (Die Magoebaskloofreuse). Die foto van die boomklimmer by Magoebaskloof is geneem deur Leon Visser. Leon Visser is ‘n boomklimmer van formaat en hy help om die hoogtes te meet.

Hoogste bome in Afrika
Ons spog met die hoogste bome in Afrika, naamlik vier saligna bloekombome wat in 1906 deur die bosboupionier AK Eastwood as deel van ‘n plantasieblok in Magoebaskloof geplant is.

Gedurende 2013 het ‘n groep internasionale boomklimmers hierdie bome kom klim, en hulle hoogte op 81.4 meter bepaal, wat sowat 26 verdiepings hoog is!

Lede van die internasionale boomklimeskpedisie in 2013

Die Sagole kremetart het 2e dikste stam in wêreld
Kremetarte groei nie juis hoog nie maar is bekend vir hul massiewe dik stamme.

Die Sagole kremetart in die noorde van die Limpopo provinsie spog met die tweede dikste stam van enige boom in die wêreld.

Tydens die vervaardiging van ‘n 50/50 televisieprogram oor kampioenbome wat etlike jare gelede deur wyle Johann Botha aangebied is, het 55 Vendakinders hande om die stam gevat, wat ‘n ongelooflike 33.7 meter in omtrek is!

Die Sagole kremetart in Limpopo. Hierdie is die tweede dikste boom in die wêreld met stamomtrek van meer as 33.7m.

Wildevybome kan ook massiewe afmetings aaneem. Die Wonderboom in Pretoria bestaan eintlik uit ‘n moederboom, met drie kringe dogterbome wat ontspring het waar die oorspronklike boom se takke die grond geraak het. Hierdie boom het die wydste kroonwydte, wat onlangs op 61 meter gemeet is. Vir jare lank het lede van die Ndzindza Ndebele stam geglo dat die boom sy groeikrag ontvang het van hoofman Nyabele Mhlanga wat volgens hulle daar begrawe was. Nyabele was deur die ou ZAR republiek in Pretoria gevange gehou vir sy aandeel in ‘n rebellie, en is in 1899 vrygelaat.

Die Wonderboom in Pretoria

Kremetarte kan baie oud word, en kan vir baie jare bly voortleef selfs nadat hulle takke teen die grond begin neerstort. Meeste van die massiewe takke van die Glencoe kremetart naby Hoedspruit lê soos ‘n seester se arms rondom die stam op die grond uitgesprei. Maar elke lente stoot daar nuwe blare uit asof hierdie Bosveldreus weier om op te gee. Koolstofdatering het die boom se ouderdom op ongeveer 1 840 jaar bepaal, wat dit die oudste boom in Suid Afrika maak.

Die Platland kremetart naby Modjadjiskloof was wêreldbekend vir die kroeg aan die binnekant van die boom, maar hierdie boom het onlangs heeltemal inmekaar gestort. Kundiges op boomsiektes kon geen kwaadaardige patogeniese organismes vind in die stam nie, en daar word vermoed dat die boom eenvoudig die einde van sy leeftyd bereik het.

Geskiedkundige bome
Ons boomerfenis gaan ook ver terug in die geskiedenis. By die Diaz museum in Mosselbaai staan die bekende Poskantoorboom. Portugese handelskepe wat tussen Europa en die Ooste gevaar het, het sedert 1488 gereëld in Mosselbaai aangedoen om water by ‘n fontein naby die boom te kry. In Julie 1501 het skeepskaptein Joao da Nova ‘n briefie by die boom gevind wat ‘n paar maande vantevore deur ‘n ander skeepskaptein daar gelos is. Volgens oorlewering het dit toe ‘n instelling gword vir skeepskapteins wat huiswaarts vaar om briefies met handelsinstruksies te los vir kapteins onderweg na die Ooste. Hierdie boom is lank gelede as nasionale gedenkwaardigheid verklaar, net soos ‘n reuse kamferboomlaning wat meer as drie eeue gelede deur goewerneur Willem Adriaan van der Stel aangeplant is op die Vergelegen landgoed by Somerset Wes. Daar is dus bome met dubbele beskermingstatus as kampioenbome en nasionale gedenkwaardighede.

Poskantoor boom op Mosselbaai

 

 

 

 

 

Van der Stel se Kamferlaning Vergelegen

Landskapswaarde
Benewens grootte, ouderdom en geskiedenis, het ons land ook bome van uitsonderlike landskapswaarde. Inheemse en uitheemse bome vorm ‘n belangrike deel van baie stede en dorpe se karakter. Dink maar aan Stellenbosch se eikebome.

Hier het die ou eikebome van Ryneveldstraat ook dubbele beskerming as gedenkwaardigheid en kampioenbome. In stedelike parke en arboreta staan ook versamelings van bome wat al langer as ‘n eeu gelede aangeplant is deur mense met visie.

Stellenbosch eikebome in Ryneveldstraat

In Kaapstad se Arderne Gardens het Ralph Arderne en sy seun Henry Arderne reeds in 1845 ‘n boompark begin aanlê, wat dekades later aan die stadsraad geskenk is.

Tokai Arboretum is in 1885 deur die koloniale bosboubewaringshoof Joseph Storr Lister begin, en honderde boomspesies is daar onder sy toesig aangeplant. Hierdie arboretum in die Tafelberg Nasionale Park het in 2015 vuurskade gekry, en planne word tans deur SANParke uitgevoer om dit te herstel en weer vir die publiek oop te stel.

Laning plataanbome eeu gelede geplant deur W Marriot Pietermaritsburg botaniese tuine

 

Rooirivierbloekombome Boschendal. Die grootste boom in SA staan in die laning.

Die nuuste toevoeging tot die lys
Die kampioenboomlys is ‘n groeiende lys, en nuwe bome word elke jaar ontdek en tot die lys toegevoeg. Die heel nuutste toevoeging is ‘n statige ou wildevy wat by ‘n gastehuis in die hartjie van die dorpie Albertinia in die Wes Kaap groei – ‘n dorpie wat eintlik meer bekend is vir aalwynprodukte as bome. Hierdie merkwaardige boom het ‘n stamomtrek van net oor die 14.6 meter, en het waarskynlik nooit droogte geken nie omdat dit op ‘n fonteinryke plek staan.

Die fluisterboom

 

 

Die fluisterende wildevy

 

Die Fluisterboom van Albertinia is die heel nuutste inskrywing is. Hier is Marietjie Coetzee regs (eienares van die gastehuis waar die boom staan, en wyle Pieter Pieterse se suster) saam met Anneke van der Merwe. Die boom se stamdikte word in diameter aangegee (deurnee in reguit lyn), maar omgeskakel na stamomtrek is dit ‘n omtrek van net meer as 14.6 meter! Dit is ‘n gewone wildevy, met baie lugwortels sigbaar teen die stam. Die boom moes na raming geplant gewees het sowat 200 jaar gelede, en staan op ‘n baie waterryke fontein wat beteken het hy is nooit deur droogte geraak nie.

Weens die streng kriteria wat geld vir die lysting van kampioenbome, is daar baie genomineerde bome wat, alhoewel hulle nie nasionale bewaringstatus kan kry nie, tog bewarenswaardig is op plaaslike vlak. Die kampioenboompaneel is dus besig om te besin oor moontlike wyses waarop plaaslike kampioenbome ook status kan kry, waar daar ookal kapasiteit binne plaaslike owerheidsvlak sou wees. Gewone mense het deel aan die kampioenboomprojek, en dit is hulle wat bome nomineer, en wat terugvoer gee aan die Departement oor die toestand van verklaarde bome. Dit is bome wat volksbesit is, en ‘n erfenis waarop ons met reg trots kan wees.