Luister Donderdag na ‘Nag van die Luiperd”
Die tweede Radioteater-seisoen van 2024 duur van Donderdag 3 Oktober tot 26 Desember met ‘n nuwe radiodrama elke Donderdagaand om 20:00. Daar is ‘n span nuwe skrywers, regisseurs en stemme met gesoute en bekende akteurs wat agter die mikrofoon inskuif.
Die Hertzogbekroonde dramaturg Bartho Smit sou vanjaar sy 100ste verjaardag gevier het, en RSG onthou hom met die uitsending van die argiefdrama Putsonderwater. Smit is ook bekend om dramas soos Moeder Hanna en is met die Encyclopedia Brittanica-prys bekroon vir sy Engelse vertaling van Die verminktes as The Maimed.
Kyk net wat wag op jou.
17 Oktober
Joe Kleinhans het Nag van die luiperd geskryf na aanleiding van ware gebeure waarin ‘n paartjie in hulle daktent aangeval is deur ‘n luiperd.
Lizz Meiring, Jacques Gombault, Francois Stemmet en Marina Coetzee kan gehoor word, en Carl Trautman debuteer in sy eerste RSG radiodrama op 17 Oktober. Estel de Beer is die regisseur.
24 Oktober
Ikarus uit die Griekse mitologie is die inspirasie vir die verhaal uit die pen van Sophia van Taak, aanbieder van Vers en klank. Sophia, bekend om haar bekroonde radiodrama Springgety, debuteer ook as regisseur.
Die rolverdeling sluit gunstelinge in soos Jana Kruger, Wilhelm van der Walt, Marion Holm, Johan Rademan, Bianca Flanders en Angelo Bergh (Kelders van geheime) in sy radiodramadebuut.
31 Oktober
Die veelbekroonde radiodramaturg Adriaan Havenga, skrywer van Die dood van Bititi en Iewers in die grys, verras opnuut met Slag wat sorg vir onverwagse verrassings en geheime om die spanning in die verhaal vol te hou. ‘n Storm laat ‘n ongewone gas op die plaas opdaag. Dit blyk die gas is in die omgewing vir ‘n rede.
Die rolverdeling is Juanita de Villiers, Tobie Cronjé en Donovan Petersen. Skakel gerus in om te hoor hoe die verhaal ontvou met regie onder leiding van Ina Strydom.
7 November
Bartho Smit se klassieke drama Putsonderwater is destyds in Suid-Afrika verbied, maar word weer uitgesaai ter viering van die skrywer se 100ste verjaardag.
Dit is verwerk en opgevoer deur Eben Cruywagen met Frieda van den Heever, Marlo Minnaar, Petrus du Preez, Johan Botha, Nic de Jager, Neels Coetzee en Johann Nel in die rolverdeling.
14 November
Soete wraak is die opvolg van die 2023-radiodrama Soete drome. Dié keer hou Karen Wessels haar lyf nie net skrywer nie maar ook regisseur.
Lisa Bruwer ontmoet haar “ridder op sy wit perd”, maar dié romantiese held bring verwarring en ‘n klomp geheime uit die verlede met hom saam…
Marina Coetzee kan weer gehoor word saam met Pierre Breytenbach, Donoven Pietersen, Kevin Smith, Casper Lourens en Reginald Hufkie.
21 November
Anton Treurnich het ‘n stukkie geskiedenis vasgevang in Die nagskuit kom wat handel oor die storm-en-drang- jare tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die verhaal van die kampioenbokser Robey Leibbrandt vorm die agtergrond van hierdie Weskusstorie.
Johan Rademan het die regie behartig met Deon Lotz, June van Merch, Jacques Bessenger, André Samuels, Stefan Vermaak en Estelle Grobler wat haar debuut in ‘n radiodrama maak op 21 November.
28 November
Mevrou Dominee moet besoekers uit die gemeente ontvang en onthaal. Riëtte Heslinga skryf uit inspirasie wat sy put deur fyn na mense te luister.
Lelia Etsebeth debuteer as regisseur en het die teks fyn ontleed en versorg om die klankryke wêreld van radioteater ten toon te stel. Die stemme van Cindy Swanepoel, André Stolz, Doctor Khasu, Tobie Cronjé en Gretha Brazelle kan gehoor word.
5 Desember
RSG bied in dié seisoen ‘n spesiale radiodrama aan wat deur Innovation for the Blind in Worcester opgeneem is. Wysie oor die water is ‘n kortverhaal deur Albert Short. Die drama is opgeneem in die ateljees van Innovation for the Blind in Worcester deur die inwoners en personeel wat ‘n passie en aanvoeling vir radioteater het.
Die kortverhaal sal gevolg word deur ‘n argiefdrama uit 2011, Grensgeval deur Rita Swanepoel met regie deur Joanie Combrink. Die rolverdeling is Roeline Daneel, Eben Genis, Waldemar Schultz, Wessel Pretorius en Susanne Beyers.
12 Desember
Mammie se voorhuis bied ‘n blik op die wel en wee van ‘n Kaapse ouerhuis waar die deure oopstaan vir almal om hulle bagasie te kom afpak. Erin Patience debuteer as skrywer met hierdie storie uit haar gemeenskap.
Die regie is behartig deur Denver Vraagom. Die rolverdeling is Zenobia Kloppers, René Cloete, Simoné Benjamin, Enrico Hatrzenberg, Sharfa du Plessis en Cole Wessels.
19 Desember
Dis Kersfees, die seisoen van welwillendheid, vrede en samesyn. Die ongebakte Alaska belig daardie opwinding, vreugde en spanning oor die feestyd – veral as ‘n woonstel te klein is en die toilet te veel spoel.
Johanna Steyn skryf hierdie drama om ons almal te herinner dat die Kerstyd oor soveel meer gaan as vooropgestelde idees.
Hannah Borthwick, André Terblanche, Albert Maritz, Susanne Beyers en Conradie van Heerden kan gehoor word in die drama met regie deur Joanie Combrink op 19 Desember.
25 Desember
Op 25 Desember word ‘n spesiale Kersprogram gevolg met ‘n Kersdrama om 15:05. Die Ster van Bethlehem is ‘n verwerking deur Henriëtta Gryffenberg van die verhoogteks “Wagters op die mure” deur haar pa, Emil Gryffenberg. Die verhaal word vertel vanuit die oogpunt van ‘n jong, gestremde skaapwagter wat op die buitewyke van Bethlehem woon.
Die rolverdeling sluit jong, bekende en nuwe stemme in soos Hendré Henning (wat in die vervolgverhaal Op die oog af gehoor is), Charlie Bouguenon, Kaz McFadden, Duncan Johnson, Antowan Nothling en Rian Terblanche. Lizelle Pike maak haar buiging as Maria. Eddie de Jager is die regisseur.
26 Desember
Die seisoen sluit af met die argiefdrama Kysbriewe (Love Letters) deur A.R. Gurney. Dié liefdesverhaal is vir die radio verwerk, vertaal en opgevoer deur Eben Cruywagen met Johann Nel, Juanita Swanepoel en Ronel Geldenhuys in die rolverdeling op 26 Desember.
Dit handel oor Andrew en Melissa wat vir sowat ses dekades lank vir mekaar briewe skryf. Dit is ‘n wipplank- en uitdagende verhouding wat veroorsaak dat hulle al hoe verder van mekaar wegdryf. Maar op papier blom die liefde steeds.
Luister elke Donderdagaand om 20:00 vanaf 3 Oktober. Ook beskikbaar op potgooi by rsg.co.za
Hou ook ons sosiale media platforms dop vir agter die skerms foto’s, videos en brokkies.
Die hele reeks radiodrama’s in ‘n neutedop:
Luister weer
3 Oktober
Die seisoen begin met ‘n tweeluik-aanbieding van klassieke kortverhale, Ou Leeumelker deur JWF Grosskopf en Gelykheid en broederskap deur Abel Coetzee. Dit is vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen, met Anrich Herbst as regisseur van Gelykheid en broederskap en Juanita de Villiers wat haar regiedebuut maak met Ou Leeumelker.
Die drama met Cobus Venter, Christelle Webb-Joubert, Francois Stemmet, Rian Terblanche, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer handel oor die legende oom Hansie (Die Leeumelker) wat ‘n leeu moet opspoor
Oom Hansie is trots op sy kennis en ervaring as jagter, selfs al word hy deur die jonger geslag onderskat. Sy liefde vir die ou tradisies bots met die moderne wêreld rondom hom, en hy probeer sy plek daarin behou. Oom Hansie simboliseer die einde van ‘n era, maar vasgevang in sy eie tradisie en trots. Die spelers is Cobus Venter, Christelle Webb-Joubert, Francois Stemmet, Rian Terblanche, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer. Juanita de Villiers is die regisseur. Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.
Gelykheid en broederskap handel oor die armoede tydens die depressiejare met Carel Nel, Cintaine Schutte, Richard van der Westhuizen, Pieter van Zyl en Stefan Vermaak in die rolverdeling.
Ons toneel speel af in die Johannesburg van die 1930’s, rondom ‘n tafeltjie in ’n kafee waar ‘n joernalis en sy fotograaf-vriendin sit. Die joernalis het ‘n ontmoeting met ‘n bedelaar gehad, wat ‘n groot indruk op hom gemaak het. Na aanleiding sy vertelling aan sy vriendin, ontgin die twee hoofkarakters gedagtes op die vraag of ons, as mense, uiteindelik tog maar ongelyk is, en slegs ‘n broederskap handhaaf met die mense van dieselfde stand. Die spelers is Carel Nel, Cintaine Schutte, Richard van der Westhuizen, Pieter van Zyl en Stefan Vermaak. Anrich Herbst is die regisseur. Vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen.
10 Oktober
Eendag in Alicante is ‘n roerende verhaal propvol romanse en nostalgiese liefde.
Om ‘n geliefde aan die dood af te staan is een van die moeilikste dinge wat ooit met enige mens kan gebeur. Maar is daar hoop na die verlies.
Gesoute akteurs Elma Potgieter, Anton Dekker, Anton Schmidt en Heidi Mollentze vertel ‘n storie van hoop in Eendag in Alicante.
Geskryf en opgevoer deur Mari Snyman.
Die storie
Mira en David ontmoet mekaar in Alicante, ‘n romantiese kusdorp in Spanje, en dis liefde met die eerste oogopslag. Eendag in Alicante is ‘n terugblik en terselfdertyd ‘n vorentoe-kyk van hulle liefdesverhaal.
Toe Mira se man, David, dood is, onttrek sy haar. Sy hou op werk, vermy haar beste vriendin Katrien, antwoord nie haar foon nie, en sy gaan nêrens heen nie. Enige iemand wat ‘n geliefde aan die dood moes afstaan sal die gedrag verstaan.
Maar Katrien gee nie moed op nie. Toe sy agterkom Mira vermy haar, daag sy eendag onverwags by haar huis op, en sy ‘dwing’ Mira om vir ‘n slag weer uit te gaan en die buitewêreld te ervaar. Mira vind dit moeilik, en sy raak angstig toe sy aan David herinner word in die mansafdeling van ‘n winkel.
Katrien ondersteun haar vriendin en die twee deel herinneringe uit hulle verlede. Hulle dink onder andere terug aan ‘n besoek aan Alicante, in Spanje, waar hulle vakansie gehou het, en waar Mira David ontmoet het. Dit was liefde met die eerste oogopslag. En, weereens, sal mense wat dit ervaar het, verstaan hoe dit werk.
Mira en David het saam ‘n tuinbou-besigheid bedryf en hulle visdam met ‘n spuitfontein is vir haar baie belangrik.
Wanneer die spuitfontein se pomp breek, roep sy die hulp van ‘n nutsman in. Dis hoe sy Lourens ontmoet. Hy het al swaargekry in sy lewe en, sonder dat Mira dit beplan of voorsien, begin sy met hom gesels. Sy vertel hom van David en begin stadig maar seker vrede maak met haar geliefde se dood.
Maar dit bly nie net by gesels nie. Daar is heelwat kinkels in die kabel voordat Mira finaal kan afskeid neem van David.