Kokertoekenning aan Mariëtta


Mariëtta Kruger

Die Afrikaanse Taalraad het onlangs vir Mariëtta Kruger bekroon met ‘n Kokertoekenning vir haar Lewenslange bydrae.

Só skryf die Afrikaanse Taalraad oor haar toekenning:

“Mariëtta Kruger ontvang die Koker vir Lewenslange Bydrae. Sy begin haar 42 jaar lange loopbaan in 1980 by die toenmalige Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK, later slegs SABC) waar sy tot in 1984 werksaam is as joernalis en omroeper by die nuusdiens en Radio Suid-Afrika. Sy is ook die regisseur en aanbieder van die radionuusprogramme Monitor en Spitstyd. Sy het haar lewe gewy aan Afrikaans – in die uitsaaiwese, maar ook in die doen-en-late van haar persoonlike lewe. Gegewe haar liefde vir die taal, kry sy hiermee erkenning vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans. Baie geluk, Mariëtta! “

Kollega Henco Kruger, wat die toekennings namens haar in ontvangs geneem het, het op die geleentheid die volgende gesê:

“Dames en here, vanmiddag by hierdie plegtige geleentheid op die oewer van die Hennopsrivier te Leriba Lodge het julle die dame met die mooiste stem in Suid-Afrikaanse televisie en radio verwag. Dis ‘n probleem want ek en die persoon deel net ‘n van – ek is nie ‘n dame nie; ek het nie die mooiste stem nie; en ek het ook nie die reuse bydrae tot Afrikaans gelewer soos Mariëtta Kruger nie. Mariëtta het haar lewe aan Afrikaans gewy – in die uitsaaiwese maar ook in die doen-en-late van haar persoonlike lewe. Gegewe haar liefde vir die taal, kry sy vanmiddag erkenning vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans.

As haar RSG-kolega is dit vir my ‘n voorreg om namens Mariëtta die Kokertoekenning in ontvangs te neem. Sy het in 2004 weer by RSG begin uitsaai nadat sy haar uitsaailoopbaan in die jare tagtig daar begin het. Hoewel sy lang draaie by televisie gemaak het, bly radio haar eerste liefde. RSG is ‘n plek waar Afrikaans elke dag gelééf word.

Terwyl ons by formele geleenthede soos hierdie Afrikaans se oorlewing bespreek, is Mariëtta élke middag besig om Afrikaans op die mooiste, kleurrykste en suiwerste manier moontlik op RSG te praat. Met grasie het sy die afgelope 40 jaar voortgebeur en ‘n loopbaan uitgekerf wat ‘n nuwe era vir televisie en radio ingelei het. In hierdie seisoen van haar lewe insprireer sy my hoe sy aktief bly in die gemeenskap én in die bevordering van Afrikaans; hoe sy goed is vir haar medemens; jong mense oplei en letterlik op ‘n daaglikse basis gestalte gee aan die Afrikaanse Taalraad se visie “Saam die toekoms in met Afrikaans.”

Sy is sinoniem met nuus en aktualiteit maar ook ‘n bok vir sports en glo ‘n mens moenie jouself of die lewe te ernstig opneem nie soos toe ‘n bekende komediant haar jare gelede die bynaam Moreletta Kruger gegee het. Aangesien ons hier langs die Hennopsrivier staan kan ek met julle deel dat ‘n RSG-luisteraar onlangs na my en Mariëtta as Moreletta Kruger en Hennopspark Kruger verwys het wat my weereens laat besef het dat ek bevoorreg is om daagliks in die geselskap van ‘n lewende legende te wees – Mariëtta Kruger. Baie dankie aan RSG wat die platform bied waarmee hierdie lewende legende daagliks deel van Suid-Afrikaners se lewens kan wees en baie dankie aan die Afrikaanse Taalraad vir haar toekenning.”