Kom ontdek ons grootste nasionale botaniese tuin


Daar is elf nasionale botaniese tuine in Suid-Afrika wat deur SANBI bestuur word. Die Hantam Nasionale Botaniese Tuin is die grootste nasionale botaniese tuin in Suid-Afrika. Johan Rademan gesels daar met kenners oor die geofiete, fauna en flora op die Bokkeveldplato.

“Kyk dis September weer, lente is in ons land” lui ‘n ou Afrikaanse liedjie. En op Lentedag, 1 September, verken ons Suid-Afrika se geliefde Namakwalandse blommeprag via die enigste Botaniese Tuin in die Noordkaap saam met Johan Rademan.

Die tuin lê 5 km suidoos van die blombolplantehoofstad van die wêreld, Nieuwoudtville.

Sir David Attenborough se omgewingsoog het die stuk aarde in die 1990’s ontdek. Im 2007 is die plaas in die Oorlogspoort deur die Suid-Afrikaanse Biodiversiteits Instituut gekoop en as n nasionale botaniese tuin omskep. Stigterskurator, Eugene Marinus, vertel van die opwindende gebeure en deel wenke en gewaarwordinge in sy loopbaan met luisteraars en besoekers. Sy fyn waarneming van die natuurlewe het daartoe gelei dat die Langtongvlieg na hom vernoem is.

Namakwaland lê wyd en uitgestrek en gekwalifiseerde toergids, Mike Spies, skets die prentjie van die nagenoeg 6 streke binne die groot Namakwaland.

Dr Morné du Plessis van die WWF verduidelik ook hoe om grond en gebiede te identifiseer en om biodiversiteitstedes gekoop en bewaar moet word.

Die Bokkeveldplato se geologie,  plant en diere lewe het doktorale-student, Brian du Preez  se verbeelding aangegryp en hy vertel van die natuurmosaiek en hoe die vetplante en bolplante die ergste uitdagings kan oorleef.

Voëlkykers, soos die blomkykers, stroom van heinde en verre om die besondere skatte te kom af tik op hul lysies. Dr Hanneline Smit-Robinson van Birdlife Suid-Afrika sê kragdrade is n bedreiging vir sekere voëlsoorte en dat baie roofvoëls in n omgewing gewoonlik daarop dui dat die habitat gesond is.

Kom vier Lentedag, 1 September om 20h00 op RSG saam met Johan Rademan wanneer ons ‘n stukkie Namakwaland in die Noordkaap ontdek met ‘n besoek aan die grootste Botaniese Tuin  in Suid-Afrika, die Hantam Nasionale Botaniese Tuin.

Eugene Marinus deel graag wenke aan blomkykers in Namakwaland en ken die Hantam Nasionale Botaniese Tuin soos die palm van sy hand.

Die Langtongvlieg is vernoem na Eugene Marinus, stigterkurator van die Hantam Nasionale Botaniese Tuin.