Komediewenners dán op lug aangekondig 


Die wenners van RSG en NATi (Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) se heel eerste Kwartkomedie-skryfkompetisie word op Vrydag 18 Februarie om 10:30 in Alhoebekker op RSG aangekondig.

Foto: Jason Edwards, Unsplash

Die totale prysgeld is R40 000. Die wenner ontvang R20 000, die naaswenner R10 000 en dan is daar ook twee aansporingspryse van R5 000 elk.

Hierdie nuwe lekkerlag-projek het ‘n totaal van bykans 160 inskrywings gelok. Volgens Kobus Burger, RSG se senior regisseur: mandaat, was dit opmerklik dat dit nie net luisteraars is wat na komiese afleiding smag nie, maar dat skrywers van oraloor vurig was om hul beste komiese radiodramas met die land te deel.

Daar was twee afsonderlike panele met beoordelaars wat die inskrywings anoniem beoordeel het. ‘n Totaal van 21 finalistekste is in die eerste ronde aangewys en toe aan ‘n nuwe beoordelaarspaneel voorgelê om die vier wenners aan te wys. Humor en radiomatigheid moes die botoon voer.

Buiten die prysgeld sal die wenskrywers se dramas ook op RSG uitgesaai word. Dit sal as deel van RSG se eerste Radioteater-seisoen van 2022 (April tot Junie) geskeduleer word.

“In hierdie moeilike tyd vir die kunste en die mensdom, is dit so verfrissend dat RSG die dapper stap geneem het om ’n komedie-kompetisie aan te bied en NATi is besonder trots op hierdie venootskap,” het Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, gesê.

“RSG is ’n bron van lig, van troos, van inligting en bowenal is dit ’n onontbeerlike tuiste vir Afrikaans in al haar vorme.  Een van die belangrikste funksies van die kunste is:  om mekaar te vermaak en mekaar te leer ken.  Niemand moet die rol van die komedie in die samelewing vlak kyk nie!