Koue Kaiings = diensplig, intrige, humor, nostalgie


Koue kaiings deur Lee Doubell is ‘n spookstorie met ‘n verskil. Vyf jong mans is in die laat jare 70 op pad na Upington om vir hul nasionale diensplig aan te meld. Hulle is almal kleurvolle uiteenlopende karakters wat nie besef wat vir hulle voorlê nie. Die intrige is meesleurend, amper filmies, en dit is ‘n verhaal gevul met humor en nostalgie.

Luister Donderdag 28 Mei om 20h00 na dié radiodrama, wat die derde plek in RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie behaal het. Die regisseur is Johan Rademan.

Regisseursnota

Die afgelope 3 Seisoene van RSG Radiodramas het ek die voorreg gehad om 3 vars en verskillende invalshoeke in 3 dramas wat ek geregisseer het wat uit die Grensoorlog en “verpligte- nasionale-diensplig” era stam, aan te vat.

Eers was daar Jan Lampen se tronkstorie uit Wes-Afrika, Pointe Noire, daarna Bun en Heléne Booyens se Kaserne-drama, Korporaal Lemmer en die rowers en nou die treinkompartementdrama van Lee Doubell, Koue kaiings.

Onbewustelik sluit Koue kaiings ook aan by 2 onlangse Afrikaanse films, Kanarie en Moffie om die predikament van gay-dienspligtiges in ‘n soort van trilogie aan te spreek.

Die grensoorlog en nasionale diensplig verwante gebeure is duidelik nog nie uitgeskryf nie. Elke drama dissekteer ‘n vorm van erkenning of verlies en skram weg van die romantisering van oorlogvoering.

Luister dus gerus hoe Lee Doubell die skryfoorlog aanpak met verfrissende invalshoeke en gebeure in Koue kaiings.

Rolbesetting:

Leon (Sakkie) – Chris van Niekerk
Sakkie – Martin Venter
Emmer – Jacques Bessinger
Soutie – Deklerk Oelofse
Spieel – Conradie van Heerden
Luitenant – Leon Kruger

Byklanke/meng – Cassi Lowers
Regie – Johan Rademan

Die Koue Kaiings span. Agter: Chris v Niekerk, Cassi Lowers (klank), Martin Venter, Leon Kruger, Jacques Bessinger en Conradie v HeerdenVoor: DeKlerk Oelofse, Wilhelm van der Walt, Johan Rademan (regie)

Manne dis ‘n vooreg om in ‘n radioteater te kan speel. Vlnr. Chris van Niekerk, Martin Venter, Jacques Bessinger, Leon Kruger en Conradie van Heerden

Jacques Bessinger is slaggereed om met die potlood agter die oor regienotas te neem, maar hier is regisseur Johan Rademan in gesprek met Chris van Niekerk terwyl Martin Venter inluister.

Kan nie wees nie! Leon Kruger (2de van regs) in die rol van die luietnant, trap die ander troepe uit in Koue Kaiings.

DeKlerk Oelofse toets die mikrofoon.

Chris van Niekerk (middel) as Leon oftewel Sakkie, langs die jong Sakkie (regs) Martin Venter en Jacques Bessinger wat toekyk.

Die engelse tweeling in Koue Kaiings. DeKlerk Oelofse (Soutie) en Conradie van Heerden (Spieel).