Leer by die RSG-meesters tydens Suidoosterfees


RSG kuier vanjaar by die Suidoosterfees in Kaapstad waar ons die middagprogram DrieSestig regstreeks vanaf die Kunstekaap-teaterkompleks gaan uitsaai. En ons gewilde radiostemme gaan ’n meesterklas vir feesgangers aanbied.

Die gesoute RSG-omroepers Johan Rademan en Haidee Muller-Isaacs ontsluit die klankwêreld van radio en uitsaai in Werk in die wêreld van klank. Hierdie meesterklas word op Vrydag 26 April om 12:00 aangebied.

Leer hoe om ’n onderhoud te voer, stories in klank te vertel en sportkommentaar te lewer tot die magiese landskappe van radiodrama te ontsluit. Kom leer die fynere kunsies van uitsaai by twee van RSG se heel gewildste stemme.

Johan Rademan is ’n bekroonde vervaardiger van dokumentêre programme, aanbieder van Reis sonder grense, radiodrama-regisseur asook kommentator en sportaanbieder. Haidee Muller Isaacs is ’n gesoute joernalis, vervaardiger van dokumentêre programme, storieverteller en onderhoudvoerder. Sy bied ook Oppiradio en Haidee se hartsnommertjies aan.

Werk in die wêreld van klank word in die NATi Repteater aangebied en is gratis, maar beperkte plek is beskikbaar en dit is belangrik om vooraf deur Webtickets te bespreek:

https://suidoosterfees.com/opleiding-en-werkswinkels-training-and-workshops/

DrieSestig sal dan ook van Maandag 29 April tot Woensdag 1 Mei elke middag vanaf 13:00 tot 15:00 regstreeks vanaf die Kunstekaap-teater aangebied word. Kom ontmoet die aanbieders Martelize Brink, Johan Rademan en die regisseur Ignatius Vlok.