Liewe Heksie is terug!


“Haai oe, Blommie. Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar…”

Vir meer as ‘n halfeeu lank hoor oud en jonk die onmiskenbare stem van wyle Verna Vels as die immergoen Levinia Heks as hulle dié woorde lees. Ander sien hoe sy skaam-skaam haar punthoed oor haar oë trek as sy weer eens ‘n fout gemaak het.

Wel, daar is geen Grendeltyd in Blommeland nie en Liewe Heksie het glad nie haar bakleiery teen die Gifappeltjies laat vaar nie. Sy het bepaald op haar besem gespring en laat weet sy is bereid om ‘n paar draaie deur RSG se lugweë te kom maak.

Al is Vels in 2014 oorlede het sy nog vir die veelbekroonde RSG Kunstefees ‘n paar splinternuwe Heksie-stories opgeneem met Kobus Burger as die regisseur. Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, sê dit was een van die hoogtepunte van sy loopbaan om te sien hoe meesterlik Vels elkeen van die karakters basies foutloos via die mikrofoon kon gestalte gee.

Die nuwe stories vir RSG Kunstefees asook ‘n hele aantal argiefstories word vanaf Maandag 18 Mei in Alhoebekker uitgesaai. Dit sal elke weeksoggend om 10:45 – tydens die oggendboekvoorlesing – gehoor kan word. Liewe Heksie kom kuier dus in die plek van Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-le Roux, wat op Vrydag 15 Mei ten einde geloop het.

Kom kuier saam met Levinia, Kwaaitjie die kabouter, Karel Kat, Matewis (die babakatjie), die Gifappeltjies, Griet die perd, Koning Rosekrans asook die Silwer Roos wat met alle mag beskerm moet word!

Luister van Maandag 18 Mei, elke weeksoggend om 10:45 na Liewe Heksie, soos vertel deur Verna Vels.