Luister weer: Die Vuurvliegdief


Die merieteprys in die RSG Sanlam radiodrama skryfkompetisie is verower deur Madeleen Welman, met Die Vuurvliegdief, wat die radioteater-seisoen op 7 April open met onder meer Dean Balie en Marion Holm in die hoofrolle.

‘n Uitstekende drama en verhaal van hoop oor ‘n bejaarde vrou met Parkinson se siekte wat in ‘n hysbak vasgekeer word. Die dialoog is briljant en die stuk verken temas soos verdraagsaamheid, ouderdom, medemenslikheid en selfs politieke skeidslyne. Die beeldryke storie bevat tonele wat die luisteraar lank sal bybly.

Madeleen Welman is ‘n 68-jarige afgetrede joernalis en bemarker wat in ‘n klein dorpie aan die Oos-Kaapse kus afgetree het. Die vuurvliegdief is haar debuut-radiodrama en geskoei op die keer toe haar tagtigjarige ma in ‘n hysbak vasgekeer was – iets wat by haar ma tot ‘n fobie ontwikkel het. Sy reis graag en sy hoop om – as die pandemie dit toelaat – met haar prysgeld weer haar vlerke te sprei.

Die storie

Die Vuurvliegdief is ‘n hartroerende verhaal wat in wese die onwaarskynlike ontmoeting tussen Ria, ‘n angstige, afhanklike vrou in haar tagtigs, en William,  ‘n deurwag by ‘n winkelsentrum, skets.

‘n Diep band word binne ure gevorm wat agtergrond en kultuur oorgrens. Die soort band wat net in die dal van doodskaduwee gesmee word.

‘n Eietydse “Barmhartige Samaritaan” speel hom af in en om ‘n hysbak in ‘n besige winkelsentrum met priesters en leviete wat haastig en onnadenkend verby beweeg en een mens wat bly. Eenvoudig bly. Bly sit. En so iemand se lewe red.

 

Die karakters

 Ria (vertolk deur Marion Holm).  Ria ly aan Parkinson-siekte. Sy is fisies broos, maar nog vlug van begrip met ‘n skerp sin vir humor. Sy is in haar vroeg tagtigs.

 William (vertolk deur Dean Balie). William is ‘n Xhosa-deurwag by ‘n winkelsentrum. Hy is goedhartig, kalm van gees en handel met groot integriteit. Hy is in sy laat veertigs en woon ver van sy gesin af om finansieel te kan sorg vir hulle.

 Dokter Smuts (vertolk deur Waldemar Schultz). Dokter Smuts behandel Ria vir haar siekte. Hy is in sy vyftigs en is ‘n simpatieke, saggeaarde geneesheer.

 Jacoliza (vertolk deur Cintaine Schutte). Jacoliza is Dokter Smuts se klerk. Sy is in haar mid-twintigs en ‘n stereotipiese  selfgesentreerde poppie met min deernis of insig in pasiënte en veral bejaardes.

 Jarred (vertolk deur Carel Nel). Jarred is ‘n motorbestuurder by die ouetehuis waar Ria bly. Hy is in sy laat twintigs en kom ietwat agterbaks en senuweeagtig voor.

Die Vuurvliegdief Span v.l.n.r. Carel Nel, Cintaine Schutte, Marion Holm, Waldemar Schultz, Dean Balie, Frieda van den Heever.

Die Vuurvliegdief Span met Kaptein Cassi Lowers

 

Regisseursnota

 Die Vuurvliegdief was uit staanspoor geen maklike drama om op te neem nie. Daar was ‘n hele paar logistieke hindernisse, wat niks uit te waai het met die mooi verhaal wat Mareleen Welman geskep het of die manier hoe sy die storie vertel het nie. Helaas, is ek en Cassi (my linkerhand en voorslag in die ateljee) en vyf dapper, uitstekend voorbereide akteurs toe een oggend in Maart 6:00 die môre in die ateljee om tussen almal se besige skedules hierdie storie die “lug” te laat sien. Ek wou, soos altyd in die verlede, nie kopgee of buig oor watter akteurs ek voorstel in die rolle nie, vandaar die douvoordag roeptyd.

Sjoe, en was ek dankbaar!

Wat ‘n belewenis om vir Marion Holm na dekades terug te verwelkom in die radio-ateljee! En Dean Balie – is daar dan niks wat die mens nie kan doen of geen karakter wat hy nie met oortuiging en deernis kan vertolk nie?! Waldemar Schultz, Cintaine Schutte en Carel Nel – elk bekende teater- en TV-akteurs in eie reg, wat nooit een oomblik agteroor sit en wag vir die werk en die warm koffie (daai tyd van die môre!) om na hulle toe aangehardloop te kom nie; net eenvoudig inspring en doen wat gedoen moet word, help waar gehelp moet word – my respek vir elk het net nog gegroei.

Ek en Cassi het gevoel asof ons in ‘n teater sit en ek wou gereeld opspring en begin hande klap. Die akteurs het soos ‘n bitter goed geoliede masjien beweeg in die ateljee. Hulle het byklanke geskep uit wat ookal tot hulle beskikking was en Die Groot Vyf was heeltyd almal in die ateljee, of hulle nou aan die woord was of nie. Dis geen maklike taak om meer as die helfte van ‘n radioteater in ‘n hysbak te laat afspeel nie, maar die akteurs het bewys dat daar niks is wat nie met ‘n stuk metaal, eetgerei, ‘n ou fiets, baie elbow grease, tonne toewyding en geen prima donnas tot stand kan kom of oorkom kan word nie (kyk die videos!).

Ek was oorbluf en verstom en van voor af verlief op hierdie magiese medium waarin ons werk.

Wat ‘n voorreg om hierdie storie van Mareleen Welman te kon vertel saam met die meesterlike akteurs en Cassi Lowers!

Frieda van den Heever

Ria en Dokter Smuts:

Ria sit vas:

 

Bittereinder hysbakoperateurs:

Fiets word rolstoel:

 Die skrywer – Mareleen Welman, aan die woord…

Mareleen Welman

 Ek woon op Kleinemonde (nie Kleinmond nie) aan die Oos-Kaapse kus, lekker naby die strand en doen wat ons afgetredes doen: stap langs die see, krap in die tuin, doen joga en pilates, kuier by vriende. Om besig te bly, doen ek redigering en vertalings.

Ek het matrikuleer aan Vryheid Hoërskool in kZN, en studeer daarna Joernalistiek (B Kommunikasiekunde) aan die Noordwes-Universiteit in die dae wat dit nog die PU vir CHO was. (Ander vakke was Frans, Engels en Duits.)

My eerste werk was as skakelbeampte vir TRUK. Daarna swerf ek na Zimbabwe (hou skool), Pretoria (werk vir die staat) en in Klerksdorp verkoop ek “ball bearings.”

Ek en my gesin land in Grahamstad waar ek vir die Museums en die Kunstefees werk en kry ‘n diploma in Bemarking van Rhodes Universiteit. Ek hou skool by St Andrew’s College (Afrikaans) en verander rigting om die skool se Direkteur van Bemarking te word.

Tussen-in het ek vryskutwerk gedoen. Vir ROOI ROSE het ek onderhoude gedoen met onder meer Reza de Wet, Obie Oberholzer, Janet en Andrew Buckland, Annelisa Weiland en renjaer Sarel van der Merwe. Verskeie van my ligte kortverhale het ook in ROOI ROSE verskyn en ‘n paar artikels oor tuine is in COUNTRY LIFE gepubliseer.

Na jare in Grahamstad verhuis ek na die Kaap as Hoof van Bemarking vir Herschel Meisieskool. Daar verwerf ek sertifikate in webwerf- en bladuitleg van Stellenbosch Universiteit se Taalsentrum. Word gekortlys vir  beste redakteur deur die SA Publishers Forum.

Toe tree ek af en ontdek Woordfees se kortverhaalkompetisie. Die volgende van my verhale is in hul bundels opgeneem:   2019  –  Die Wederkoms van Job; 2020 –  Juffrou Heila se Tuin;  2021  –  Maljan se Oorlog; 2022   – Uitverkore.

Daarna volg RSG se Radiodrama-skryfkompetisie. Die bron van die verhaal Die Vuurvliegdief was my ma – ‘n Parkinsonslyer met erge engtevrees – se ervaring toe toe sy vasgekeer was in ‘n hyser en die deurwag haar hand vasgehou en vir haar Psalms gesing het. Sy het ook vertel van die twee Nigeriërs wat haar opgetel en huis toe gedra het nadat sy in die straat geval het.

Radiodrama was vir my ‘n heeltemal nuwe genre en dit was klippe kou, want ek moes leer om met my ore te sien. Sonder die mentorsprogram sou ek verlore gewees het.

 Hysbak helpmekaar:

 

Ria en William:

William en Ria: