Luister vanaand na “Hartseerherfs” deur PJ Haasbroek


Pieter Haasbroek

Die argiefdrama, Hartseerhefs, deur PJ Haasbroek, word op 11 Mei in Radioteater  uitgesaai ter viering van die skrywer se 80ste verjaarsdag.

Die storie kortliks:

Voorman is die leier van die klein gemeenskap tussen die wingerde en vrugteboorde. Daar leef hy enTant Kwaai en Oumama saam met die jongklomp Ratseknaap, Soetlief en Koggeljan te midde van daaglikse vreugdes, probleme en teleurstellings. Maar hulle gemeenskap word bedreig deur ontwikkelings op verskeie vlakke.

Die jonges kom in opstand teen Voorman se oorheersing, maar volgens die wet van die natuur moet diegene wat nie wil inpas en die reëls volg nie, sy heil elders gaan soek. Dit is dan ook wat Koggeljan doen. Met die res van die gemeenskap gaan dit egter al hoe swaarder, want hulle blyplek word bedreig deur dorpsuitbreidings en kos word al hoe skaarser.

Uiteindelik verhuis hulle in die rigting van ‘n nabygeleë dam – weg van die boorde en plase waar kos geredelik beskikbaar was. Die gemeenskap word deur verskeie uitdagings in die gesig gestaar. Koggeljan kom weer op die toneel en hy leer vir Ratseknaap allerhande nuwe dinge aan om te oorleef.

Die siklus van die natuur gaan egter sy meedoeënlose gang….

Die akteurs is onder andere Deon Lotz, Marlo Minnaar, Liz Archer, Joanie Combrinck en Riaan Visman.  Regie deur Johan Rademan.

Haasbroek is die skrywer van kortverhale, romans, jeugverhale en verskeie radiodramas.  Sy debuut kortverhaalbindel, Heupvuur, is in 1974 met die Eugene Marais prys bekroon.