Luister weer na komiese drama deur Albert Short


Luister Donderdagaand net na 20:00 na ‘n komiese radiodrama uit die pen van Albert Short. Die radiodrama speel in die tydperk van die Anglo-Boereoorlog af.

Die storie

‘n Kaal man word in die vlak waters van die rivier gevind. Hy is bewusteloos en kan nie praat nie. Wie is hy? Of meer belangrik – wát is hy? Want die Anglo-Boereoorlog is in volle swang. Is hy Boer of Brit? Vriend of Vyand? Tussendeur raak die verpleegster verlief op hom. En iemand raak jaloers – en die stomme Moses, al kan hy nie ‘n vinger lig of ‘n woord sê nie, verkeer in doodsgevaar!

Hierdie is ‘n absurde komedie wat afspeel teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog wat vanaf 1899 tot 1902 in Suid-Afrika gewoed het. Dit was Boer teen Brit, en om in daardie tyd sonder identiteit te wees, moes waarskynlik ‘n erge probleem gewees het.

Ter agtergrond – tydens die oorlog is verskeie huise en geboue op ander maniere ingespan as waarvoor dit gewoonlik gebruik is. Sommiges is byvoorbeeld as hospitale ingerig. Hierdie verhaal speel in so ‘n plek af. Die bewustelose Moses vind sy pad na ‘n tydelike hospitaal, waar al die aksie gebeur.

Skrywersnota

 Ek het op ‘n keer met iemand ‘n grappie gemaak oor ‘n stil rol op die radio – ‘n radiodrama-karakter wat nie praat nie. In hierdie verhaal het ek daardie idee verken. Daar is meer as een karakter wat ‘n sterk rol in die verhaal speel sonder om teenwoordig te wees. Dit is egter moeilik om uit te brei sonder om te veel van die verhaal weg te gee.

Op ‘n dieper vlak verken die storie die verskynsel van mense wat eers geloof word wanneer hulle doodgaan. Sosiale media wemel dikwels van aanprysings wanneer iemand dood is. Ons hemel die oorledene op asof hy of sy ‘n god was, maar in die lewende jare sou ons bitter min aandag aan hulle gegee het. Iemand wat ontledend na die storie luister sal hopelik die verwantskappe optel tussen Moses en ander mense wat dood, en daarom stom, is.

Met radiodramas glo ek ‘n mens moet die storie rondom klank bou. Dis immers die krag van hierdie medium. Tydens die skryf van hierdie verhaal het ek myself deurentyd daaraan herinner om klank te laat praat.

Die karakters

Vlnr agter: De Klerk Oelofse, Frieda van den Heever en Karli Heine.
Voor: Wessel Pretorius

Karli Heine speel die rol van Frieda, ‘n amper-mooi verpleegster wat kortaf voorkom, maar heimlik smag na liefde.

De Klerk Oelofse vertolk die rol van Hendrik, die plaaslike posman wat al lank verlief is op Frieda.

Wessel Pretorius is Gert, ‘n beterweterige boer van die distrik.

Agter vlnr: De Klerk Oelofse, Frieda van den Heever, Karli Heine. Middel: Wessel Pretorius.
Voor: Cassi Lowers, klank en tegniese versorger.

Regisseursnota deur Frieda van den Heever

 Lanklaas het ek so gelag in ‘n ateljee. Dat die trane loop, sê ek jou. Ek en Cassi kon soms nie die fone vashou om videos te neem of die knoppies gedruk kry nie omdat ons so skud van die lag. Hierdie drie akteurs is van my gunsteling mense in die wêreld – nie net oor hulle speelvernuf nie, maar hulle emosionele intelligensie, humor, nederigheid en lekker menswees. Dit was ‘n fees om ‘n absurde komiese drama vlees te gee en Albert Short het die karakters so multi-dimensioneel verbeel dat dit net tot die vreugde bygedra het.

Die skrywer

“Hierdie is my sesde radiodrama op RSG, en die vreugde, die skoenlappers en die ongeloof raak net meer en meer. Inderwaarheid voel dit dikwels soos ‘n droom. En as daardie wekker nóú afgaan, smyt ek dit beslis met die grootste geweldadigheid aan’t stukke!

Ek woon sedert 2019 in Melbourne, Australië. Ek werk as ’n rekenaarprogrammeerder en skryf ná werk en oor naweke. Vir my is die beste ding omtrent radiodramas die spanwerk tussen almal wat by die produksie betrokke is. Die skrywer plant bloot maar die saadjie, maar dis die regisseur se visie, die akteurs en die tegniese span, asook ’n paar administratiewe sake agter die skerms, wat saamwerk om iets besonders te skep. En dan natuurlik die spesiale bestanddeel: die meelewing deur die luisteraar, in wie se kop die storie uiteindelik lewe kry.”

Karli, De klerk en Wessel.

Wessel en De Klerk