Luister Donderdagaand na ‘n dokumentêr oor geslagsgeweld
Luister Donderdagaand net ná agtuur na die dokumentêr Agter Geslote Deure, saamgestel deur Heindrich Wyngaardt.
Agtergrond-inligting
“Dit was ‘n behoorlike uitdaging om as ‘n man die tema van geslagsgeweld, oftewel GBV, aan te pak,” sê Heindrich Wyngaard, wat sorg vir hierdie week se RSG-dokumentêr. “Ek moes regdeur ook my eie idees en vooroordele of gebrek aan bepaalde sensitiwiteite in ag neem en bid dat ek wyser anderkant sou uitkom.”
Heindrich sê die titel van die dokumentêr, “Agter Geslote Deure”, gee ‘n aanduiding van hoedat geslagsgeweld in die meeste gevalle in die geheim plaasvind. Wat dit ook na die oppervlak bring, as ‘n mens na deelnemers se insette luister, is die verskynsel dat daar in die algemeen nie sommer hieroor uitgepraat word deur slagoffers of hul nabye familie of vriende nie.
“Stilswye oor wat lank reeds ‘n epidemie of pandemie genoem word, is een van die opvallende kenmerke van hoe geslagsgeweld deur ons samelewing gehanteer word,” sê Heindrich.
In die dokumentêr word die stilte egter verbreek.
Heindrich het besluit om met die deur in die huis te val deur die dokumentêr in te lei met die verhaal van ‘n GBV-oorlewende, Lena Lombaard van Worcester. Haar verhaal word in die soort detail vertel waarteen sensitiewe luisteraars gewaarsku moet word, maan Heindrich, “maar ek dink tog as ‘n mens haar woorde sou versag of uitdoof, sal dit ondermynend wees teenoor die graad van mishandeling wat sy moes verduur”.
Die ander deelnemers – almal vroue, met die uitsondering van een – is op een of ander wyse by die bevegting van geslagsgeweld betrokke.
Hulle is dr. Marlene le Roux, hoof van die KunsteKaap-teater; die regsgeleerde Maryna Marengo-Barnard; die GBV-aktivis Tanya Bippert, politieke wetenskaplike prof. Amanda Gouws en die operasanger Lynelle Kenned. Ook Kenned se verhaal is volgens Heindrich “diep aangrypend en slaan nogal hard”.
Die joernalis en skrywer Julian Jansen praat spesifiek in die dokumentêr oor “mislukkings in die stelsel” wat hy in die navorsing vir sy onlangs-gepubliseerde boek, Die dood van Deveney Nel, waargeneem het.
Dit was Kenned wat Heindrich aan die “temalied” vir die dokumentêr bekend gestel het: anders as die bekende Gloria Gaynor-treffer “I will survive”, vind Kenned groter aanklank by Laura Mvula se “Father, Father”, het sy hom vertel. Teenoor Heindrich het sy ook verduidelik dat die lied vir haar klink “soos ‘n kerkgesang amper” met lirieke wat herinner aan ‘n hunkering of ‘n “pleitroep” oor verlore intimiteit tussen, byvoorbeeld, ‘n pa en dogter.
Heindrich sê hy wil spesifiek op manlike luisteraars ‘n beroep doen om na die dokumentêr te luister en hy hoop dat sal gesprekke oor GBV onderling onder mans aanvuur.
“Ons staan in die beskuldigde bank. Ons hande drup van die bloed,” sê hy. “Nou is dit tyd dat ons rol moet verander – ons wat rolmodelle is vir jong seuns – deur onder mekaar oor GBV te begin praat en tesame met vroue aan oplossings te werk.”
In die algemeen is Heindrich se wens dat luisteraars – nadat hulle na die dokumentêr geluister het – hulself sal afvra, soos die RSG-bekende Amore Bekker in reaksie op Bettina Wyngaard se boek Onverskrokke vroue – Uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag gedoen het. “Amore se vraag in die flapteks was: ‘Nou dat ons dit alles weet, wat gaan ons doen?’ en ek wil dit persoonlik maak: “Wat gaan JY doen?”
Heindrich was voorheen aanbieder op Monitor, Spektrum, Kommentaar en Praat Saam. Tussen Januarie en Maart vanjaar het hy ‘n tweede aflewering van die gewilde musiekreeks “Toe Ons Sterre Was” aangebied. In September verlede jaar het hy ook vir RSG ‘n dokumentêr vervaardig oor die Zephany Nurse-verhaal. Luister hier daarna: https://www.rsg.co.za/rsg/omny/op-soek-na-levona-die-zephany-nurse-verhaal-deur-heindrich-wyngaard/