Kersfees 1914: Toe ‘Stille Nag’ uit die loopgrawe opklink


Luister Maandag 5 Desember om 08:30 na ‘n dokumentêr oor die uitsonderlike gebeure om 25 en 26 Desember 1914 toe strydende Duitse en Geallieerderde magte in die Eerste Wêreldoorlog vir een dag die wapens neergelê het en saam Kersfees gedenk het.

Esté de Klerk het die dokumentêr saamgestel en Coenie de Villiers stel ‘n lied gratis beskikbaar aan luisteraars om af te laai by rsg.co.za.

Luister hier na die volledige dokumentêr:

Coenie se lied:

Die gebeure van Kersdag 1914

Op Oukersdag 1914, vyf maande ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog tussen die Sentrale en Geallieerde Magte, daal ‘n heilige stilte oor die Westelike oorlogsfront van Europa neer.
Uit die Britte en Franse soldate se loopgrawe hoor hulle die sang van Kersliedere wat opklink uit die loopgrawe van hulle Duitse vyande – teen wie hulle net ure tevore nog om lewe en dood, geveg het. Toe die Duitsers afsluit met Stille Nacht, begin die Britte met hulle eie Kersliedere. Later hou ‘n Duitser ‘n Kersboodskap aan die bokant van die loopgraaf, omhoog. En een vir een begin vyande niemandsland oorkruis om blad te skud met mekaar, rantsoene uit te ruil, ‘n bier te deel en sokker te speel.

Soldate kry op Kersdag 1914 die geleentheid om hul gesneuwelde kamerade te begrawe, en in die ware gees van Kersfees ruil vyande stories uit oor hul verlange na hul mense. Dit sou later bekendstaan as die 1914 Kersfees Wapenstilstand, en is nog nooit weer in die geskiedenis van enige oorlog herhaal nie.

Volgens briewe deur beide Britse en Saksiese soldate, het meer as een sokkerwedstryd op die koue grond langs die linies en loopgrawe plaasgevind.

 

British and German troops meeting in No-Mans’s Land during the unofficial truce. (British troops from the Northumberland Hussars, 7th Division, Bridoux-Rouge Banc Sector).

 

Die dokumentêr

Coenie de Villiers en Esté de Klerk met die maak van die dokumentêr

In die dokumentêr, Kersfees 1914, neem die RSG-vervaardiger en aanbieder Esté de Klerk luisteraars na die Westelike front in Europa oor die drie-dag tydperk wat die 1914 Kersfees Wapenstilstand, geduur het aan die hand van eerstehandse vertellings van die Britse soldaat, Graham Williams, ‘n soldaat van die Koninklike Regiment van die Walliese Fusiliers, Frank Richards en deur middel van ‘n brief van ‘n Duitse Majoor wat jare ná die Wapenstilstand hul ervarings met die BBC, gedeel het.

Die klankontwerp deur die SAUK se klankguru, Danny Booysen, neem luisteraars terug tot op die slagveld.

Dit moes ‘n ingrypende gebeurtenis gewees het. Die eerste ding wat ‘n mens in die oog en in die hart spring as jy die storie hoor, is die feit dat hoe ons ons lewens leef, hang af van ons en vir die eerste keer en vir die laaste keer in die geskiedenis, het mense net gesê ons gaan nie oorlog maak nie, veral nie op die verjaardag van God se Seun nie.”

Só sê die geliefde Suid-Afrikaanse musikant en skrywer, Coenie de Villiers, wat inspirasie geput het uit dié gebeurtenis tydens die Covid-19 pandemie in ‘n tyd toe hoop aan die taan was.

Uit De Villiers se pen vloei ‘n nuwe lied van hoop, getiteld Kersfees 1914, wat hy in Oktober – terwyl daar nóg ‘n oorlog in Oekraïne woed – opgeneem het saam met André Schwartz, die Mzanzi Jeugkoor en Elana Afrika-Bredenkamp onder die bekwame hand van die musiek-vervaardiger, Mauritz Lotz. Esté het die proses met hulle gaan deel.

Die versreël van Kersfees 1914 lui gedeeltelik as volg:

“Laat daar vrede heers vandag

Laat die oorlog bietjie wag

Want kyk: ons Heiland is gebore

Laat ons Hom in stilte vier

Sonder bomme of mortier

Want anders is die Groter Stryd verlore.”

Elana Afrika-Bredenkamp, Coenie de Villiers en Mauritz Lotz saam met Mzanzi Jeugkoorlede

“Miskien is dit ‘n boodskap vir die Kerstyd wat ons nou hier beleef met die wêreld wat lyk soos wat hy lyk aan die einde van 2022. Musiek is sterker as oorloë, dis sterker as bomme, dis sterker as mortiere, dis sterker as oorlogvoering. So, as ons dit kan aangryp dink ek sal die wêreld ‘n beter plek wees,” sê De Villiers.

Voor: Elana Afrika-Bredenkamp & André Schwartz
Middel: Sidumo Nyamezele (Mzanzi Jeugkoor-direkteur), Coenie de Villiers & Esté de Klerk
Agter: Pieter Auret & Mauritz Lotz (musiekvervaardigers)

Elana Afrika-Bredenkamp sê: “Daar is soveel temas in hierdie lied: ons almal verstaan pyn, ons almal verstaan blydskap, ons almal verstaan die gevoel van verligting. Ná ‘n oorlog, ná ‘n pandemie, ná enige negatiewe gebeurtenis verloor ‘n mens, maar tog in ‘n mens se chaos, gaan daar iets goed wees. Miskien is dit die boodskap: mag die slegte in jou lewe altyd ‘n goeie einde hê – dit is wat hierdie lied vir my beteken.”

André Schwartz sê hy hou vas aan sy geloof en aan hoop, veral nadat hy baie siek was nadat hy Covid-19 gehad het. “Ek dink ‘n lewe sonder hoop moet die moeilikste lewe wees. In Covid, het ek net gehoop ek kan weer asemhaal en kyk, hier staan ek en ek kan en dit is ‘n blessing. Elke oggend word ek wakker want ek het gehoop ek kan en ek dink dit is die belangrikste van ‘n lied soos hierdie – daar is altyd hoop, en natuurlik geloof, maar jy moet eers hoop dat dit kan gebeur.”

En hoop is wat Coenie de Villiers, André Schwartz, Elana Afrika-Bredenkamp en die Mzanzi Jeugkoor dié Kersfees aan minderbevoorregtes as geskenk wil gee in ‘n spesiale veldtog wat hulle bekendstel met die vrystelling van die lied, Kersfees 1914.

Luister Maandagoggend, 5 Desember 2022 om 08:30 op RSG se Op en Wakker om uit te vind presies wat dié veldtog behels.

Mauritz Lotz & Pieter Auret