Luister weer na ‘n dokumentêr oor drome


Luister op 15 Februarie na Die padkaart in jou drome, ‘n dokumentêre program deur Flip Loots.

Alle mense droom. Party drome laat my glimlaggend opstaan, ander veroorsaak dat ek in koue sweet wakker skrik, en nog ander is nagmerries wat my hele dag bederf. Maar wat is drome en moet ‘n mens betekenis daaraan probeer heg?

Die twee bekende sielkundiges, Sigmund Freud en Carl Jung, se teorieë oor drome word vandag nog deur baie aangehang. Freud was van mening dat drome ‘n manier van die onbewuste is om met die bewuste te kommunikeer, veral ten opsigte van onvervulde seksuele begeertes, terwyl Jung beweer dat drome nie noodwendig ‘n seksuele ondertoon het nie, maar vol simbole, beelde en metafore is met verskeie betekenisse wat verband hou mense se eksterne omgewing (individue en plekke waarmee jy in aanraking kom), asook jou interne omgewing (gevoelens, gedagtes en emosies).

Flip Loots

In Flip Loots se dokumentêre program: Die padkaart in jou drome van 15 Februarie 2024, om 20:00, word gesels met kundiges soos prof. Kobus Maree, sielkundige van die Universiteit van Pretoria, die bekende radio-omroeper, Esté Geldenhuys wat ‘n studie van drome gemaak het, asook met prof. Marius Nel van die NWU oor die moontlikheid van Bybelse interpretasies van drome. Daar word ook gehoor wat ‘n klompie individue oor hul droom-ervarings te sê het.

Dit was NP van Wyk Louw wat gesê het: “Kom vannag in my drome as dit donker is en stil; reik my jou hand deur die drome, en ons dwaal waar ons wil.” 

Droom, droom ons almal. Maar dis nie altyd drome waarvan ek hou of waaroor ek beheer het nie. Daar is drome van iets wat my jaag, of waar ek op ‘n hoë plek staan en dan afval in donkerte, of dat my tande uitval, of dat ek laat by die werk aankom, of nagmerries wat my in sweet laat wakkerskrik.

Maar wat is drome regtig en waarom droom mense? Kan jy besondere betekenisse heg aan drome, en moet jy jou daaraan steur? Wat het my gemoedstoestand te maak met dit wat ek saans droom en waarom kan ek meestal nie onthou wat ek droom nie? Gee drome waarskuwings oor wat gaan gebeur en hoe verskil dit met Bybelse visioene?

Dit is vrae soos hierdie wat aan die orde kom in die dokumentêre program aan die beurt kom.