Luister vanaand na ‘n dokumentêr oor Portchie


Carla MacKenzie gaan in Maria’s Manor – Die kuns en lewe van Portchie op Donderdag 31 Julie na die seun van ‘n groenteboer in die Vrystaat se opgang in die kunstewêreld kyk en hoekom sy kleurvolle kuns tot soveel mense spreek.

Portchie se kunswerke is ‘n handelsmerk van helder kleure, vorms, fietse, hoenders en blou bome. Die vleulklavier, beelde en skilderye skep ‘n alomteenwoordigheid van vrede in Maria’s Manor.

Vanjaar vier Portchie 35 jaar in die kunste en mag baie meer mense ontdek hoe dit voel om een van Portchie se skeppings te sien en te ervaar.

Portchie vertel van sy kinderdae, hoogtepunte uit sy lewe, skooldae en sy loopbaan. Portchie vier hierdie jaar 35 jaar as skilder en daar is nie ‘n beter tyd om hom te eer op RSG nie.

Hoekom juis ‘n ‘kuns’ dokumentêr? Carla Mackenzie, Hoër Meisieskool Bloemhof alma mater, het groot geword in Stellenbosch. Sy vertel, “van kleins af het my ma vir my en my suster gereeld na die ‘Red Teapot Gallery’ geneem. Ek het amper nèt sport gespeel maar elke keer was ‘n Portchie-besoek ‘n kleurvolle ontvlugting. My ma het na baie jare vir my ‘n oorspronklike Portchie geskenk gegee en ek sal dit vir altyd koester. Amper 15 jaar na ek die eerste keer in Portchie se gallery instap, het ek nooit gedink om in die uitsaaiwese te wees en om die eer te kan hê om ‘n dokumentêr oor Portchie te maak nie.”