Luister weer na die dokumentêr oor Woutrine Theron
Luister weer na Veelsydige vakmeester – ‘n profieldokumentêr oor Woutrine Theron, saamgestel deur Ina Strydom.
Agtergrond-inligting
Die land het Woutrine Theron leer ken as Grieta in die televisiereeks Nommer Asseblief, wat in 1979 uitgesaai is. Maar haar loopbaan het heelwat vroeër begin by die destydse Kruik, ná haar dramastudies op Stellenbosch. Sy was toe ook reeds ‘n gereelde speler in radiodramas, en het in verskeie rolprente opgetree. Maar televisie het ‘n nader soort bekendheid gebring: skielik was hulle weeklikse gaste in mense se sitkamers.
Woutrine het egter ‘n ánder pad begin loop – dié van dramadosent aan die destydse Pretoria Technikon, vandag die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Vir 30 jaar het sy die lewens en loopbane van jongmense geslyp, mense wat van die land se bekendste akteurs en teatermakers geword het.
Sy het hulle die praktiese vaardighede geleer wat in die teaterbedryf benodig word – maar ook die lewensvaardighede om in dié moeilike bedryf te oorleef en te floreer. Sy het hulle geleer van dissipline, en harde werk, en selfkennis; en dat ‘n rol jou nie definieer nie.
Maar Woutrine het ook verder in die bedryf belê deur die Nasionale Toneelkompetisie vir hoërskoolleerlinge op die been te bring, en vir die eerste dekade van die kompetisie se bestaan, dit self bestuur. Die kompetisie leef vandag voort in die gedaante van die Proscenium-toneelkompetisie vir hoërskoolleerlinge. Sy tree steeds as beoordelaar op vir verskeie dramakompetisies.
Wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, soos tydens ‘n tydperk van sabbatsverlof, het Woutrine die kans aangegryp om televisierolle te vertolk. Sy was onder meer te sien as Sussie, Bertie se vriendin, in Franz Marx se Egoli, en ‘n meisie uit Garies wat in Hilda van Sewende Laan se slaai kom krap het. Sy het ook reeds twee boeke agter haar naam. Sy het ‘n eenvrou-vertoning geskep oor die werk van die Audrey Blignault wat twee jaar by die Woordfees opgevoer is en ook in 2016 tydens die RSG-Kunstefees uitgesaai is.
Woutrine het verlede jaar 80 geword; ‘n jeugdige, vrolike 80. Sy het nog vanjaar in ‘n rolprent en in ‘n televisiereeks gespeel, en sy beoog nog ‘n boek, en ‘n eenvroustuk.
Jare gelede op universiteit moes sy kies tussen Liggaamlike Opvoedkunde – sy het immers op hoërskool provinsiale kleure in drie sportsoorte gekry – en Drama. Gelukkig het sy Drama gekies. En dit is waarskynlik nie ongegrond om te sê dat Woutrine Theron een van die invloedrykste mense in die land se teaterbedryf was die afgelope halfeeu nie.
VEELSYDIGE VAKMEESTER: WOUTRINE THERON deur Ina Strydom
Aktrise, dosent, skrywer, teaterbeoordelaar, en stigter van die Nasionale Toneelkompetisie is maar net ván die beskrywings wat van Woutrine Theron gegee kan word. Sy het algemene bekendheid verwerf as Grieta in die destydse televisiereeks, Nommer Asseblief; was vir 30 jaar as dosent verbonde aan die destydse Pretoria Technikon, vandag TUT, en het twee boeke op haar kerfstok. Sy het verlede jaar 80 geword, en beplan om nog ‘n boek te skryf en om weer ‘n stuk op die verhoog, haar voorkeurmedium, te doen. Ina Strydom belig enkele van die vele aspekte van haar loopbaan.