Mari Molefe van Heerden oor lag, legkaarte en liplekkerresepte


Die borrelende radio-aktrise en omroeper Mari Molefe van Heerden, wat deesdae Intussen met Eloise se nuusleser is, is dolgelukkig agter die kospotte. Luisteraars van RSG onthou haar as die karakter Shoki in Leon van Nierop se Hartebreker, wat sewe jaar lank op lug was. Van Heerden is ook gek oor lag, legkaarte en rekenaarspeletjies. En in Maart vanjaar het sy en ‘n vriendin, Reine Swart, hul eerste rolprent verfilm en vervaardig. Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het met haar gesels en haar gesmeek vir ‘n resep.

Wat is jou eerste herinneringe van radio? 

Ek onthou toe ek in die laerskool was, het my ouers pal RSG geluister, en durf jy die stasie wil verande, dan kry jy die kyk.  Snaaks genoeg luister ek nou self nét RSG, maar as kind, was daar niks erger as om in die kar te sit op pad na ons vakansiebestemming en vir ure na “ou” mense op die radio te luister oor dinge wat ek nie noodwending verstaan het nie.

Ek is toe na matriek Universiteit van Pretoria (Tukkies) toe om Drama te studeer, en toe is ek daar gevra om op die kampusradiostasie, TuksFM, ‘n omroeper te wees. ‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan en dit het my so opgewonde gemaak. Daar het ek deur my studentelewe, die radiowêreld betree. In 2014 het ek toe op Jakaranda FM ‘n verkeersomroeper geword, en vandag lees ek die nuus op RSG. So die radio as beroep het my my hele lewe lank gevolg, en as dit eers ‘n houvas op jou het, los dit jou nie sommer gou nie.

Hoe het jy by RSG en radiodrama betrokke geraak? 

Ek het in my derde jaar by Tukkies, vir Leon van Nierop ontmoet. Ek het in een van my pêlle wat by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) gestudeer het, se derdejaarfilms ‘n klein rol gespeel en Leon was op daardie stadium ‘n lektor by TUT, en so het hy my raakgesien.  Hy wou my die DE KAT TV-aanbiedersposisie aanbied, maar my ouers wou eers hê ek moes my studies klaarmaak, voor ek dié werk moes aanvaar.  Leon het my gevra of ek ‘n rol in RSG se jeugreeks, Ratels, wil vertolk.  Dit was 2009, en van toe af het ek by RSG se radiodramafamilie betrokke geraak.

Vertel ons meer van jou man. Hoe het julle ontmoet? En wanneer is julle getroud? 

’n Tipiese girls-night met ’n paar glase wyn, het daartoe gelei dat een van my vriendinne, Doreen, besluit het om ’n wildvreemde man te vra of hy my nie op ’n date wil vat nie.  Ja sê die man, maar ek was so woedend en glad nie in ’n bui om ’n mansmens te entertain nie, en blaker sommer uit: “Hoe kan jy net ja sê, ek mag dalk ’n reeksmoordenaar wees!” Hy lag en sê, “sien jou môre”.  Ek en George het ’n wonderlike tyd gehad, en van toe af mekaar amper elke dag probeer sien. Dit was Februarie 2018, en soos hulle sê: the rest is history. Vandag is ons ‘n jaar al gelukkig getroud (op 17 September 2022).

Mari en haar man, George, op vakansie

Jy geniet dit om kos te maak. Hoekom? 

Ek het dalk nie my ouers se ras, velkleur of haartekstuur geërf nie, maar as daar iets is wat ek wel geërf het, is dit die liefde vir kos, en my pa se humorsin.  Ek onthou en mis die dae wat ek en my pa mekaar gebel het, en spog oor wat ons nou vir aandete maak en heen en weer foto’s stuur van nuwe disse wat ons probeer.  Ons het ook ’n vriendegroep, ons noem onsself die Grub-groep, en kom elke tweede week bymekaar en maak vir mekaar kos, met uitdagings of temas of selfs ander lande se kos wat ons moet probeer.  My ouma, Maria, wat in die Van Heerden-huis as huishulp gewerk het, het die beste boerekosdisse gemaak, wat sy ook by my ouers geleer het. En natuurlik het ek met ‘n man van die Vrystaat gaan staan en trou, so boerekos is iets wat ek gereeld maak en geniet. So die liefde van kos en kos maak, kom al van kleins af.

Wat is jou gunstelingresep of -dis wat jy self maak? 

Ek is nie iemand wat daagliks van ’n resep af werk nie. Ek is mal oor kosprogramme soos Masterchef, Top chef, Hell’s kitchen, Bake off, Chef’s table. My gunsteling is om die yskas oop te maak, en ‘n paar ongewone bestanddele te gryp en ‘n nuwe dis op te tower.  Maar my man, George, se gunstelingkoek, is ‘n agtlaag- Oekraïense sjokoladekoek (Spartak), en ek maak dit nie net vir verjaardae nie. Dit is baie werk, maar definitief die moeite werd.  [Sien resep laer af.]

Wat doen jy in jou vrye tyd? 

Wanneer ek ooit tyd afkry, meestal maar op ’n Sondag, is ek ’n ywerige aanlynrekenaarspeletjie-boffin. My gunstelingspeletjie is Apex Legends.  Of ek bou graag legkaarte, een van daai wat minimum 2 000-stukkies bevat.  Maar daar is niks so lekker om my kookprogramme te kyk, onder ‘n kombersie en gedagtes te laat gaan, oor wat ek volgende kan probeer nie.

Wat is vir jou die allerlekkerste bederf? 

Dit is so maklik om my te bederf, vir my gaan dit nie oor die item of daad wat jy doen nie, maar die feit dat jy aan my gedink het.  Hoe klein ookal die bederfie mag wees, is vir my so spesiaal.  Maar as jy moet, ‘n kookboek, lekker sjokolade of selfs ‘n briefie uit die hart.

Wie inspireer jou?

Vrouens wat ander opbeur en mekaar ondersteun. Veral as jy ander se behoeftes en belange voor jou eie stel, maak my hart skoon warm, want dit is wat ek elke dag probeer doen. My oorlede pa, Klasie, het altyd gesê: No man is an island. My ouers was sendelinge gewees, en hulle harte was altyd oop om ander mense te help en ek vind dit so inspirerend om mense te ontmoet wat dieselfde sentiment het.

Die driemanskap, Eloise, Veronique en Mari

Wat laat jou lag? 

Ek is mal daaroor om video’s te kyk waar mense simpel goed aanvang en dan werk dit nie uit nie, of mense wat val op die humoristiese manier.  Natuurlik nie wanneer iemand ernstig seer kry nie.  Maar my tone krul van die lag wanneer iemand byvoorbeeld ‘n paar belaglike hoë hakke wil dra… Ag, ek geniet dit om te lag, vir myself ook. Dit vat nie baie om my in ‘n goeie bui te sit nie.

 

SPARTAK-KOEK   

 

BESTANDDELE 

250 g All-Purpose meel

7 g bakpoeier

30 g kakaopoeier

200 g suiker

2 groot eiers

60 ml melk

100 g botter

½  t koeksoda

 

KOEKVERSIERING 

350 g sagte roomkaas

170 g kamertemperatuur botter

400 g (1 x blikkie) kondensmelk

60 g versiersuiker

250 g geklopte room

 

INSTRUKSIES

Vehit die oond tot 180 grade Celsius.

  • Sif die meel, bakpoeier en kakaopoeier in ‘n bak. Sit eenkant.
  • Kook water in ‘n groot pot.
  • Klop suiker, eiers, botter, koeksoda en melk in ‘n glasbak, en stoom oor die pot met water oor medium tot hoë hitte, totdat die suiker en bottel gesmelt het. Roer wanneer nodig is (dit vat omtrent so 6-8 minute).
  • Haal die mengsel van die stoof af en roer dit by die meelmengsel terwyl dit nog warm is. Wanneer jy alles geroer het, laat die deeg dan afkoel vir omtrent 15 minute.
  • Strooi ekstra meel oor jou kombuistafel, want hier begin die werk nou.  Sit die deeg op die meel en deel dit in 8 gelyke stukke, en gooi sommer nog ‘n ekstra bietjie meel oor die stukke. Rol die stukke tot hulle lekker dun en almal rond en eenvormige is.
  • As jy ‘n lekker groot oond of selfs gelukkig is om 2 oonde te hê, kan jy al 8 ronde stukke gelyktydig in die oond bak, maar ek het maar 2 op ‘n slag in die oond gekry.  Onthou om perkamentpapier (parchment) op jou oondpanne te sit, sodat die koek lae nie vasbrand nie. Dit vat so tussen 6-8 minute om te bak, maar hou dit maar dop dat hulle nie brand nie.  Bak sommer die res van die deeg wat oorgebly het.

Vir die versiering

  • Klop die room tot dik.
  • In ‘n aparte bakkie, meng die roomkaas en botter, voeg kondensmelk en versiersuiker by. Dan meng jy nou jou twee bakke saam.  Onthou die voumetode wanneer jy die geklopte room byvoeg.

Nou is dit tyd om die koek te bou:

  • Sit so bietjie van die roommengsel op die bokant van die koekstaander, en voeg jou eerste koeklaag bo-op, dan smeer jy room or die hele koeklaag en nog ‘n koeklaag. So gaan jy aan tot al 8 jou lae op mekaar is (ek sit altyd my mooiste lagie heelbo). As daar room oorgebly het, kan jy die bokant en die kante van die koek ook daarmee bedek.  Die laaste stappie, kan jy die ekstra deeg wat jy gebak het, fyn kap en oor die hele koek strooi.

Sit jou koek in die yskas tot die koeklae lekker sag geword het, en GENIET!