Midas en sy musiek terug op lug


Die Midas van Musiek is RSG is weer te hoor.

Die reeks word saamgestel en aangebied deur Kobus Burger. Dit is die opvolg van die eerste reeks wat in 2018 op Maandagaande uitgesaai is

In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.

In die popmusiekbedryf was die maatstaf vir sukses dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle altyd daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.

Die nuwe reeks skop af met die Ierse sangeres en liedjieskrywer Sinéad O’Connor, wat gewild was vir haar opname van Prince se liedjie, Nothing Compares 2 U. Sy het wilde draaie met haar musiek en albums gegooi en selfs ’n reggae-album in Jamaika saam met Sly & Robbie opgeneem. Haar politieke en geestelike bewustheid eggo ook in haar musiek. Naas tradisionele musiek uit Ierland het sy ook liedjies van ABBA en Kurt Cobain opgeneem. Kom ontmoet die “priesteres van pop”.

Die kunstenaars wat vir hierdie reeks van 13 episodes gekies is, toon almal hierdie spesiale goue aanraking in vertolking, liedjieskryfvernuf of sang, maar sonder dat hulle alslag die erkenning daarvoor geniet het.

“Daar is soveel kunstenaars wat deur die dekades nooit ten volle erkenning vir hul kunstenaarskap ontvang het nie. Of mettertyd vergeet word,” sê Kobus Burger.

“My navorsing vir ‘Die Midas van Musiek’ is ’n absolute fees, veral as ek soveel musiekmakers se juweeltjies herontdek. Ek word dikwels daarvoor geblameer dat ek aan my musiekversameling vasklou en nie op stroomdienste of aanlynmusiek staat maak nie. Dan sit ek met ’n stapel musiek wat nêrens op die groot stroomdienste gevind kan word nie en besef ek net weer eens waarom hierdie musiek gehoor moet word. Mag die luisteraars ook hierdie skatte geniet!”

Ander kunstenaars wat aan die bod sal kom, is onder andere Dolly Parton, Lionel Richie, Barry White, Jim Reeves, Sade, Doris Day, Herman van Veen asook Pink Martini.

Jim Reeves

Sinead

Pink Martini

Sade

WAT LUISTERAARS GESê HET

Maak asseblief die “Die Midas van Musiek” en Kobus Burger ‘n  gereelde en baie dikwels deel van RSG se programme. Bravo!!! Dit was dié beste manier om vanoggend die dag te begin! – Adri Visagie

Midas van musiek was puik en van hoogstaande gehalte. Dankie vir die kwaliteit werk wat gedoen is. – Eugene du Plessis

Kobus, ek wil tog net sê hoe ek jou Midas-program geniet. Foon en alles is stil. Ek skakel dan vroeg my kamerlig af om te luister.  Dis so grondig nagevors, netjies afgerond en rustig aangebied. Dit open vir my ook nuwe musiekvelde. – Engela Linde

Fantasties. Jammer dit kan nie sommer vir ure aanhou nie. Baie dankie! – Anoniem