Môre-aand: Nuwe aandboekvoorlesing op RSG


Op Donderdag 22 Julie begin ‘n nuwe aandboekvoorlesing: Die kinders van Spookwerwe, deur Lize Albertyn-du Toit.

Die storie handel oor die wel en weë van die Kaliempie-gesin – ouers Mieta en Hennerik, en hulle seun Milano van die Bo-Karoo. Hulle buurman is Geelsuiker.

Volgens die agterplat is dit “’n roman wat diep in jou hart kom lê. Dis ‘n roman oor ma-wees, oor grootword, en oor verliese. Maar ook van weer vol word”.

Die natuur speel ‘n integrale rol in die gesin se bestaan, maar is ook ‘n bron van kennis wat veral deur Geelsuiker aan Milano oorgedra word. Die natuurbeskrywings is pragtige prosa: “…Die wolke begin die Maandagoggend bymekaarkom met ‘n vlies wat onderdeur sprei. Spierwit kolomme vorm, maar later word dit ‘n dik bank kobaltblou kolomme wat ‘n skaduwee oor die vlaktes gooi..”

Op die voorplat staan dit is “ ‘n Storie wat soos die vaal stof van die Bo-Karoo diep in jou hart kom lê..”

Die kinders van Spookwerwe is Albertyn-du Toit se debuutroman en word uitgegee deur Human & Rousseau.

Die voorleser is die aktrise Kay Smith.

Die aandboekvoorlesing kan weeksaande net na die nuus om 19:00 gehoor word.