Skud blad met Reggie Philander


Reggie “Ma Se Kind”  Philander, wat Vrydagaande tussen 21:20 en 23:00 die musiekprogram Skud dit op RSG aanbied, is al vir bykans ‘n kwarteeu ‘n radio-omroeper en uitsaaier.

Reggie Philander

Hy is in Eldorado Park in Johannesburg gebore en het ‘n diploma in radioproduksie van die African Media University. Hy is ook die skepper van die T-hempreeks “Ma Se Kind”. Hier verklap hy ‘n bietjie meer oor homself in ‘n gesprek met RSG se programbestuurder, Kobus Burger.

Hoe en waar het jou liefde vir radio begin?
Ek hoor by familielede dat ek van kindsbeen af altyd voor ‘n radio was. Ek sou musiek wat op radiostasies speel opneem, dit terugspeel dan aankondig. So my liefde vir radio het by die huis begin.

Jy is ook ‘n sanger. Hoe het dit gekom dat jy begin sing het? En wat is jou gunsteling-liedjie om te sing?
‘n Sanger? Dis ‘n kompliment. Ek sing gereeld by karaoke-aande en so nou en dan by funksies waar ek gehuur word as platejoggie. Een van my gunstelingliedjies is Larry Graham se One in a million.

 

Het jy enige stokperdjies wat jou van tyd laat vergeet?
Musiek, poësie en rymklets.

Reggie in aksie agter die mikrofoon

Wie is vir jou ‘n held en hoekom?
Daar is baie. Moelik om net een te kies. As ek regtig moes, sou dit my kleindogter wees. Sy is die metafoor van geesdriftigheid en volmaaktheid.

Wat laat jou glimlag?
My kleindogter, Ayána Leron Philander, die liefde wat sy van haar ma en pa ontvang en haar instinktiewe liefde vir haar familie. Die glimlag op my vrou se gesig as sy my seuns en ons kleinkind sien. ‘n Ouma wat styf aan haar oupa klou of andersom, asof hulle net gister ontmoet het… en my seuns.

Waar hou jy graag vakansie?
Enige aansienlike of minder aansienlike plek waar spinnekoppe en slange sonder gif is.

Wat sou jy doen in ‘n wêreld sonder radio?
Dalk in een opinie geglo het en beperkte kennis van musiek gehad het.

Waarsonder sal jy nie jou dag kan begin nie?
My tandeborsel, ‘n glimlag en ‘n liedjie wat dit aanspoor.

*Luister elke Vrydagaand om 21:20 na Skud dit met Reggie Philander, net op RSG.