Luister weer: ‘n Groot geheim kom op die lappe in Waar is Ellie Pauw?


Rina Nienaber in die ateljee

In vanaand se Radioteater, Waar is Ellie Pauw? Deur Hendie Grobbelaar, word ‘n jarelange geheim uiteindelik onthul.

Die storie kortliks: Toe Wilhelm Pauw eers laat in sy lewe uitvind hy het ‘n dogter, begin hy na haar soek. Omdat hy desperaat is, is sy metode onortodoks. Daar is net twee mense wat hom kan help met sy soektog – Sophia Marais, ‘n verbitterde, ongelukkige vrou, vervreemd van haar dogter, met ‘n geheim wat haar gewete opkeil – en Gwen Lotter, ‘n vrolike, boheemse vrou wat ook met ‘n geheim saamlewe. Die twee is beste vriendinne. Gwen kan nie verstaan hoekom Sophia so behep is met Dominee Thinus Smit, ‘n skynheilige rokjagter nie. Maar Sophia het haar redes. Wilhelm benader hulle met ‘n ompad. Hy kry sy antwoord, en die twee vriendinne is ook uiteindelik eerlik met mekaar. Maar hoe pas Madame Helena, die geheimsinnige fortuinverteller, by die prentjie in.

Hendie Grobelaar het al verskeie radiodramas vir RSG geskryf, insluitend Sterrereën en Johanna se Elvis.  Waar is Ellie Pauw? was ‘n finalis in vanjaar se radiodramaskryfkompetisie.

Die RSG-drama word Donderdagaand 13 Oktober om agtuur uitgesaai.. Bekende spelers soos Rina Nienaber (madame Helena), Elma Potgieter (Sophia), Heidi Mollentze(Gwen), Lochner de Kock (Wilhelm), Anton Schmidt (Dominee Thinus) en Eloise Cupido (Eloise/Magdaleen) kan gehoor word. Die regie is in Johannesburg behartig deur Mari Snyman.