‘n Vitamien-drup by ‘n IV bar is ‘gekkespul’ maan dokter


Die jongste gesondheidsgier is om ’n vitamienkroeg te besoek om ’n mengsel van vitamiene, anti-oksidante of aminosure binne-aars te ontvang. Hou dit voordele vir jou gesondheid in? Wat moet jy weet voordat jy toelaat dat iemand ’n mengsel regstreeks in jou bloedstroom indrup?

Marí Hudson praat hieroor met prof Tess van der Merwe,  endokrinoloog van Pretoria.

Neem kennis
1. Volgens die reëls van die SAHPC mag binne-aarse middels slegs toegedien word in die teenwoordigheid van ‘n dokter, in ‘n spreekkamer, kliniek of hospitaal met Kode Blou toerusting en opgeleide personeel om die pasiënt se hart onmiddellik aan die gang te skok in die geval van anafilaktiese skok.
2. Die ampule van die middels moet voor die kliënt gebreek word voordat dit by die draervloeistof gevoeg word.
3. Van die middels wat op die spyskaarte is, kan onder meer tot ‘n groter risiko vir kolonkanker lei, asook permanente haarverlies en permanente uitslag-merke op jou vel. Dit kan ook tot anafilatiese skok en die dood lei. Jou aanvanklike goeie gevoel kan slegte langtermyngevolge hê.
4. Middels wat geadverteer word vir gewigsverlies is nie gegrond op wetenskaplike bewyse nie en is vals aannames. Daar is geen wetenskaplike bewyse Karnitien en ander aminosure ‘n mens kan help om gewig te verloor nie.
5. Daar is ook geen bewyse dat enige van die middels wel jou kan verjonk nie, ook nie jou vel ligter of meer glansend te maak nie, ook nie om jou vinniger na chirurgie te laat herstel nie, of jou energievlakke vinnig te herstel nie.
6. Slegs mense met bewese vitamientekorte benodig vitamien- of ander aanvullings en bitter min mense benodig om mediese redes binne-aarse vitamien- en ander aanvullings.
7. Oormatige vitamienvlakke is net so gevaarlik as vitamientekorte.
8. As ‘n swanger vrou te veel vitamien A inkry in die eerste trimester van haar swangerskap, kan dit tot geboortedefekte by die baba lei.
9. Enige oormaat Vitamien B en C word byna dadelik in die urine uitgeskei, en maak die binne-aarse toediening oorbodig wat gesondheid en finansies betref.
10. Indien die verskaffers/toedieners van die vitamien- en ander aanvullings enigiets namens die pasiënt van die pasiënt se mediese fonds eis, is dit bedrog en kan die mediese fonds die volle bedrag van die lid verhaal.