Namakwaland: ‘n Fontein van stories


In die dokumentêr “Namakwaland: ‘n Fontein van stories” vat Johan van Lill die pad Namakwaland toe om by ‘n paar storievertellers te gaan kuier. Die stories wat Namakwalanders vertel is nie grappe nie, dis stories oor dinge wat gebeur het en mense wat bestaan het of nog bestaan.

Namakwalandse mense verstaan mekaar en ken mekaar uit aan die name wat hulle vir mekaar gee. Name met stories daaragter. Deelnemers aan die program sluit in Izak Volgraaff, Marana Brand, Jasper Nieuwoudt, Jan “Ponk” van Zyl en Gielie de Kock.

Vir Namakwalanders is stories deel van gesels en kuier. Die namakwalandse storievertellers het hul eie manier om goed te vertel. En dan is die stories ook ryk aan uitdrukkings – uitdrukkings wat net so beskrywend is van die mense as die stories. Die stories is meesal waar of amper waar – alhoewel die storieverteller dit so vertel, dat jy nie vir ‘n oomblik sal twyfel dat hierdie gebeurtenis nie werklik gebeur het of netso was nie! Alhoewel van die stories soms net so snaaks is om regtig te weet of dit waar kan wees of nie!

Meer oor die storievertellers:

Marana Brand is ‘n boorling van Loeriesfontein en woon deesdae in Kaapstad. Sy is ‘n bekende joernalis, redaksionele konsultant en kopieskrywer wat in die Namakwalandse storievertel-kultuur grootgeword het.