Bloublasie-sweepslag


Watter soort dier is ‘n bloublasie en watter rol speel hy in die ekologie?

‘n Bloublasie en jellievis ekspert het in Oggend op RSG kom verduidelik.

Marinebioloog Krish Lewis vertel vir Johan Rademan en Martelize Brink wat bloublasies is, en hoe jy hul steek moet behandel.

Die bloublasie (Physalia physalis) is nie ‘n ware jellievis nie, maar ‘n versameling van organismes wat saam lewe in ‘n kolonie en dit staan bekend as ‘n sifonofoor.

Die bloublasie bestaan uit 4 verskillende organismes, elk met ‘n spesifieke funksie in die kolonie.

  • Die vorm van die bloublasie kom van die eerste organisme – die pneumatofoor – wat die blasie laat dryf. Die mooi blou kleur gee aan die bloublasie sy naam.
  • Die 2e organisme bestaan uit die tentakels, om die prooi te vang. Die tentakels (daktilozoiedes) is tot 48 m lank. Hulle is belyn met nematosiste oftewel steekselle, wat gif dra om hul prooi te verlam en dood te maak.
  • Die 3e en 4e organismes maak die spysverteringstelsel en die voorplantingstelsel uit.

Die gif van die tentakels is hoofsaaklik kaliumchloried, dieselfde middel wat gebruik word om mense wat in Amerika tereggestel word, in te spuit sodat die hart ophou klop. Die dosis van die gif wat deur Bloublasies afgeskei word, is egter baie laer en sal vir 1 – 3 ure erg brand, maar nie die dood veroorsaak nie. Dit is die beste om die tentakels af te krap met iets soos ‘n kitsbankkaart, en so gou moontlik in ‘n warm bad te klim omdat dit die struktuur van die gif verander, of om suurvygie op te smeer om die gif te neutraliseer. Dit gaan nie help om op die brandplekke te piepie nie.

Lees meer oor bloublasies: https://en.wikipedia.org/wiki/Portuguese_man_o%27_war

Lees meer oor jellievisse: https://en.wikipedia.org/wiki/Jellyfish

Die struktuur van ‘n jellievis

Lees en luister ook:
Meer inligting oor bloublasies en die see

https://www.rsgplus.org/gesondheid/dis-gif-wat-nou-gemaak-luister-woensdag/

https://www.rsgplus.org/natuur/sonskerm-beskadig-koraal/

https://www.rsgplus.org/natuur/wereld-oseane-dag/