Nic is terug en sê dankie


Nic de Jager

Nic de Jager is terug na ‘n groot skrik met ‘n koma en Covid-19 – en soos Nic self sê – net ‘n ingroei toonnael kan hom nou nog tref.  Luister elke Sondagmiddag om 12:00 na Nic se goed.

Hy skryf as volg:

“Baie dankie vir die belangstelling en die goeie wense – dit het gehelp om die ongesteldheid vinniger te verdryf. Kortliks – voor ek iemand só verveel dat hy/sy tot drank gedryf word – dit was ‘n rugprosedure; ‘n senuwee in die rugstring is vasgeknyp en om dit reg te maak moes twee werwels aanmekaar geskroef word. Uitstekende dokter, só ook die hospitaal.

Maar van iewers af het ‘n staphylococcus of ‘n ding toegang tot die wond gekry. Dit het septicaemia veroorsaak en my laat ophou asemhaal. ‘n Haastige ambulansrit en ‘n paar goedgemikte klappe (?!) het die asem teruggebring. (Ek was uitgepaas en kon nie in die opwinding deel nie.)

Op die punt van huis toe gaan, meld die blessit Covid homself aan. Dit was toe nog 10 dae hospitalisasie en vyf dae net om weer te kan loop. Op die oomblik gaan dit nog effe hinkepink, maar die vooruitsig is goed om binne ‘n paar weke weer ten volle in bedryf te wees. Weer eens, vielen dank vir die wense! Wat is dit gesegde oor onkruid, nou weer?”