‘Nic se goed’: 380 episodes en steeds aan die gang


Nic de Jager

Reekse op RSG duur tradisioneel drie maande. In die praktyk beteken dit 13 programme. Dit was seker die plan met Nic se goed ook.  Maar dit was van meet af aan so gewild dat die program steeds Sondae tussen 12:00 en eenuur gehoor kan word – met meer as 380 uitsendings agter die blad! En steeds stoom die program en Nic voort.

Die aanbieder is die ewig-sjarmante Nic de Jager. Veteraanuitsaaier. Stemkunstenaar. Rolprent- en televisiester.

Sy loopbaan as radio-omroeper het omstreeks 1966 begin, met ook rolle in gewilde vervolgverhale op Springbokradio soos Dans van die Flamink. Met die koms van televisie het verskeie eerstes gevolg: hy was onder andere een van die eerste nuuslesers op Suid-Afrikaanse televisie; en akteur in die eerste televisiereeks, Dokter-dokter. Rolprente sluit in The gods must be crazy, Snip en Rissiepit, en Die Square. Later jare het hy rolle vertolk in teleivisreekse soos Vallei van Sluiers.

Met Nic se goed, speel hy musiek uit sy eie versameling, en deel staaltjies en wyshede.

Nic het ‘n groot voorliefde vir die stem as instrument en speel graag lieder, uittreksels uit operas, maar ook ligte musiek.

Hy het ‘n wye musieksmaak – en sy kennis is een van die elemente wat luisteraars vasgenael hou voor die radio.

Hier vertel Nic ‘n bietjie meer oor sy benadering tot die program….

 

Nic het onlangs sy 81ste verjaarsdag gevier. En ons wens hom sy eie wens toe: “…mag die meetsnoere in lieflike plekke val…” en mag daar nog baie wees.