Nuwe aandboekvoorlesing op RSG spesiaal vir die vakansietyd


Almal ken die stories van Oom Schalk Lourens – die wonderlike karakter van Herman Charles Bosman.  Vanaf 8 Desember tot 7 Januarie, word ‘n keur uit Bosman se werk saans net na die seweuur-nuus op RSG voorgelees.  Die voorleser is Chris van Niekerk.

Bosman, wat vanjaar 70 jaar gelede oorlede is, het vir ‘n groot deel van sy lewe in Engels geskryf, en die werk wat wel in Afrikaans geskryf is, het grootliks verlore gegaan.  In 2011 het verskeie stories van Oom Schalk Lourens in Afrikaans verskyn in Die withaak se skadu – vertaal deur Francois Griebenow.  Sedertdien het ‘n Bekkersdal-marathon en ander voorkamerstories (2012) en Mafeking-pad (2016) ook in Afrikaans verskyn.  Die vertalings het gunstige reaksie ontlok by skrywers soos Andre P Brink, PG du Plessis, Paul C Venter en Pieter Fourie.

Bosman (1905-1951) se vertellings oor die Marico-bosveld en sy karakters is immergroen.  Die skrywer Dana Snyman sê “Bosman swendel met woorde wat jou laat lag, maar aan die einde van elke storie staan jy kniediep in die poel van ju eie menslikheid”. Spesiaal vir die vakansietyd – ná ‘n moeilike jaar – kan luisteraars saans net na die nuus om sewe inskakel vir storievertel op sy beste!