Nuwe middagvervolgverhaal deur Charles J Fourie


Ons nuwe vervolgverhaal Alleenmandaat deur Charles J Fourie begin op 2 Februarie, weeksmiddae net na die 15:00 nuus.

Die verhaal skop af met Gysbert en Katinka Jooste wat na amper 40 jaar se huwelik en kinders grootmaak, en uiteindelike aftrede en die hoop op rus, besluit hulle het genoeg van mekaar en hul huwelik gehad. Hulle besluit om te skei en daarom moet hulle die here-huis op die dorp waar die gesin dan ook meer as 30 jaar gewoon het, in die mark sit en verkoop.

Maar dis nie so eenvoudig nie. Benewens die bemarking en verkoop van die huis, sit Gysbert en Katinka met twee kinders, Janco en Hester, wat hul ouers so ver as moontlik vermy, maar tog geraak word deur die ouers se planne. Die Joostes nader die eiendomsagent, Alet Greeff, en bied haar ’n alleenmandaat aan om die huis te verkoop.  Ook die Joostes se  jarelange getroue huishoudster, Lente Cupido, haar seun Denzil  en sy swanger verloofde Bianca word geraak deur die huisverkopery.

Dan het Katinka Jooste nog kompetisie by haar werk by ‘n reklame-agentskap weens die teenwoordigheid van ‘n jong kopieskrywer Mia. En daar is Bianca se skelm pa, Diedie en sy berugte vriend Gôgo wat ook nog hulle verskyning maak – en ‘n ongemaklike takie moet uitvoer.

In die rolverdeling kan die stemme gehoor word van onder andere Joanie Combrinck, Albert Maritz, Rolanda Marais, Cole Wessels, Chloe van Rooyen en June van Merch.  Die regisseur is Anrich Herbst.

Voor: Rolanda Marais, Chloe van Rooyen, Cole Wessels.
Agter: Andre Samuels, Anrich Herbst (regisseur) Joanie Combrinck & June van Mersch.
Heel agter: Albert Maritz.

Video 1:  Joanie Combrinck & June van Mersch.

Video 2:   Cole Wessels & Choe van Rooyen.