Ons middagvervolgverhaal op RSG tel spoed op


Die veteraanskrywer van radiodramas en vervolgverhale, Joe Kleinhans het ‘n spiksplinternuwe middagvervolgverhaal vir RSG geskryf.  Ou liefde roes, het op 23 Junie begin.

Maar dis nie te laat om op te vang nie. Luister net na die vorige episodes op potgooi:

https://www.rsg.co.za/rsg/potgooi-resultaat?_sft_category=middagvervolgverhaal-potgooi

Die storie
Die verhaal speel af in Wingerdsvlei. In die dorp is daar die Radlofs, Sonja en Pietman, en hulle dogter Tersia wat met die dambouer Rossouw Rossouw gaan trou. Rossouw is die susterskind van Angie Nagel, die vrou wat Pietman Radlof 28 jaar gelede voor die kansel gelos het om met Sonja te trou.

Sonja werk as bemarkingsbestuurder op die Marais-landgoed, waar Buks Marais die wynmaker is. Buks se vrou Michelle is twee jaar gelede skielik landuit, sonder om ‘n siel te groet.  Dan is daar ook Florence Viljoen, Tersia se ouer vriendin en voormalige redakteur van die plaaslike koerant, en Glennis de Bruyn, die barrista by die kwekery se koffiehuis.

Glennis se kêrel is die plaasvoorman by die Marais-landgoed, Dennis September.  Intussen word die dambouery in die omgewing kort-kort gestaak omdat daar ‘n liggaam onder die damsand uitgegrawe word. Spoedig gons dit op die dorp. Die dorp se privaatspeurder, Andries Roux, het sy hande vol,  maar die raaisels verdiep.

Spelers
Van die akteurs wat gehoor kan word sluit in Jana Strydom, Ira Blanckenberg, Albert Maritz, Dean Balie, Marion Holm, Karli Heine, Anrich Herbst en Simone Benjamin.  Die regisseur is Frieda van den Heever.

Ou liefde roes, deur Joe Kleinhans word op weeksmiddage om 14:45 uitgesaai.