Nuwe middagvervolgverhaal vanaf 15 Sept: ‘Die spoke van Duinebult’


Die nuwe middagvervolgverhaal,  Die spoke van Duinebult, deur Ronel Mostert, begin op 15 September.

Duinebult is ’n fiktiewe vissersdorpie aan die weskus van die Noord-Kaap. Agter die  ongekunsteldheid, is daar egter ook baie spoke en geheime agter die oënskynlike rustigheid.

Die storie

Die burgemeester is  Steward Hanekom. Die inwoners kyk op na hom en glo hy probeer Duinebult teen onwettige perlemoenstropers en indringers beskerm. Sy vrou Evelyn het haar eie boetiek op die dorp en is ook die eienaar van die hotel. Sy het ’n baie goeie hart en dit maak dat sy baie keer misbruik word. Veral deur haar broer, Gys.

Du Preez Lategan is ’n bekende skrywer en 4×4 gids wat op Duinebult intrek. Daar is gerugte dat hy betrokke is by perlemoenstropery, en dalk meer weet oor die verdwyning van Piet Bakkievanger as wat hy wil voorgee. Die skilder, Jana Blignaut vlug uit Johannesburg en kom vestig haar op Duinebult, waar sy hoop niemand haar sal herken nie. Sy koop die huis wat Piet Bakkievanger voor sy verdwyning gehuur het. Jana en Du Preez is van die begin af haaks, maar Trix Viviers laat haar nie daardeur afsit nie. Trix is die plaaslike haarkapster en sy speel graag cupido. Daar is min dinge op die dorp waarvan sy nie weet nie.

Tryna Bloukaap bied haar dienste as huishoudster aan Jana aan. Tryna is ‘n weduwee en sy en haar dogter Vytjie het dit nie breed nie. Vytjie moet die skool verlaat omdat sy swanger is… maar wie is die pa van haar kind? Dan is daar ook nog Pastoor Benjamin Veldsman wat moet sorg en vermaan. Hy is maar alte bewus van die dorp se spoke…

Stella werk in haar skoonsuster Evelyn se boetiek. Haar man Gys is Evelyn Hanekom se broer. Hy is ’n onderwyser op die dorp, maar hy drink te veel en Stella loop dikwels deur. En Gys is ‘n doring in die vlees van sy burgemeester-swaer. Wikus, Jana se eksman, is intussen met Armani, ’n voormalige model getroud. Wikus kom egter sy fout agter en wil Jana terugwen. Maar wat sal Armani doen om haar huwelik te beskerm?

Wat het geword van Piet Bakkievanger? Hy het verdwyn kort nadat Du Preez op die dorp aangekom het. Emily Swartbooi is Piet Bakkievanger se suster. Piet het vir haar en haar seun Thys gesorg, nadat Emily en Tryna se mans een aand op ’n visserskuit verdrink het.

Speurder Theron het sy hande vol om die verdwyning van Piet Bakkievanger op te los, maar het self ‘n paar geraamtes in die kas. Is Gert van Dyk net die kroegman van die dorp se hotel of speel hy ’n groter rol in Duinebult se geheime? Gaan Riekie Ruiter se los tong haar nog duur te staan kom of help sy om die raaisel op te los sonder dat sy dit weet?

Pietie Beyers

Mandi Du Plooy Baard

Dit is van die geheime en intriges van die inwoners van Duinebult wat hulle oor 60 episodes sal uitspeel.

Die rolle en akteurs is:

Evelyn – Mandi Baard

Steward – Anton Schmidt

Du Preez – Pietie Beyers

Jana – Karen Wessels

Trix – Estel de Beer

Riekie – Ria Smit

Stella – Bertha le Roux

Gys – Philru van Achterberg

Tryna – Shemaine Harris

Vytjie – Sue Pyler-Slabbert

Thys – Donovan Pietersen

Speurder Theron –  Botha Enslin

Armani – Mari Molefe van Heerden

Dawie – Tobie Cronje

Pastoor – Johny Klein

Wikus – Luan Jacobs

Piet Bakkievanger – Solomon Cupido

Die regisseur is Johny Klein.

Die middagvervolgverhaal word weeksdae om 14:45 uitgesaai.

Die 1e episode:
Riekie vertel vir Trix van die nuwe aankomeling op die dorp. Wie is sy en wat kom doen sy op Duinebult?

Tryna stel haarself aan Jana bekend en bied haar hulp aan om die huis leefbaar te maak.

Hoekom is Gert so ontsteld nadat Jana by die hotel aangekom het? En hoekom rep niemand ’n dooie woord oor Piet nie?

Luister na die 1e episode: