Ons huldig Dolf van Niekerk


Ons bring hulde aan die skrywer, dramaturg en digter Dolf van Niekerk, wat op Oujaarsdag 2022 oorlede is. Hy was een van die veelsydigste woordmense in Afrikaans met verskeie romans, kortverhale, radiodramas en digbundels op sy kerfstok. Van Niekerk het ook ‘n groot aandeel gehad in die sukses van Afrikaanse radio. Jy kan luister na ‘n dokumentêr wat Ina Strydom in 2019 saamgestel het ter viering van sy 90e verjaarsdag. In sy internasionale insetsel bring Johan Myburg hulde aan die Britse skrywer Fay Weldon. Hy vertel meer oor die Skotse digter Robert Burns se verjaarsdagvieringe, en bespreek twee boeke vir leunstoelreisigers.

Die bekroonde en veelsydige skrywer, Dolf van Niekerk, is op Oujaarsdag, 31 Desember 2022, in Pretoria in die ouderdom van 93 oorlede. RSG saai vandeesweek huldigingsprogramme uit om sy nagedagtenis te eer. Dolf van Niekerk se reis as voortreflike woordsmid is onlosmaaklik verweef met die Afrikaanse radio en die SAUK waar hy sy loopbaan begin het. Ons gesels oor sy filosofiese kant. Prof. Johann Rossouw is ‘n dosent in filosofie by die Universiteit van die Vrystaat, en praat met ons oor dié skrywer, dramaturg en digter wat hy sy lewe lank bewonder het. Ons hoor ook ‘n bydrae uit die SAUK se klankargief waar Dolf van Niekerk gesels oor sy radioloopbaan by die Afrikaanse Diens in die 1950’s.