Ons nuwe vervolgverhaal “Bly hardloop” begin Vrydag
Bly Hardloop, deur Mari Snyman, is die nuwe middagvervolgverhaal wat op RSG begin vanaf 9 Mei, elke weeksdag om 14:45 tot 15:00.
Die storie
Die belofte in feëverhale en sprokies dat twee mense wat mekaar liefhet, trou en lank en gelukkig saam lewe, gebeur nie altyd in die werklike wêreld nie. Werk, stres, familie- en gesinsprobleme, siekte en aanslae deur ander kry soms die oorhand. Dit is wat met die Meyers gebeur in RSG se nuwe middag-vervolgverhaal, Bly Hardloop.
Magriet Meyer hardloop elke dag kilometers ver om te help baklei teen haar kommer en angs oor haar kinders, Elsa en Sam, veral oor Elsa se verkeerde keuses, haar veeleisende ma, Petro, haar suster, Lynette wat nooit liefde ervaar het nie, en haar man, Ben. Sy voel soms asof die las op haar skouers te groot is. Maar sy bly altyd lief vir haar mense. En sy oorkom noodgedwonge die een struikelblok na die ander.
Bly Hardloop is geskryf en word in Johannesburg opgevoer deur Mari Snyman.
Die spelers is Elma Potgieter, Anton Schmidt, Heidie Mollentze, Rina Nienaber, Louise Eksteen, Charlie Bouguenon, Ilse Klink, Andre Stolz, Donovan Pietersen, Stephanie Baartman, Andreas Jordaan, Zinhle Mathibela, Antowan Nothling en Deoudoné Pretorius.
OOR MARI SNYMAN
Ek het as kind baie gelees – ‘n paar boeke ‘n week. Ons het ‘n skoolbiblioteek gehad, en my ma het ons Saterdagmiddae na Pretoria se stadsbiblioteek toe gevat om boeke uit te neem. En ek het alles gelees wat my pa, C.F. Beyers-Boshoff, geskryf het. Op hoërskool het ek hom gehelp skryf – meestal rubrieke vir tydskrifte (wat hy woes geredigeer het). Ek het ook vir hom titels uitgedink, veral vir sy fliekdraaiboeke, waarvoor hy my dan R10 betaal het. Dit was baie geld in die vroeë sewentigs.
Ek het eers in my dertigs self begin skryf vir radio. Tussendeur het ek vir dertien jaar draaiboeke vir die eerste groot Suid-Afrikaanse sepie, “Egoli, geskryf. Radio was nog altyd my groot liefde. Naas lees prikkel radiostories mens se verbeelding die meeste. Jy leer karakters ken en vorm jou eie beeld van hulle. Daar is nie ‘n ‘dop’ soos op televisie of in flieke nie.
Ek skryf graag stories oor mense – oor hulle vreugdes, hulle drome, hulle vrese, hulle hartseer en hulle liefde vir mekaar. En ongelukkig ook hoe hulle mekaar kan seermaak. Om K.I. te gebruik is nie vir my nie. Ek het al te lank gelewe, te veel mense geken en leer ken en ook te veel vreugde en hartseer ervaar. Idees vir stories en karakters is deel van my lewe. Waarskynlik omdat ek alleen bly en my verbeelding my nog altyd soos ‘n tower-tapyt laat vlieg het.
DIE KARAKTERSKETSE
BEN MEYER: (ANTON SCHMIDT) Hy is ‘n algemene praktisyn met ‘n gevestigde praktyk. Hy is geliefd by sy pasiënte, want hy doen moeite en gee om vir hulle. Hy is op die oog af joviaal en sjarmant, maar het sy eie wroegings. Hy wou spesialiseer maar het nooit deurgedruk daarmee nie. Hy is lief vir sy vrou, maar voel soms geïntimideer deur haar. Sy verhouding met sy seun, Sam, is wankelrig, waarskynlik omdat hy bedreig voel deur Sam se uitstekende verhouding met sy ma. Maar hy sal hy dit nooit erken nie. Ben en Elsa, sy dogter, kom goed klaar.
MAGRIET MEYER: (ELMA POTGIETER) Ben se vrou. Sy gee klas by ‘n kollege waar sy studente leer om juwele en ook gebruiksartikels te maak uit materiaal wat maklik bekombaar en gratis, of baie goedkoop is, soos byvoorbeeld herwinbare produkte soos glas, blik, plastiek en so aan. Sy is ook betrokke by liefdadigheidsprojekte, en doen veral opheffingswerk. Sy is lief vir tuinmaak en het haar eie groentetuin. Sy is omgewingsbewus en herwin alles wat sy moontlik kan. Magriet is in ‘n mate ‘n geslote boek – sy gee nie maklik van haarself nie, ten spyte van die feit dat sy uitreik na minder bevoorregtes. Sy voel dikwels angstig, maar baklei daarteen deur superfiks te wees en elke dag kilometers ver te draf. Sy is lief vir haar man, maar hulle stem nie altyd saam oor dinge nie. Sy en haar seun is baie na aan mekaar, maar sy en haar dogter stamp gereeld koppe.
ELSA MEYER: (LOUISE EKSTEEN) Ben en Magriet se dogter – die oudste van hulle twee kinders. Sy is ‘n rebel en altyd stroomop. Sy is musikaal en wou na skool haar saksofoon in klubs gaan speel om ‘n lewe te maak. Ben was te vinde daarvoor, maar Magriet het aangedring dat sy gaan studeer. Sy het onwillig ingestem, maar het toe van krag tot krag gegaan. Haar belangstelling is letterkunde. Sy het ‘n verhouding aangeknoop met haar professor en ‘n kind by hom gehad. Sy het die kind probeer grootmaak op haar eie, maar toe dit te veel word vir haar het sy ingestem dat die kind by die professor en sy vrou gaan bly. Sy speel tans saksofoon in ‘n klub. Elsa is nie gesondheidsbewus nie en drink soms te veel.
SAM MEYER: (CHARLIE BOUGUENON) Hy is ‘n model-kind. Sy groot liefde en belangstelling is flieks. Hy droom daarvan om eendag ‘n film-regisseur te wees. Maar, omdat hy weet daar is nie baie geleenthede daarvoor nie, het hy ingenieurswese studeer – ‘n praktiese keuse. Hy werk as ‘n junior by ‘n ingenieursfirma en sy werk is uitstekend. Hy is veral goed daarmee om probleme op te los. Sam en sy ma doen gereeld dinge saam – soos hardloop, fliek en op uitstappies gaan om materiaal te soek vir Magriet se klasse en projekte. Sam het nog nooit ‘n ernstige verhouding met ‘n meisie gehad nie en sy pa suggereer dis omdat hy gay is, wat nie die geval is nie. Hy is eintlik net doelgerig en werk hard aan ‘n goeie toekoms.
PETRO DE VILLIERS: (RINA NIENABER) Magriet se ma. Sy is ‘n moeilike mens en baie veeleisend. Sy glo vas sy is nooit verkeerd nie. Sy besit ‘n hotel in Mpumalanga wat sy geërf het na haar man se dood ongeveer tien jaar gelede in ‘n skietongeluk, maar Petro is oortuig hy het sy eie lewe geneem. Hulle huwelik was nie juis gelukkig nie – hoofsaaklik omdat sy as kind gemolesteer is deur haar ma se broer. Sy het dit nog nooit aan iemand erken nie. Dit kom later in die storie uit na ‘n emosionele katarsis.
LYNETTE DE VILLIERS: (HEIDI MOLLENTZE) Petro se jongste dogter en Magriet se suster. Sy is ‘n onseker mens wat moeilik aanklank vind by ander. Sy is nooit getroud nie en het nooit liefde gevind nie. Sy help haar ma in die hotel. Lynette is ‘n staatmaker, maar glo nie in haarself nie en word deur haar ma geïntimideer. Totdat sy besluit genoeg is genoeg en aan haarself begin dink.
SASHA FOURIE: (STEPHANIE BAARTMAN) Ben se ontvangsdame en verpleegster in sy praktyk. Hy maak baie op haar staat. Sy verafgod hom (en is heimlik verlief op hom) en sy sal enige iets vir hom doen. Sy is vriendelik, behulpsaam, vrolik en ‘n goed aangepaste mens.
WILLEM ELS: (ANDREAS JORDAAN) Die pa van Elsa se kind. Hy wil die kind wat hy en Elsa saam het aanneem, maar sy wil nie toestemming gee nie. Sy probeer hom op die manier dwing om sy vrou te los en saam met haar te bly, maar sonder sukses. Willem is arrogant en vol van homself. Baie aantreklik en bewus daarvan. Hy is ‘n misoginis – nie soseer ‘n vrouehater as wat hy vroue misbruik en as kommoditeite beskou nie.
ANSIE ELS: (ILSE KLINK) Willem se vrou. Sy is baie lief vir hom maar laat Willem boete doen omdat hy ‘n kind gehad het saam met een van sy studente (Elsa). Maar sy is lief vir die kind en probeer alles in haar vermoë om die kind te behou. Sy is op ‘n manier obsessief daaroor. Sy ly aan depressie en is onvoorspelbaar.
DUSTIN GREYLING: (DONOVAN PIETERSEN) ‘n Losbol en ‘n kansvatter. Hy werk as kroegman in die klub waar Elsa gigs speel, en hy probeer sy bes om in haar goeie boekies te kom. Sy knoop ‘n aan-en-af-verhouding met hom aan, maar het geen ernstige gevoelens vir hom nie. Sy doen dit net om haar ma te tart.
KURT VAN DEN BERG: (ANTOWAN NOTHLING) Hy is ‘n wewenaar en werk in die Ongevalle-afdeling van die hospitaal waar Ben sy praktyk het. Hulle is bevriend en hy werk soms in Ben se praktyk wanneer Ben nie beskikbaar is nie. Hy is saggeaard en meelewend.
DAVID ROELOFSE: (ANDRE STOLZ) Hy besit verskeie plase in Mpumalanga. Baie ryk, baie sjarmant en baie lief vir vroue. Gladde mond. Hy was al ‘n paar keer getroud, maar sy eintlike liefde is Magriet. Hulle het mekaar as jongmense goed geken, maar die gevoel was nooit wederkerig nie.
ISABEL MAREE: (ZINHLE MATHIBELA) Sy is briljant, maar lewe in ‘n kokon. Sy is gestrem (kan nie loop nie) en bring baie tyd aanlyn deur. Sy is positief, voel nie jammer vir haarself nie, maar sy begeer normale vriendskap en selfs ‘n verhouding, alhoewel sy weet hoe moeilik dit sal wees.
JACKIE STRYDOM: (DEOUDONE PRETORIUS) Een van Magriet se studente oor wie sy haar ontferm. Vriendelik en behulpsaam. Sterk inbors. Sy sal enige iets vir haar doen. Sy het baie arm grootgeword, maar hy werk hard en Magriet het gesorg dat sy ‘n beurs kry.
Die uitsending begin op Vrydag 9 Mei en duur tot Donderdag 31 Julie. Bly Hardloop is ook beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van elke uitsending.

Heel agter van links na regs: Charlie Bouguenon, André Stolz, Andreas Jordaan en Anton Schmidt. Voor vlnr: voor Louise Eksteen, Ema Potgieter-, Heidi Mollentze, Rina Nienaber en Donoven Pietersen.