Ons toekomsfiksie-vervolgverhaal is Dor


Dor is ‘n toekomsfiksie vervolgverhaal wat in die Klein Karoo afspeel gedurende die grootste droogte wat Suid-Afrika nog beleef het.

Dor het op Maandag 18 September begin en is ons nuwe middag-vervolgverhaal. (Die potgooie van die eerste episodes is onderaand die artikel, om seker te maak dat jy maklik weer kan inhaal indien jy een of meer misgeloop het.)

Die storie

Ons hoofkarakters is vasgevang in ‘n wêreld wat beheer word deur ‘n drakoniese staatsisteem.

Vlak 5 waterbeperkings is aan die orde van die dag, met burgers se vryheid wat terselfdertyd ook verdamp het. Saam met die damme en riviere wat opgedroog het, het die mense se wil en begeerte vir vryheid van spraak en beweging ook verdwyn. Maar erger nog: die wil om te lewe is dor gelaat.

Almal word beheer en volg maar net slaafs die regulasies. Die dors na ‘n volgende sluk water oorheers alles. Elke druppel tel en daar is nie genoeg vir almal nie.

Tog is daar ‘n paar helde wat besluit om op te staan teen die sisteem. Gewone mense wat op ‘n ongelooflike reis vetrek opsoek na menslikheid, liefde, deernis en die belangrikste, water vir almal.

Dor is ‘n vervolverhaal vol aksie, avontuur, drama en liefde. Dis ‘n storie wat jou twee keer sal laat dink oor jou volgende sluk water.

Die skrywer is Anton Treurnich en die regisseur is Johny Klein.

Die skrywer

Anton Treurnich vertel meer oor die storie en die storie-idee:

Die karakters en rolverdeling

Die Hoofkarakters

Die rolverdeling sluit bekendes in soos Karen Wessels, Vinette Ebrahim, Philru van Achterberg, Donovan Pietersen, James Borthwick, Claudia Jones, Bertha Le Roux-Wahl, Mortimer Williams, Marina Coetzee, Kevin Smith, Solomon Cupido, Christine Voorendyk, Francois van Rensburg, Botha Enslin en Rika Sennet.

Karen Wessels

MIA FOURIE  – Vertolk deur Karen Wessels
(35) Geskei, haar kinders bly by haar ouers in Limpopo. Probeer haar lewe bymekaar hou met roetine van werk en nog werk. Volg nie nuus nie, maak nie sommer vriende nie en gaan nie baie uit nie.
Iets in haar krap al van jongs af teen ongeregtigheid. Veral teenoor ander wat swakker is as sy self.

 

Vinette Ebrahim

LUCIA JONES – vertolk deur Vinette Ibrahim
(65) Het al die lewe ervaar in al sy fasette. Wys genoeg om van buite af na probleme te kyk. Heel natuurlik vir haar om die regte ding te doen.
Lief om oor die “ou dae” te praat.

 

Philru van Achterberg

RIKUS WOEST  – vertolk deur Philru van Achterberg
(45) Was eers ‘n boer, maar het as gevolg van die droogte stad toe getrek. Goed gemanierd maar koud emosioneel.
Kwaad vir alles en almal. Te veel bravade en te min beplanning in alles wat hy doen.

 

Donovan Pietersen

CALEB MUKKADEM – Vertolk deur Donovan Pietersen.
(38) Groter as lewens groot. ‘n Pierewaaier, wat hou van flankeer en grootpraat. Maar as dit kom by om ‘n terroris te wees is hy net ‘n bietjies te goed daarin.
Alles het nog altyd vir hom maklik uitgewerk, maar hoe gaan hy reageer as dit die dag regtig moeilik gaan?

 

James Borthwick

MAX TRIGHARDT – vertolk deur James Borthwick
(60) Reëls en regulasies maak vir hom sin. Chaos maak hom bang. Volgens hom kom die bevele om die regte ding te doen altyd van bo af. Soos die storie aangaan sal hy die status quo begin bevraagteken.
Hy is sy hele lewe al deel van die polisiemag, nes sy pa en oupa.

 

Claudia Jones

RACHEL DE CAAB – vertolk deur Claudia Jones
(30’s) Het hard gewerk om ‘n polisiespeurder te wees. Die droogte het nie haar spoed gebreek nie. Sy werk hard en sorg goed vir haar kinders. Klein dinge begin haar pla oor die manier wat die droogte bestuur word en hoe sy bevele moet uitvoer.
Sy vra baie vrae en wil ‘n verskil maak, maar sukkel om genoeg moed bymekaar te skraap om teen die owerhede in opstand te kom.

Die by-karakters

Kevin Smith

ROBBIE (RINKALS) LOUW  – vertolk deur Kevin Smith
(50) Man van die Aarde. Altyd optimisties. Ken elke klip en bergreeks. Wil die beste hê vir die mense in die “no go zone”. Verlief op Deborah en sal enige iets vir haar doen. Ewige hoop dat goed weer eendag weer sal terugkeer na normaal.

Bertha le Roux-Wahl

DEBORAH (DEBS) VOSTER – vertolk deur Bertha le Roux-Wahl
(43) Leier van die mense in Klaarstroom. Hou nie van verandering nie en glo dat haar seun eendag weer sal huis toe kom. Sy glo sy is baie prakties in haar sienings, maar tog word sy deur haar emosies gedryf.

Mortimer Williams

STORM – vertolk deur Mortimer Williams
Het homself heeltemal verloor in die idee van “Die Poort”. Hy glo die manier wat hulle goed doen is die enigste manier om te oorleef. Hy is ‘n spanspeler wat nie te veel dink oor wat hy doen of wat die gevolge kan wees nie.

Marina Coetzee

MISTY – vertolk deur Marina Coetzee
Leier van die kultusgroep in “Die Poort” Die lewe het haar baie sleg behandel; meestal was dit haar eie skuld dat ander haar misbruik het. Die Poort is haar kans om beheer te neem oor wat met haar gebeur en sy gryp dit met albei hande aan. Sy doen wat nodig is om nie weer oophand voor mans te staan nie, om nie weer na die ontvlugting van dwelmmiddels te smag nie.

Solomon Cupido

BOUW ADAMS  – vertolk deur Solomon Cupido
(25) “The last bee keeper” het by die omstandighede rondom hom aangepas. Hy weet hoe om met die natuur te werk en sorg vir die mense in sy “kolonie” van die plante tot die bye. Vir hom gaan dit oor baie meer as mense. Hy is partykeer so besig dat hy nie kan agterkom dat Lucy halsoorkop verlief is op hom nie.

LUCY VAN WYK – vertolk deur Christine Voorendyk
(23) Halsoorkop verlief op Bouw. Tevrede met haar lewe in haar kolonie. Tot alles vir hulle verander. Sy vind uit – tot haar en al die ander se verbasing – dat sy baie meer het om te bied.

Botha Enslin

ROMULUS – vertolk deur Botha Enslin
(40) Die ouer “broer” van Remus. Hulle werk al vir jare saam in die myne en voer ‘n skrikbewind waar hulle ook-al gaan. Vir hulle gaan dit oor mag. Romulus glo hy is die slimmer een van die twee, maar hulle is albei aan die dom kant.

Francois van Rensburg

REMUS – vertolk deur Francois van Rensburg
(35) Jonger en meer aggressief as sy ouer “broer” Moet kort-kort onder beheer gebring word. Doen die snaakste en domste goed sonder om aan die gevolge te dink. Hulle is nie bloedbroers nie, maar kon netsowel gewees het. Hulle is enersyds die snaakse en lompe “Laurel en Hardy”, maar aan die anderkant is hulle uiters gevaarlik en gevoelloos.

Rika Sennett

RUBY VAN AARDE – vertolk deur Rika Sennet
(60) Sy was een van die argitekte vir die wêreld van DOR. Sy het geglo dat totale beheer oor die water dit moontlik sou maak om meer mense, eintlik almal,  te help. Maar gou het sy agtergekom dat totale beheer gelyk is aan totale misbruik. Sy probeer vergoed vir al haar foute. Sy is ‘n goeie mens, maar te lank in die politiek om nie haar eie beswil voor-op te stel nie.

Die spelers

Die regisseur, van die spelers en die klank- en tegniese versorger. Voor van links na regs is Dipalesa Motau, Karen Wessels, Bertha le Roux-Wahl, Vinette Ebrahim, Philru van Achterberg en Johny Klein (heel regs). Agter is Kevin Smith, Claudia Jones, James Borthwick en Mortimer Williams.

Luister hier na die eerste episodes indien jy dit misgeloop het:

Episode 1: Mia Fourie en haar buurvrou, Lucia Jones, bly in ‘n Suid-Afrika wat gebuk gaan onder die ergste droogte in die geskiedenis. Vir langer as twee jaar is daar ‘n noodtoestand en Vlak 5 waterbeperkings. Max Trighardt en Rachel de Caab is deel van die polisiemag wat die streng inperkings moet toepas. Ons ontmoet ook vir Caleb Mukkadiem, ‘n waterhandelaar, wat meer as net water verkoop.

Episode 2: Max en Rachel begin hulle soektog na waterterroriste. Caleb probeer Mia oorreed om deel te word van sy stryd teen die stelsel. Lucia het haar man onlangs verloor, en wil sy as in die see gaan strooi. Hiervoor sal sy die wet moet oortree. Sy het ‘n briljante plan om die pas te kry wat sy nodig het.

Episode 3: Mia kan nie kontak maak met haar kinders in Australië nie. Sy kry ook nie toestemming om oor provinsiale grense te reis om haar ouers te sien nie. Sy begin daaraan dink om deel van Caleb se weerstandsbeweging te word. Max en Rachel soek iemand wat hulle kan gebruik om hierdie weetsandsbewegings te infiltreer. Hulle ontmoet vir Rikus Woest…

Episode 4: Rikus besluit om saam met die polisie te werk as ‘n onderdekkingsagent. Lucia kry twee passe in die hande om see toe te gaan. Sy nooi vir Mia saam. Daar is ‘n klomp reëls waarby jy moet hou as jy see toe gaan, en Lucia is nie van plan om daarby te hou nie.

Episode 5: Rikus en Caleb ontmoet mekaar. Rikus wil deel word van Caleb se ondergrondse beweging, maar Caleb kan nie so maklik oorreed word nie, tot Rikus vir Caleb iets aanbied waarvoor hy nie kan nee sê nie. Mia en Lucia is op die strand, en soos dit later word, besef Mia dat Lucia nie net daar is om van haar man se as ontslae te raak nie.

Episode 6. Mia besluit om deel te word van Caleb se ondergrondse weerstandsbeweging. Caleb het net een voorwaarde – dat sy haar werk hou. Hoekom? Max se generaal-baas wil resultate hê. Hulle moet van die terroriste begin arresteer. Max en Rachel vind uit dat daar ‘n groot watervrag vervoer gaan word. Sal die weerstandbeweging dit probeer kaap?