Ontmoet Estel de Beer, ons nuwe ‘drama-baas’


Estel de Beer aan die werk

Estel de Beer het in Mei aangesluit by RSG as die Senior Regisseur: Mandaat, wat verantwoordelik is vir die stasie se drama- en opvoedkundige programme.

Estel het die eerste keer agter die mikrofoon ingeskuif in die RSG vervolgverhaal Ratels, waarin sy die rol van Bankies vertolk het.

Die radiogogga het gebyt en nadat sy haar LLB aan die Universiteit van Pretoria voltooi het, het sy as omroeper en vervaardiger by ‘n gemeenskapsradiostasie gewerk.

Die akteurs van Ratels saam met Leon van Nierop met die bekendstelling van die boek Ratels by die SAUK. Estel is vierde van links, agter.

Wat het jou aanvanklik na die wêreld van radio gelok?

Regstreekse uitsendings skrik haar nie af nie.

Vandat ek die eerste keer in die ateljee gekom het was dit net lekker gewees. Mense sê altyd jy kan nie van alles by jou werk hou nie, maar by radio het ek gevind dat daar bitter min aspekte is wat nie vir my vervullend is nie. Die beste plek om radio te leer is by mense is wat dit doen. Ek is gelukkig dat ek in verskeie velde van radio kon werk van drama tot nuus, aktualiteit en joernaal. My pad het gekruis met goeie mentors en vriende by wie ek kon leer. Daarom kan ek sê dat dit die mense is wat my uiteindelik na die wêreld van radio gelok het. Mense verskil en verstaan die wêreld anders, elke dag werk ek saam met uiteenlopende persoonlikhede, maar ek sal dit glad nie anders wil hê nie. Dit maak my gelukkig.

Behalwe jou werk by die radiostasie, wat is van jou ander belangstellings en stokperdjies waaroor jy passievol is?

Ek en my man, Michael is lief vir die buitelewe. Ons het hierdie jaar die Otter-staproete asook die Olifant-staproete in die Wildtuin voltooi. Suid-Afrika is pragtig. Die beste manier om die land te verken is te voet, met geen selfoonsein en ‘n baie ligte rugsak. Ek dink maklik ek is fikser as wat ek regtig is, en dit het al tot interessante bergfietswedrenne gelei.

Estel en haar man, Michael op hul gradeplegtigheid

Estel en haar man Michael woon die Radio Awards by. Sy ontvang ‘n Radio Award vir die beste promosiegeleentheid deur gemeenskapsradiostasies

Op die Otter staproete

Op die Otter staproete

Wat is ‘n plek wat jy nog altyd wou besoek of ‘n reisavontuur wat jy graag eendag sou wou aanpak?

Ek droom daarvan om fietstoer deur Nederland te doen. Daar is familiegeskiedenis in Nederland en ek wil graag die plekke verken. Verder droom ek daarvan om met ‘n rugsak deur Oos-Europa te reis en soveel museums, teaters en staproetes as moontlik te besoek.

Wat sou jy sê is die mees onderskatte aspek van werk in die radiobedryf waarvan mense dalk nie bewus is nie?

Jy hoef nie ‘n kenner van elke veld te wees nie, maar jy moet weet hoe om met mense te praat wat wel kenners is. Dan moet jy ook oor redelike administratiewe vaardighede beskik. Om elke dag, sewe dae ‘n week programme op lug te hê verg baie beplanning.

Wat is ‘n doelwitte wat jy het met betrekking tot jou loopbaan?

Die radio-omgewing en mense in radio het vir my ‘n plek gebied waar ek kon floreer en groei. Ek hoop om in my werk ook so omgewing vir mense te skep. Alles verloop nie altyd seepglad nie, maar as jy in ‘n positiewe omgewing werk kan mens wel goed saamwerk. RSG is reeds vir my so ruimte, en ek hoop om dit vir die mense om my te wees.

Estel was mede-aanbieder van kykNET TV-reeks, Op die skouers van reuse.